Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Pessiekte wat bestempel word as die ergste ramp in menseheugenis het drie dae lank dood en paniek gesaai oor die lengte en breedte van die land. Volgens die jongste syfers tot ons beskikking het daar altesaam sewentig duisend mense omgekom.

Die pes het gister, drie dae nadat dit die eerste keer toegeslaan het, net so stilweg verdwyn as wat dit gekom het. Die enigste deel van die land wat die pes vrygespring het, is Jerusalem self. Mense het tot so naby as die dorsvloer van Arauna die Jebusiet van die pes gesterf, maar die Dawidstad het onbesmet gebly. Laat gistermiddag het koning Dawid die dorsvloer by Arauna gekoop en daar ’n altaar vir die Here gebou en brandoffers en maaltydoffers gebring uit dankbaarheid dat die pes verby is.

 

Profeet daag volk uit om God te toets

JERUSALEM. – Die profeet Maleagi het gister hier in ’n striemende aanval die volk daarvan beskuldig dat hulle van die Here steel omdat hulle nie die tiendes en offergawes wat hulle aan Hom verskuldig is, ten volle bring nie.

Hy het die volk uitgedaag om God te toets. Hy het gesê as hulle die volle tiende na die tempel bring, sal God vir hulle in sy oorvloed sorg: Hy sal reën uitgiet en die sprinkaanplae van hulle weer, sodat hulle oeste vol en ryk sal wees.

Dis nie die eerste keer dat Maleagi met die volk swaarde kruis nie. Hy het hom ook al uitgespreek oor die wyse waarop die erediens onteer word, oor die huwelikslewe en die volk se gebrek aan ’n lewende toekomsverwagting. Tog bring hierdie gesant van God nie net oordeelsprediking nie, maar herinner hy die volk voortdurend aan God se liefde.

 

HULPFONDS GESTIG VIR NOODLYDENDES IN JUDEA

Van ons Nuwe Testament redaksie

ANTIOGIË. – Die nuwe godsdienstige sekte wat hier die bynaam “Christene” gekry het, het besluit om ’n hulpfonds te stig om hulle medegelowiges in Judea by te staan. Dit is bekend dat die wêreldwye hongersnood die mense van Judea besonder swaar getref het.

Die geld word tans ingesamel by die verskillende gemeentes in Klein-Asië. Nadat die insameling afgehandel is, beoog hulle om die geld saam met Barnabas en Saulus, twee van die leiers van die gemeente alhier, na Jerusalem te stuur.

Volgens Saulus verloop die insameling bo verwagting goed, hoewel daar van die gemeentes is wat nie dadelik op die oproep gereageer het nie. Die gemeentes in Masedonië kry self ook swaar, maar hulle het hom verstom met hulle ruimhartige bydraes tot die fonds. Hy verwag ook om binnekort die beloofde hulp van die gemeente in Korinte te ontvang.

In antwoord op ons vraag na waarom hulle die hulpfonds gestig het, het hy gesê dit is ’n manier om vir God dankie te sê vir al sy goedheid. “Hy sorg elke dag op soveel maniere vir ons. Deur ’n klein stukkie van sy milde gawes op hierdie manier aan Hom terug te gee, sê ons nie net vir God dankie nie, maar help ons sy kinders daar in Judea uit ’n groot nood,” het hy gesê.

 

DRINGEND!

Te Koop Gevra:
’N DORSVLOER
in die omgewing van Jerusalem.
Kontak Arauna die Jebusiet


‘n Offer aan die Here

Presies wat Dawid se sonde was rondom die volksensus is nie heeltemal duidelik nie. Vermoedelik het hy dit gehou om sy ego te streel: só ’n magdom mense het hy onder sy septer verenig.

Hoe dit ook al sy, God laat sy oordeel ophou voordat dit hom en sy huis persoonlik tref. Uit dankbaarheid (en om vergifnis te vra) bring Dawid dan ’n offer op die plek waar die pes gestop het. Arauna wil sommer sy grond en beeste en alles aan sy koning skenk vir die offer, maar Dawid wys sy aanbod van die hand. “Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie,” verduidelik hy (2 Sam. 24:24).

Dit was ook die gesindheid waarin die gemeentes in Masedonië hulle bydraes gegee het, hoewel hulle self dit nie breed gehad het nie. As jou hart vol dankbaarheid teenoor God vir sy goedheid is, het jy altyd iets oor vir sy werk. Dankoffers gee ons immers in die geloof dat God vorentoe só sal voorsien dat ek genoeg sal hê om vir elke goeie werk te kan bydra (vgl. 2 Kor. 9:8).

Wat ’n voorreg om te mag bydra vir God se werk! Wat ’n geleentheid om só deel te kan hê aan die opbou en uitbreiding van God se koninkryk! Kom ons neem God se uitdaging by monde van Maleagi ernstig op.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.