Sondag is dit Moedersdag, wat my gedagtes ver terugvoer na my ma. Sy is nie meer met ons nie. Sy het al in 2014 die hemelsale betree.

Daar is baie dinge wat ek van my ma waardeer. Natuurlik bo alles die feit dat Ma en Pa ons geleer het om soos hulle die Here sonder reserwe lief te hê. En vir al die borde kos en skoon klere. En dat sy ons geleer het om in die huis te help met die skottelgoed en stofsuig en uitvee. Ek sien nou nog die diensrooster op die kombuiskas se deur waar elkeen van ons kinders se werk vir elke dag van die week uitgestippel is. Maandae moes ek die bogang en trap vee; Dinsdae die portaal; Woensdae die kombuisvloer … En die ure wat sy spandeer het om my te help om die wiskunde in te haal toe ons na ’n nuwe skool in ’n ander provinsie getrek het.

My ma het deur die jare deur dik en dun vir Pa ondersteun en bygestaan, swaargekry en dinge ontbeer omdat Ma Pa se roeping om in die Here se diens te staan, heelhartig gedeel het. Ek onthou hoe sy op die sendingstasie vir ons beetblare gekook het, kamma omdat dit net so gesond soos spinasie was. Later het ek verstaan dit was ook omdat daar nie juis ander kos was nie. Maar Ma het dit met grasie gedoen, en ons het nooit aan onsself as arm gedink nie.

Ma het ons geleer om nederig te bly. Sy was saam met ons bly oor wat ons bereik het en heimlik trots op ons elkeen, maar prestasies was nie om mee te spog nie; dit was om voor dankbaar te wees. Ander hoef ook nie daarvan te geweet het nie, want ten diepste was ons prestasies gawes van Bo.

Maar wat ek wil uitsonder is my ma se lewensvreugde. Ek sien nou nog hoe sy handevrywend-glimlaggend in die vertrek inkom met: “Come along, boys and girls!” Sy het ons leer lag. Haar sin vir humor en vreugde oor die lewe sal my altyd bybly as ’n kosbare lewensgeskenk.

Prediker 5:17-19
Ek het ook iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld. Dit kom ’n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk. God gee aan ’n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ’n gawe van God. So ’n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee.

image_pdfimage_print

Views: 84

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.