Israel het ’n nuwe koning op die troon. Baie sal hom dié posisie beny. Maar is dit ’n gemaklike troon waarop die jonge Salomo moet sit?
Bybelkoerant het met die nuwe hoofpriester, Sadok seun van Agitub, gaan gesels oor die uitdagings wat op koning Salomo wag.
Koning Salomo volg ’n groot man op. Sy vader, Dawid, was nie alleen ’n uitnemende militêre strateeg nie, maar ook ’n diplomaat van formaat. Daarby was hy ’n charismatiese leier wat daarin geslaag het om ’n brose twaalfstamme-verbond te verenig en van ’n obskure staatjie tot een van die magtigste ryke van ons tyd uit te bou.
Om sy vader se skoene vol te staan, sal geen geringe taak wees nie. Net die administrasie van die ontsaglike ryk sal al besondere eise aan die jong koning stel. Maar dis nie die enigste uitdaging wat op die koning se skouers rus nie. Dawid het met die blote krag van sy persoonlikheid talle onderstrominge in die ryk in toom gehou. Kort voor sy dood het dié onderstrominge weer tot uitbarsting gekom toe sy seun Adonia met die hulp van vooraanstaande amptenare homself tot koning laat uitroep het. Salomo sal met ’n ferm hand teen sy halfbroer Adonia en sy samesweerders moet optree, anders gaan hulle nog ’n baie groot kopseer word. En dan is daar ook nog die ou, verbitterde aanhangers van koning Saul wat steeds droom van ’n nie-Dawidiese ryk, soos die Benjaminiet Simeï seun van Gera.
Die jong Salomo sit vandag op die troon omdat dit sy pa se wens was. Of hy op die troon gaan bly, sal afhang van hoe hy daarin gaan slaag om die nalatenskap van sy vader te bestuur.
- Lees in 1 Kon. 2:1-12 die raad wat koning Dawid kort voor sy dood vir sy seun Salomo gegee het.
SAMESWEERDERS RY AAN PEN
Benaja “Die Byl” stel prins Adonia, genl. Joab tereg
JERUSALEM. – Die drie groot samesweerders om koning Dawid se troon reeds voor sy dood op te eis, prins Adonia, genl. Joab en hoof-priester Abjatar, het hulle rieme styf geloop toe koning Salomo in ’n blits operasie van hulle al drie ontslae geraak het.
Koning Salomo was aanvanklik baie toegeeflik teenoor sy halfbroer Adonia, in die hoop dat Adonia daarin sou berus dat hy nie die troon geërf het nie. Dit het egter gister aan die lig gekom dat Adonia steeds sy tande vir die troon slyp. Hy het naamlik gevra om die Sunemmitiese meisie Abisag, wat wyle koning Dawid se laaste byvrou was, as vrou te kry.
Koning Salomo het dié versoek as die begin van ’n nuwe aanslag op sy troon vertolk, en onmiddellik aan die hoof van sy lyfwag, Benaja seun van Jojada, opdrag gegee om Adonia tereg te stel.
Die koning het ook teen hoofpriester Abjatar, die enigste oorlewende nasaat van priester Eli van Silo, opgetree. Uit eerbied vir die priester se amp het hy hom nie laat teregstel nie, maar net afgedank en uit Jerusalem verban. Die priester Sadok sal nou die nuwe hoofpriester wees.
Die hoof van die leër, genl. Joab seun van Seruja, het teen dié tyd besef dat sy dae getel is. Hy het by die altaar in die heiligdom van die Here gaan skuil. Dit het egter nie verhoed dat Benaja “Die Byl” (soos hy na die teregstellings genoem word) hom dood nie.
’n Woordvoerder van die koning het laat gistermiddag bekend gemaak dat Benaja seun van Jojada tot generaal bevorder is, en aangestel is as die nuwe hoof van die leër.
Koning Salomo het intussen ook teen ’n vierde potensiële teenstander opgetree. Hy het Simeï seun van Gera verbied om die hoofstad te verlaat.
- Lees dit in 1 Kon. 2:13-47.
Ons het wysheid nodig vir die lewe
Die eerste hoofstuk van Salomo se koningskap is met bloed geskryf. ’n Mens sou ’n paar dinge oor hierdie gebeure kon sê:
- Ons moet raaksien dat nie een van sy slagoffers onskuldig was nie. Hulle het sekerlik gekry wat hulle verdien het.
- Salomo se optrede is deur die omstandighede voorgeskryf. Dit was waarskynlik die enigste manier om sy troon te beskerm teen ’n gewisse staatsgreep.
- Iewers, tussen al die bloed en leed deur, was God besig om te regeer, soos die Bybelskrywer vir ons laat verstaan met opmerkings soos dié in 1 Kon. 2:33.
Ons sou dit anders wou gehad het, en God sekerlik ook. Maar as die duiwel sy streke uithaal, is niks meer eenvoudig nie. Daarom het ons wysheid van Bo (Jak. 3:13-18) nodig, ook vir vandag.
Views: 6