Bybelkoerant gesels met ds GWA van der Lingen, die vader van die Pinksterbidure in die NG Kerk

Dis met ’n mate van huiwering en groot ontsag dat ek in die studeerkamer van die statige ou pastorie skuins oorkant Gimnasium in die Paarl op ds Gotlieb van der Lingen wag. Hy is immers ’n man wat diep spore in die kerklike lewe én in die gemeenskap getrap het, tot ver buite die Paarl, waar hy predikant was. Paarl Gimnasium is min of meer uit sy eie sak gebou as ’n teenvoeter vir die staatskole waar Engels die voertaal is en godsdiens nie in skoolure toegelaat is nie. “Ons kan nie ons kinders se opvoeding in die hande van die goewerment laat nie. Dis die kerk se taak,” het hy verduidelik. Hy was ook een van die groot kampvegters vir die bou van die Kweekskool op Stellenbosch en is selfs as eerste professor soontoe beroep, maar dié het hy van die hand gewys omdat sy roeping in die Paarl gelê het. Daarby was dit danksy sý inisiatief dat Kerkbode die lig gesien het, hoewel die naam destyds De Gereformeerde Kerkbode was. My oë gly oor die imposante boekeversameling van bykans 4000 titels, en ek verstaan meteens waar die man se ongeëwenaarde kennis vandaan kom.

Ek het ’n rysige en imposante gestalte verwag, maar die man wat by die vertrek inkom, is van gemiddelde lengte. Sy bleek gesig, welige bakkebaard, fluweelmus en mantel laat hom na ’n afgevaardigde vir die 17de-eeuse Sinode van Dordt lyk. Maar dis sy oë wat my trek: vriendelik en deurdringend. Sy handdruk is ferm. “Dag, broer. Welkom, welkom,” groet hy en gaan sit swaar in sy stoel.

“Ek het by u kom kers opsteek oor die Pinksterbidure,” begin ek huiwerig. “Baie mense sê u is die man wat vir dié geseënde gebruik in die kerk geëer moet word.”

Hy knik gewigtig en suig aan sy sigaar. “Dit is so dat ek ’n beskeie aandeel het, ja,” gee hy toe. “Maar eintlik was dit bloot die uitvloeisel van ’n tyd van wonderlike seëninge wat ons van God ontvang het.” Sy oë draai plafon toe. “Die geestelike lewe in die gemeentes was in ’n jammerlike toestand, en ek het gevrees dat die kerk tot die diepste ellende sal verval tensy dit God behaag om sy lig en sy waarheid, sy Gees, te stuur om haar tot nuwe geestelike lewe op te wek. Daar het ’n gees van onverskilligheid en selfs ongeloof geheers.

“Ek, en baie van my kollegas in ander gemeentes saam met my, het jare lank gebid om herlewing onder ons mense, maar dit het nie gelyk asof iets gaan gebeur nie. En toe begin ons berigte ontvang van die wonderlikste herlewings in Amerika en Duitsland en Nederland en Skotland en Engeland. Dit het ons nóg vuriger laat bid.” Hy glimlag by die herinnering. “Oral in die Boland het klein groepies mense bidure begin hou om vir herlewing te bid. En toe, in Februarie 1860 se uitgawe van De Gereformeerde Kerkbode, nooi die professore van die Kweekskool die kerk na ’n konferensie oor herlewing in Worcester.”

 

Worcester, 18 April 1860

“Ek het daarvan gelees. Was dit nie op 18 April nie?” praat ek saam om darem nie té onnosel te lyk nie.

“Jy is reg,” stem hy saam. “’n Wonderlike, geseënde konferensie.” Sy oë dwaal weer hemelwaarts, die sigaar in sy hand nou totaal vergete. “’n Blye skaar het van alle kante daarheen gestroom. Karre en waens het streep-streep langs die vernaamste paaie na Worcester gereis. Behalwe uit al die dorpe van die Boland, was daar ook afgevaardigdes van Beaufort, Graaff-Reinet, Fauresmith en Bloemfontein. Dit was ’n pragtige gesig. Ons het 374 vreemdes getel, leraars, ouderlinge, diakens, oud-kerkraadslede en gemeetelede.” Hy knik weer. “Dit was geseënd.”

“Maar die eintlike herlewing?” moedig ek hom aan.

“Dié het byna onmiddelik daarna begin, in Meimaand. Ons mense het van die konferensie af na hulle gemeentes teruggegaan en begin bid. Waar die bidure eers traag bygewoon is, was ons mense nou begeesterd om saam te kom om te bid, en dit was soos ’n vuur wat in die gemeentes begin brand het, onblusbaar. Mense van alle ouderdomme en stande het met hulle sondenood na God gedraai, wenend en vol berou.” Hy glimlag. “Die Gees van God het kragtig gewerk om harte te verander, my broer. Kragtig, en ons mense het gereageer. Dit was oral die geval: Montagu, Worcester, Wellington, Calvinia, Robertson, Ceres, tot selfs in Graaff-Reinet, waar my vriend Andrew Murray se pa predikant is.” Hy pink ’n traan weg. “O, as God se Gees werk, kan niemand Hom keer nie, my broer. Niemand nie.”

 

Dogter van 15 se gebed

Hy staan op en gaan staan by die venster, sy rug na my, en vertel: “Een van die merkwaardige dinge wat dié jaar gebeur het, was toe ’n jong dogter van so vyftien jaar oud by een van die bidure opgestaan het en gevra het of sy ook ’n lied mag opgee en mag deelneem aan die gebed. Sy was ’n plaasarbeider se dogter, moet jy weet. Sy het begin bid, ’n aangrypende gebed, sê my vriend ds. De Vries, en toe, terwyl sy bid, gebeur dit. Hulle het eers ’n rammeling in die verte gehoor, en dit het al harder geword, totdat die saaltjie waar hulle saam was, begin skud en bewe het. Die volgende oomblik het almal wat daar in die saal was, hardop begin bid.” Hy draai om en kyk na my. “Jy sien, my broer, God se Gees werk op wonderlike maniere. Hy gebruik jongmense, vrouens, kinders, grysaards!”

 

“Hoeveel jaar het ek nie die Here as slaaf gedien nie. En toe, skielik, kon ek Hom dien as ’n seun. Ek het tóé maar eers die vryheid van die evangelie behoorlik verstaan.”

 

Sy oë boor in myne toe hy weer kom sit. “Glo jy dat God die wêreld kan omdop en uit doodsbeendere nuwe lewe kan wek, soos Esegiël beskrywe?”

“Wat u vertel, is tog die bewys dat dit so is, dominee,” ontwyk ek sy vraag half-en-half, want my kop wil nie die moontlikheid van só ’n ongekende herlewing vir ons eie tyd aanvaar nie.

“My broer, as julle nie daarvoor bid nie, as julle nie daagliks die Gees van God om herlewing en ’n ontwaking van dooie harte smeek nie … Het jy geweet Andrew se pa het ag en dertig jaar lank daagliks God se aangesig in sy binnekamer opgesoek om vir die kragtige werk van sy Gees te pleit?”

 

Herlewing in die Paarl

“Wanneer het die herlewing hier in die Paarl vlamgevat?” vra ek om aan sy priemende blik te ontkom.

“Daar het ’n oproep van die Evangeliese Alliansie uitgegaan dat al die gemeentes in die Kolonie ’n week van gebed in Januarie 1861 moet hou. In daardie week het die Gees van God ons gemeente platgeslaan: plat op die grond, in berou oor hulle sonde. Dit was ’n ongelooflike tyd. Die kerk was te klein vir almal wat na die Godshuis gestroom het, my broer!” Hy skud sy kop. “Hoeveel jaar het ek nie die Here as slaaf gedien nie. En toe, skielik, kon ek Hom dien as ’n seun. Ek het tóé maar eers die vryheid van die evangelie behoorlik verstaan.”

“Is dit toe waar die Pinksterbidure begin het?”

“Nee, nee, dit was in Januarie. Ek het die kerkraad gevra dat ons in Meimaand vir die volle tien dae tussen hemelvaart en Pinksterdag elke dag ’n biduur moet hou. Dit was van 9 tot 19 Mei 1861.”

 

“Sê tog vir jou mense: die Gees van God kan lewe in doodsbeendere bring. Maar dan moet julle daarvoor bid!”

 

“Ek verstaan u het daardie tyd ’n besondere visioen gehad.”

Hy kyk op, asof die visioen van destyds weer voor hom afspeel. “Ek het daardie Pinkstersondag nie ná die erediens huis toe gegaan nie. Ek het in die kerk gebly om te bid, en toe, by die middag-diens, het dit gebeur.” Sy gesig straal terwyl hy verder vertel: “By die diens het ek enkele gedagtes tot die gemeente gerig en in gebed voorgegaan. Dit was ’n gebed van belydenis van sonde vir myself en vir die gemeente. Toe het ek diep ontroerd geword en onder trane uitgeroep: ‘Vader, Vader, kyk … Wie is Hy? Hy stel Hom tussen U en ons … Lieflike Voorwerp … Dit is die Held van Bosra, sy klere is met bloed bevlek!’”

“Wat presies het u gesien, dominee?” vra ek sag, diep onder die indruk van hierdie Godsman se passie vir die saak van die Here.

“’Toe ek daar op my knieë gelê het, en terwyl ek gesmeek het tot die Here, het ek baie sneeuvlokkies gesien, wat na die hemel opstyg, en meteens ook ’n krygsheld in ’n mantel geklee, met bloed bevlek, wat met snelle vaart Hom voor die sneeuvlokkies stel.”

 

Sneeuvlokkies

“Wat sou dit beteken?”

“Dit was die gebede van Gods volk wat opstyg maar wat nie aangeneem kon word sonder die tussenkoms van die Erekoning nie.” Hy vee die trane weg wat nou vryelik oor sy wange stroom. “Dit is ons Heiland wat sorg dat ons gebede by die Vader uitkom. Jy sien, ons gebede is nie vir God aanneemlik nie, tensy God self sy skadu daaroor werp. Omdat Christus tussen ons en God kom staan het, kan ons bid, en word ons gebede verhoor!”

Uiteindelik is dit asof hy tot die hede terugkeer, en hy tel weer sy sigaar op, nou lank reeds dood. “Dit was ’n geseënde Pinkster, my broer. Baie geseënd. Die mense het hulle tot God gewend. Ons het besluit dat ons elke jaar tussen hemelvaart en Pinkster sulke bidure gaan hou. Die buurgemeentes het daarvan gehoor en dit ook begin doen. So, daar het jy dit. Deur God se genade het die Pinksterbidure van ons kerk hier in die Paarl begin.”

Ons praat nog ’n rukkie oor die dorp en die skool, oor die sewe kinders wat hy aan die dood afgestaan het, en sy sukkelende gesondheid. Toe ek uiteindelik opstaan om te gaan, gryp hy my hand vas. “Dit was goed dat jy gekom het, my broer. En sê tog vir jou mense: die Gees van God kan lewe in doodsbeendere bring. Maar dan moet julle daarvoor bid!”

image_pdfimage_print

Views: 636

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.