Die derde bede van die Ons Vader, die gebed om die wil van God, word gebid teen die tragiese agtergrond van die wêreld waarin ons lewe. Want in hierdie wêreld geskied die wil van God nou maar eenmaal nié orals en altyd nie. ’n Mens kan tog nooit die opstande en geweld en haat en oorloë en gebroke huwelike en noem maar op, God se wil vir ons noem nie?

Nee. ’n Mens sou dalk nog versigtig wou formuleer en sê dat God hierdie dinge wel toelaat, dat die slegte goed wat met ons gebeur, eers by God moet verbykom. Dit troos ons natuurlik om dit te weet. Maar dan moet ons ook baie deeglik besef: God wil nie dié dinge op die aarde hê nie. God wil nie die kindertjies laat sterf en soldate laat sneuwel nie. God wil nie die verskriklike dinge oor ons bring nie. God wil dit nie! Daarom leer Hy ons onder andere hierdie gebed bid: “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Maar die derde bede in die Ons Vader word nie net gebid teen die agtergrond van die wêreld waarin ons lewe nie; dit word ook gebid teen die sombere en tragiese agtergrond van ons eie sondige eiewilligheid. Teenoor God se wil het ons eie wil te staan gekom. Ons wil het die groot mededinger van God se wil geword.

Daarom is hierdie gebed, wat ons betref, ’n gevaarlike gebed om te bid. Daarin vra ons niks minder nie as die dood van ons sondige eiewilligheid, daarmee kom gee ons onsself geheel en al prys aan God, ook die diepste verlangens van ons hart, die verste en donkerste uithoeke van ons wil. En niks is moeiliker vir ons om te doen as juis dit nie. Ons is tog so lief vir onsself. Daarom kos dié gebed jou jou eie lewe. Dit is, soos Luther gesê het, ’n gevreesde gebed. Die HK (124) omskryf hierdie gevreesde gebed soos volg: “Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees.”

Ons is weliswaar soms bereid om kompromieë met God aan te gaan. Ons is soms bereid om die helfte, of ’n driekwart, of in rojale oomblikke selfs nege-tiendes van ons eie wil prys te gee. Maar dan bly nog altyd hierdie stuk eiewilligheid oor wat ek vir myself reserveer. Daar is nog altyd hierdie of daardie area van my wil, dikwels goed weggesteek vir ander, wat ek troetel en koester.
Maar wie kan dan aan hierdie eis om God se wil te doen, voldoen? Niemand nie. Vir ons mense is dit onmoontlik. Daar was op hierdie stukkende aarde met sy eiewillige en opstandige mense slegs Een wat die wil van God volkome gedoen het. Hy het Hom met oorgawe aan hierdie wil gewy. Jesus het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi” (Joh 4:34). En toe Hy in Getsemane voor die keuse van die Vader se wil of sy eie wil gestel is, hoor ons Hom sê: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mat 26:39).

Wanneer ons te staan kom voor die onmoontlike eis om God se wil te doen, mag ons vlug na Hom wat volkome gehoorsaam was aan God, kan ons juis tot die Vader nader in sy Naam en vra: “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Augustinus het hierdie pragtige gebed gebid: “Here, gee vir my wat U van my vra, en vra dan net wat U wil.” Die onmoontlike eis word ’n genadegawe, ’n geskenk in Christus, wat ons deur die gebed ontvang. Dit is moontlik om God se wil te doen. Dit is moontlik dat die wil van God op die aarde geskied, net soos in die hemel. Christus het dit vir ons moontlik gemaak. Daarvoor moet ons bid.

Wat is nou God se wil vir ons? Ons het dit natuurlik in die Bybel, en in besonder in die Tien Gebooie: Dat ons God bo alles sal liefhê, en ons naaste soos onsself. Of, soos die engele dit beskryf het toe die Een gekom het wat God se wil moes kom volbring: Die eer van God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het. Dit is God se wil: Die eer van God in die hemel en die vrede vir mense op aarde. Hierdie bede vra dat God se wil op aarde, net soos in die hemel, sal geskied. Dat daar ’n verbinding tussen hemel en aarde sal plaasvind, dat daar ’n ooreenkoms sal ontstaan.

Die derde bede sê: Laat die hemel op hierdie verskeurde en versteurde aarde neerdaal, laat ons iets van die hemel op aarde smaak. Laat daar nie meer hooghartigheid en opstand wees nie, maar eer aan God. Laat daar nie meer haat en nyd wees nie, maar eerder vrede op aarde vir die mense in wie God ’n welbehae het. Dat my eiewilligheid, my halsstarrige hardkoppigheid, tog plek maak vir diensbaarheid sodat ek, soos HK 124 sê, my “amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer soos die engele in die hemel.”

Wanneer dit gebeur dat die kinders van die Vader sy wil op aarde doen, soos in die hemel, breek alreeds iets van die nuwe lewe, iets van die nuwe aarde onder ’n nuwe hemel deur. Om ons hierin te help en te lei en te leer, het die Heilige Gees gekom. Die Heilige Gees maak ons gehoorsaam aan God se wil. Pinkster laat die nuwe lewe ook in ons harte en lewens deurbreek. Deurdat ons gehoorsaam gemaak word, deurdat ons ons wil buig voor God se wil, lê ons op hierdie aarde getuienis af van dié aarde wat kom, waar die wil van God sal heers, soos 2 Pet 3:13 sê: “Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 24

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.