JERUSALEM. – Koning Salomo en sy droomnooi, die skone prinses Neferti van Egipte, is gister hier in die Dawidstad luisterryk deur die hoëpriester Sadok in die huwelik bevestig.
Onder die koninklikes en hooggeplaastes wat van heinde en ver gekom het om die troue van die eeu by te woon, was natuurlik die vader van die bruid, farao Siamun van Egipte, en verder ook koning Hiram van Tirus, en die beeldskone koningin van Skeba. Die Dawidstad het sy beste voet voorgesit vir die spoggerige okkasie. Strate is met palmtakke versier, terwyl wit vlae met die Dawidster in koningsblou daarop geborduur op byna elke gebou gewapper het.
Tot die entoesiastiese skare se teleurstelling was daar min van die swaargesluierde prinses Neferti te sien, maar haar bruidstabberd van suiwer sy met goue draad daarin geweef het die mense na hulle asem laat snak. Onder haar sluier was ’n goue halssnoer met koraal net-net sigbaar. Koning Salomo was geklee in ’n enkellengte purper kleed met ’n goue tulband en bypassende gordel.
In sy huweliksrede het hoëpriester Sadok gesê dié troue laat ’n mens aan ’n sprokiesverhaal dink. Hy het die bede uitgespreek dat die huwelik vir koning Salomo en sy nuwe koningin elke dag sprokiesmooi sal wees.
Farao Siamun het op die onthaal na die troue aangekondig dat hy as bruidskat die stad Geser aan sy dogter gee. Vir koning Salomo se geskenk sal koningin Neferti egter ’n rukkie moet wag. Hy het gesê hy beplan ’n splinternuwe paleis vir “die mooiste vrou op aarde”. Hy het reeds die nodige boumateriaal by koning Hiram bestel. Totdat die paleis voltooi is, sal hulle egter in die ou paleis in die Dawidstad woon.
- Lees van hierdie troue in 1 Kon. 3:1, 1 Kon. 9:16 en 24. Lees ook van sy 900 ander vrouens en die invloed wat hulle op hom gehad het, in 1 Kon. 11.
KONING JORAM SE TOESTAND “ERNSTIG”
— dokter vrees vir sy lewe
JERUSALEM. – Koning Joram is ernstig siek en sal nie binne die afsienbare toekoms sy ampspligte kan hervat nie.
Die koning se perssekretaris het gister ’n verklaring uitgereik waarin bevestig word dat die koning al vir ’n geruime tyd behandeling ontvang vir ’n siekte van sy ingewande. Sy toestand is vry ernstig, en volgens die persverklaring het die paleis alle afsprake van die koning onbepaald uitgestel.
Koning Joram se persoonlike dokter het aan ons bevestig dat hy die koning al vir twee jaar behandel vir ’n kwaal wat sy ingewande laat ontsteek. Dit is glo uiters pynlik, en daar is geen geneesmiddel beskikbaar nie. Hy wou nie reageer op bespiegelings dat die koning sterwend is nie, en het bloot gesê sy toestand is “kommerwekkend”.
- Lees oor dié donker tyd in Juda se geskiedenis in 2 Kron. 21.
GEBOORTES
BEN HARAN
Lot maak hiermee bekend dat hy die trotse vader en oupa geword het van die lieflikste ou seuntjie Moab. Dank aan my twee dogters.
BEN HARAN
Lot het die vader en die oupa van ’n fris klein knapie, Ben-Ammi, geword.
- Lees hierdie hartverskeurende verhaal in Gen. 19:29-38.
VERLOWINGS
BEN ISAK – BAT BEËRI & BEN ISAK – BAT ELON
Hiermee maak Esau seun van Isak aan familie en vriende bekend dat hy hom verloof het aan die Hetitiese meisies Jehudit dogter van Beëri, en aan Basemat dogter van Elon.
- Lees hiervan in Gen. 26:34 en 35.
Spyt kom altyd te laat
Dat ’n verstandige mens soos Salomo nou só dom kon wees! Het hy maar besef dat sy baie uitlandse vroue nog sy ondergang gaan beteken, het hy seker anders opgetree. As Lot geweet het wat ons weet, het hy nooit in Sodom gaan woon nie, hoe aanloklik dit ook al uit ’n boerdery-oogpunt was. En Esau sou sekerlik nie met heidense vroue getrou het nie. En Joram sou minder geneë wees om die slegte voorbeeld van sy familie in Israel te volg.
Ongelukkig is dit so dat die eerste treë op ’n verkeerde pad nie so gevaarlik lyk nie. As ons net dán al die implikasies kan besef! Daarom is dit so nodig dat ons elke dag naby aan God sal lewe, elke dag afhanklik van die leiding van sy Gees die dag sal aanpak. Dawid gee vir ons die geheim in ’n neutedop (Ps. 119:11, 1953-vertaling): “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.”