In die eerste drie bedes van die Ons Vader het ons by groot en heerlike dinge stilgestaan: die Naam, die ryk en die wil van God. Ons het daarmee onsself op God en sy sake gerig, en dit is ook soos dit behoort te wees: in die gebed gaan dit allereers om God. Ons het in hierdie 3 bedes opnuut ontdek: God is gróót, groter as ons denke oor of beelde van Hom. Nou, in die vierde bede, is ons plotseling terug op aarde, keer ons (skynbaar) terug uit die hemel na die aarde, na die alledaagse, na ons daaglikse broodrantsoen.

Hierdie gebed handel letterlik oor die brood op ons bord. As die 1ste 3 bedes ons leer om “groot” oor God te dink, leer hierdie gebed ons om ook “klein” oor God te dink. Hy het werklik belang by die klein dinge van ons bestaan. God buig af na ons toe, Hy kom as’t ware aan ons tafel sit en gee die brood aan soos een van die familie. God, die grote God, is nie te hoog om Hom nie ook in te laat met ons alledaagse lewe nie. Hierdie gebed onderstreep die feit dat dieselfde God wat Koning van die kosmos is, ook die Gewer is van alle goeie gawes, tot by die brood in die broodblik. Dat ’n mens jou brood met vreugde kan geniet, is ’n gawe uit God se hand. Só skryf die Prediker mos.

In die 4de bede bid ons om brood. Vir die dissipels van die Here Jesus was dit nogal ’n broodnodige gebed. Hulle was meestal armes, mense wat alles verlaat het om Jesus te volg. Die brood op die tafel was vir hulle lewensnoodsaak. En tog gaan dit om meer as net brood; dit sluit alles in wat ’n mens nodig het vir jou bestaan van elke dag. Die HK 125 noem dit “alles wat vir die liggaam nodig is.” Hier kan ons nie té eenvoudig of té prakties dink nie: dit gaan oor kos en klere, jou gesondheid, oor jou sorg vir jou kinders en jou ouers, oor jou salaris en aftrekkings, oor jou inkomste en uitgawes, oor die rekeninge in jou posbus, oor jou begeerte om ’n menswaardige lewe te lei, oor jou huis, jou vakansie, jou vooruitsigte. Dit gaan oor alles wat jy nodig het om jou as mens te laat bestaan en te laat voortbestaan. God stel hierin belang. Daarom leer Hy ons immers om hiervoor te bid.

Wie hierdie gebed opreg bid, het ’n ander houding tot die materiële dinge van die lewe as dié van die wêreld. In die wêreld het ons te make met ’n gees van materialisme – dit gaan om meer en mooier; nie oor die dankbare gebruik van God se gawes nie, maar oor ’n verbruikersmetaliteit, oor die blote versadiging, oor die vervulling van egosentriese behoeftes. Die Here het niks teen mooi motors of duur huise en pragtige plase nie. Maar wie die Ons Vader reg bid, het ’n ander houding tot al hierdie dinge. Waar die wêreld skree “Gee!” en net altyd meer wil hê, bid die gelowige in innige afhanklikheid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood …”; is sy houding tot dié dinge deel van sy verhouding tot sy hemelse Vader, die Gewer van alle dinge. Waar die wêreld sê: “Gee!” en dan gryp, sê die gelowige: “Gee” – en hy dank God daarvoor. Die biddende afhanklikheid van die hemelse Vader maak juis die hele verskil. Die ryk dwaas, wat sekerlik ’n klassieke voorbeeld van ’n opperste materialis is, se sonde het nie gelê in sy groot rykdom nie, maar in sy dwaasheid, in sy verkeerde houding tot sy besittings, wat voortgevloei het uit sy verkeerde verhouding tot God. Hy was nie ryk by God nie.

Miskien kan ’n mens alles saamvat as jy sê dat die 4de bede van die Ons Vader ons leer dat ons volkome afhanklik van God is. Dié gebed is ’n bedelaarsgebed van mense wat weet dat hulle net leef deur die genade van God.

Seker een van die aangrypendste toneeltjies in die natuur is wanneer ’n klomp baba-voëltjies in ’n nessie met uitgestrekte nekkies en oopgesperde bekkies van die moedervoël vra: Voed ons! Hulle is volkome afhanklik van die sorg, die voeding, en daarom van hulle moeder.

Dis hierdie houding wat die Ons Vader van ons vra. Ons is vir God baie meer werd as die voëltjies van die veld. Hoeveel te meer sal Hy nie vir ons sorg en ons diepste behoeftes vervul nie?

Amen.

image_pdfimage_print

Hits: 11

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
Tweet
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.