In al die bedes van die Ons Vader tref ons die dimensie van skuldbelydenis aan. Wanneer ons tot die Vader nader en bid om die heiliging van sy Naam, die koms van sy koninkryk, dat sy wil moet geskied, verklaar ons daarmee ons bankrotskap, ons skuld. So ook met die bede van brood. Maar telkens ontvang ons genade en vergifnis in Christus.
In die 5de bede van die Ons Vader gaan dit by uitstek om skuldbelydenis en skuldvergifnis, om boetedoening en genade. In hierdie gebed lê ons die diepste grond van ons ellende bloot, naamlik ons skuld, ons oortredinge teenoor God en ons naaste. Hiermee bely ons nie alleen maar al die sake in die wêreld en in ons lewens wat skeefgeloop het nie (en daarvan is daar genoeg), maar bely ons die oorsaak van dit alles, naamlik ons skuld teenoor God en ons medemens. Die hoofsaak van ons ellende is hierin geleë: dat ons skuldig is, maar veral dat ons nie uit die vergifnis wil leef nie.
Die meeste uitleggers wys op die verband met die voorafgaande gebed om brood, die “en” wat hierdie twee bedes met mekaar verbind. Die mens kan inderdaad nie van brood alleen leef nie; hy het nog iets nodig, naamlik die Woord van vergifnis uit God se mond. Hy het brood vir die liggaam nodig, “en” brood vir die gees. Sonder hierdie brood, sonder vergifnis, sterf die mens, al is sy liggaam blakend gesond.
Nou leer die Here ons bid: “Vergeef ons ons oortredings.” Want hierdie bede in die Ons Vader kan nie net deur enkelinge gebid word nie. Met hierdie gebed bring ons ons eie oortredinge na God toe, maar ook meer: die oortredinge van ons gesinne, die oortredinge van ons kerke, van ons volkere, van ons regerings en uiteindelik van die ganse mensdom. Wanneer ons sê “ons”, is dit soos ’n klippie wat in die dam gegooi word: die rimpelings gaan al verder. Dit is in ’n sekere sin ’n universele gebed. In hierdie gebed leer ons die taal van skuldverbondenheid aan.
Sonde en skuld is ’n nare ding. Dit is so moeilik om dit te erken. Dis veel makliker – en veiliger – om jou skuld te verplaas. Dit het al met die sondeval gebeur: die man beskuldig die vrou en die vrou beskuldig die slang (Gen 3:12,13). Iemand anders is verantwoordelik vir die paradys-fiasko! Sedertdien is dit ons geliefkoosde tegniek, dié projeksie van skuld. In die huwelik gee ons die skuld vir die ander een; ons soek graag die “onskuldige” party, sodat alle blaam op die ander, die “skuldige” gelaai kan word. Wanneer dinge by die werk skeefloop, is ons gou om die sondebok uit te wys sodat dié inderdaad ons sonde kan dra. Wanneer sake in die politiek skeefloop, is ons gou om die skuld op ander af te laai: die revolusionêres en die kommuniste, die konserwatiewes en verkramptes, die liberales, die andersdenkendes! Ons wys gou ’n beskuldigende vinger na ander en daarmee wys ons ook meestal weg van onsself. Ons ontdek gou die splinter in die ander se oog, maar die balk in ons eie oog sien ons nie raak nie. As daar iets verkeerd loop, is dit altyd die ander een se skuld. Maar só kan ons nie bid: “Vergeef ons ons oortredinge” nie.
As ’n mens by die kruis op Golgota uitkom, as jy eerlik voor Christus gaan staan, kan jy nie meer die vinger na ander wys nie, want dan weet jy: ek is ook skuldig. Ons almal is skuldig. Dis vir my ook, dis vir ons almal wat Hy daar hang. As ’n mens so na die saak kyk, dan besef jy terdeë dat ons nooit kan nalaat om hierdie gebed te bid nie: Vergewe ons ons skulde! Nie net my eie skuld nie, maar ons almal se skuld, ook die skuld van beskuldigings en verontskuldigings. Alleen God kan dit vergewe, want Hy het self die sondebok voorsien, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra. Christus het gekom, sodat ons skuld tot niet gemaak kan word. Want alleen so, as God ons skuld vergewe, kan ons nuut gemaak word, en weer begin, sonder skuld voor God en ons medemens, maar ook sonder verwyte teenoor mekaar.
Omdat vergifnis in Christus moontlik is, kan ons ook in Suid-Afrika wéér begin, núút begin, omdat ons almal saam ons skuld voor Hom mag bely en deur Hom vergifnis mag ontvang. Net só sal daar ’n nuwe Suid-Afrika in die ware sin van die woord kan aanbreek, sal ’n nuwe Suid-Afrika kan slaag: as ons mense is wat nuutgemaak voor God en daarom ook voor mekaar staan.
Maar as jy voor die kruis staan soos die tollenaar en in diepe berou maar net kan pleit: “O God, wees my, arme sondaar, genadig!”, as jy jouself sien as deel van hierdie wêreld met sy sondigheid, hierdie stukkende wêreld vir wie Christus aan die kruis gehang het, dan kan jy natuurlik nie meer so maklik en vroom op ander neersien en ander beskuldig nie. Dan kan jy nie so maklik meer die vinger na ander wys nie, want dan ontdek jy: vier vingers wys na myself! En daaraan herinner die Here Jesus ons in hierdie bede: “Vergeef ons ons oortredinge, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”
Daarom moet ons maar weer ’n keer die hand in eie boesem steek, en met eerlikheid en ontnugtering die melaatsheid daaraan sien. Dan sal ons met baie groter ootmoed voor God lewe, en met baie meer begrip en verdraagsaamheid teenoor mekaar. Eers dan sal ons hierdie bede met eerlikheid en opregtheid kan bid.
Mag God deur die werk van sy Heilige Gees ons almal hiertoe bring.
Amen.
Views: 56