JERUSALEM. – Die besturende direkteur van Sinai-uitgewers, dr. Darda seun van Serag, het gister hier op ’n noenmaal ter ere van koning Salomo ’n spesiale feesbundel bekend gestel. Die bundel is die mees omvattende versameling van die koning se spreuke, verse en liedere tot op hede.
Dr. Darda het gesê hulle was bevoorreg om die eksklusiewe regte te bekom om koning Salomo se pennevrug te publiseer. Oor die jare het talle bloemlesings met spreuke en verse van die koning die lig gesien, sodat sy wysheid al ver buite die koninkryk bekend is. Met die feesbundel het hulle nou vir die eerste keer die volledige versamelde werke van die koning in een enkele bundel saamgevat. Dit bevat nie minder nie as drie duisend spreuke, duisend en vyf liedere, en talle ander verse en gedigte, veral oor die natuur.
In sy antwoord het koning Salomo gesê die lewe is ’n wonderlike gawe van God, maar dis ’n kuns wat bemeester moet word. Sy spreuke en gedigte handel oor dié lewenskuns, en hy wil graag met sy werk mense help om te leer om voluit te lewe. Hy het dr. Darda bedank vir die hartlike manier waarop hy met Sinai-uitgewers kon saamwerk om die bundel daar te stel.
Die feesbundel, getiteld Leef soos ’n Koning, sal by alle vooraanstaande boekwinkels beskikbaar wees.
- Lees van koning Salomo se voorspoed en roem as wyse in 1 Kon. 4:20-34.
Hoëpriester Aäron seën die Israeliete vir oulaas
HORBERG. – Dit was ’n emosionele oomblik toe hoëpriester Aäron gister vir oulaas hier aan die voet van Horberg sy geliefde volk geseën het enkele ure voordat hy gesterf het.
Trane het oor die waardige ou priester se wange gestroom en die hande wat hy seënend omhoog gehou het, het van aandoening gebewe, maar sy stem was sterk en helder soos altyd toe hy die priesterlike seën aangehef het: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”
Hoëpriester Aäron het onmiddellik daarna saam met sy broer, die volksleier Moses, en sy seun Eleasar, Horberg uitgeklim om amptelik die hoë priesterlike taak aan sy seun af te gee. Hy is glo kort daarna daar op die berg dood.
- Lees dit in Num. 20:22-29. Die priesterlike seën is in Num. 6:24-26.
PRINS ABIA STERF
TIRSA. – Die ganse Israel is in rou gedompel na die dood van prins Abia.
Prins Abia het gister in sy pa se arms gesterf. Hy is gistermiddag laat in die familiegraf hier begrawe. Vanoggend het koning Jerobeam ’n rou tyd van sewe dae vir die hele Israel afgekondig.
Die prins was ’n geruime tyd lank siek, maar dokters kon niks vir hom doen nie. Koning Jerobeam het selfs die profeet Agija in Silo laat raadpleeg, maar dit het nie verhinder dat die prins sterf nie.
Volgens betroubare bronne was die profeet nie juis behulpsaam toe die koning hom laat raadpleeg het nie. Agija het blykbaar meer te sê gehad oor die koning se godsdienstige praktyke as wat hy hom oor die siek kind bekommer het.
Nóg koning Jerobeam, nóg die profeet Agija wou enige kommentaar oor die aangeleentheid lewer.
- Lees hiervan in 1 Kon. 14:1-20.
Leef soos ’n Koning
’n Unieke versameling spreuke en wyshede deur Salomo, koning van Israel.
Kry vandag nog jou eksemplaar by vooraanstaande boekwinkels of bestel dit direk by
SINAI-UITGEWERS
Publikasiestraat,
Jerusalem
Ons word nie almal op dieselfde wyse voor God beoordeel nie. Die Here Jesus sê in Luk. 12:48: “Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”
Dit is in die lig hiervan dat ons God se streng oordeel oor Aäron en Moses se sonde by Meribawaters (Num. 20:1-13) moet verstaan. As die leiers wat die pad moet wys, dwaal, waar sal die volgelinge beland? Daarom dat die Here by monde van Agija ’n verdoemende oordeel aankondig oor Jerobeam en sy huis, die einste Jerobeam wat ’n deel van Salomo se ryk gekry het omdat Salomo ondanks al sy wysheid en voorspoed “nie meer geleef (het) volgens my wil en gedoen (het) wat reg is in my oë nie …” (1 Kon. 11:33).
Wat maak jý met dít wat die Here in sy milde genade aan jou toevertrou het?