Die eerste Sondag na Pinkster word in talle kerke “Drie-eenheidsondag” genoem. Op dié Sondag eer ons God vir wie Hy is, en bely ons dat Hy ’n enige en enkelvoudige geestelike Wese is. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, soos die Nederlandse Geloofsbelydenis in artikel 1 so mooi sê.
Nêrens in die Bybel staan dit nie
Die woorde Drie-eenheid en drie-enig kom nêrens in die Bybel voor nie; ook nie ’n uitgewerkte leer oor die Drie-eenheid nie. Die benaming Drie-eenheid is ’n benaming wat in die kerk ontstaan het in sy worsteling om iets te probeer verstaan van Wie God is. Die kerk wil met hierdie benaming probeer getrou bly aan dít wat ons van God leer in die Bybel. In die Bybel staan dit onmisverstaanbaar dat daar net één God is. Deut 6:4 sê: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.” Letterlik staan daar: “Die HERE ons God, die HERE is Een.”
Ons kan dit nie misverstaan nie. Daar is net een God, die God wat Hom in die Bybel en in die geskiedenis aan ons openbaar het. En watter ongelooflike God is Hy nie! Hy is Gees (Joh 4:24); Hy bewoon ontoeganklike lig (1 Tim 6:16); Hy is onverderflik en onsienlik (1 Tim 1:17); Hy is van ewigheid tot ewigheid (Ps 90:2); Hy is alwetend en alomteenwoordig (Ps 139); in Hom leef, beweeg en is ons (Hand 17:28); uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid (Rom 11:36).
God is een, én drie
En tog kry ons al in die Ou Testament telkens aanduidings, hoewel verborge, dat God drie is, bv in die skeppingsverhaal in Gen 1:26, waar God sê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld …” (vgl ook Gen 3:22 en Gen 11:7). Ons lees ook van die Seun saam met die Vader in bv Ps 45:7,8 (2020-vertaling: U troon, o goddelike wese, is vir altyd en ewig …); en van die Heilige Gees saam met God (die Vader) in Gen 1:2. Hierdie openbaring kry in die Nuwe Testament baie duideliker gestalte as God mens word: in die aankondiging van Jesus se geboorte, in sy doop, en veral in sy verkondiging.
Ons lees dit bv. op treffende wyse in Jesus se afskeidswoorde aan sy dissipels: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees …” (Matt 28:19).
Daarom het die kerk van die begin af só oor God gepraat, as Vader, Seun en Heilige Gees. Paulus se bekende seënbede in 2 Kor 13:13 (wat baie predikante gebruik as die slotseën van die erediens) is onmisverstaanbaar (vgl ook 1 Pet 1:2, 1 Kor 12:4-6, 2 Tes 2:13 en Efes 5:18-20). En as Johannes die Openbaringe-boek skryf, begin hy dit ook so (Op 1:4,5).
Hoe moet ons dit verstaan?
Talle metafore is al ingespan om ons te probeer help om die konsep van drie in een te verstaan, soos bv. ’n appel wat ’n stronk, vleis en skil het, of ’n roos se kleur, geur en tekstuur, of water, stoom en ys, ens. Maar geen metafoor kan die misterie van die Drie-eenheid vasvang nie.
Ander probeer dit weer as ’n historiese saakverduidelik: God was eers (in die Ou Testament) Vader, toe het God Seun geword het en nou, sedert Pinkster, is Hy Gees. Maar Vader, Seun en Gees is op bepaalde historiese momente gelyktydig teenwoordig, soos bv. met Jesus se doop (Matt 3:16-17).
Uiteindelik moet ons met Karl Barth se verduideliking saamstem: God is die Gans Andere.
Ná baie worsteling het die kerk met die formulering gekom: EEN WESE, DRIE PERSONE. Elkeen van die drie Persone het sy eie besondere werk waarin Hy meer op die voorgrond tree, maar nie onafhanklik van die ander Persone nie:
- Die Vader is die Skepper en Onderhouer, maar Hy skep deur die Seun (Joh 1:3) terwyl die Gees ook skeppend teenwoordig was (Gen 1:2).
- Die Seun is ons Verlosser en Bevryder, maar die Vader het Hom in die wêreld gestuur om die wêreld met Homself te versoen (Joh 3:16, 2 Kor 5:19) terwyl die Gees meewerk by die ontvangenis en geboorte (Luk 1:35) asook op baie ander geleenthede terwyl Hy uiteindelik die verlossingswerk van Christus aan ons meedeel.
- Die Heilige Gees is ons Voorspraak en Heiligmaker, maar Hy word deur die Vader en die Seun gestuur as Trooster en Hy getuig nie van Homself nie, maar van Christus (Joh 15:26, 16:13,14).
Nie een woord nie maar drie
Wat dit vir ons sê, is dat God altyd as Drie-eenheid by ons betrokke is, al staan die een Persoon voorop in die situasie. Dit beteken dat ons in enige situasie nie een ding oor God kan weet nie, maar drie!
Die wonder is dat die drie-enige God Hom met ons bemoei. God het ’n onbeskryflike ryke en volle bestaan in Homself. Hy het nie die skepping of skepsel nodig nie (vgl Ps 50:9-13). Hy is bokant sy skepping, en tog woon en werk Hy in en by sy skepping.
Dat hierdie God, wat nooit eensaam kan wees nie, wat nooit liefde nodig het nie, wat nooit geselskap nodig het nie – dit is alreeds volkome inbegrepe in sy wese as drie onderskeie Persone – dat Hy óns geskep het en herskep en heilig, is loutere onbegryplike liefde, waarvoor ons maar net in verwondering en aanbidding kan buig.