Van ons Ou Testament redaksie

MARESA. – Die magtige gesamentlike leërmag van Kus en Libië gaan die koninkryk van Juda afmaai en met die grond gelykmaak.

Só sê koning Serag van Kus, aanvoerder van die invalsmag van een miljoen soldate, gerugsteun deur ’n pantserdivisie van driehonderd strydwaens. Hy het gister sy manne in die Sefatalaagte hier naby toegespreek op die vooraand van die geveg teen koning Asa van Juda, wat by Maresa stelling ingeneem het om koning Serag se opmars te stuit.

Dit lyk in hierdie stadium nie of die Judeërs ’n kans staan om die Kussiete te keer nie, aangesien hulle teen ’n oormag van byna twee teen een te staan kom. Militêre kenners verwag dat Serag die Judeërs met redelike gemak sal terugdruk, en dat dit dan net ’n kwessie van tyd sal wees voordat Jerusalem ook in die slag sal bly.

Een korrespondent het die algemene gevoel goed saamgevat toe hy gesê het: “Ek hou duim vas vir Asa, maar my geld sit ek op Serag vir ’n wen.”

  • Jy kan van hierdie ongelyk stryd – en die uitslag! – lees in 2 Kron. 14.

 

Moses kondig tweede paasfees af

SINAIWOESTYN. – Die leier van die Israelitiese nomades het bekend gemaak dat daar ’n tweede paasfees geleentheid ingestel gaan word vir diegene wat verhinder is om die pas afgelope paasfees te vier.

Moses het hierdie aankondiging gister gedoen na sterk aandrang van ’n aantal stamleiers. Hy en die leiers het vroeër die dag samesprekings hieroor gevoer op versoek van mense wat nie verlede week se fees kon bywoon nie. Hy het dit duidelik gestel dat die tweede paasfees nie vir laatslapers is nie, maar net vir mense wat vanweë omstandighede buite hulle beheer die eerste fees misgeloop het.

Die tweede paasfees sal presies een maand na die hooffees gevier word, op 14 Ijar, en op presies dieselfde wyse as die hooffees.

 

RABBI SE VOLGELINGE KIES NUWE LEIER

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die volgelinge van rabbi Jesus van Nasaret, wat sowat ses weke gelede gekruisig is, het op ’n spesiale vergadering besluit om ’n twaalfde leier te kies in die plek van hulle tesourier, Judas Iskariot, wat kort na rabbi Jesus se kruisiging selfmoord gepleeg het.

Die vergadering, wat deur sowat honderd en twintig mense bygewoon is, het Mattias tot die twaalftal verkies.

 

PERSOONLIK

Die jong rabbi Jesus van Nasaret gaan vir die duur van sy verblyf in Kapernaum tuis wees by twee broers wat ook beide sy dissipels is, Simon en Andreas, die seuns van Johannes.

  • Lees van hierdie verblyf, en van Petrus se skoonma, in Mark. 1:29-31.

 


Niemand glo meer nie! ?

Toe Elia na sy oorwinning oor die Baäl-priesters op Karmel vir sy lewe moes vlug, het hy die woestyn in gevlug en onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood, want, so het hy vir God gesê: “Net ek alleen het oorgebly” (1 Kon. 19:14). Hy het nooit die seweduisend getroues wat nie die knie voor Baäl gebuig het (vers 18), raakgesien nie.

Ons kan maklik in die versoeking kom om aan dieselfde kwaal as Elia te ly: ons sien net die hoë bome raak, en kyk al die ander getroue gelowiges in die proses mis. Daarom weet ons almal van koning Dawid en koning Saul en Daniël. Maar het jy al deeglik van die vrome koning Asa kennis geneem? Of dat daar in die woestyn gelowiges was wat só ontsteld was omdat hulle die paasfees misgeloop het, dat hulle by Moses op ’n ekstra geleentheid aangedring het? Het jy dit al raakgelees dat Jesus nie net twaalf dissipels gehad het wat van die begin af saam met Hom rondbeweeg het nie, maar ook talle ander (Hand. 1:21,22) – mense soos Petrus se skoonma?

Moenie jou blindstaar teen die louheid en afvalligheid in jou gemeenskap nie. Daar is talle ander wat, net soos jy, ’n opregte begeerte het om agter Jesus aan te loop. Mense wat nié in ’n goddelose tyd saam met die stroom begin swem het nie. Mense wat nie net vir hulleself lewe nie, maar vir Christus en sy kerk.

Moenie die leuen van die duiwel glo dat die kerk dood is, of dat jou getuienis tog nie ’n verskil maak nie. Miskien is daar vandag iemand wat deur jou geloofsblyheid óók met groter ywer vir Jesus sal begin lewe.

image_pdfimage_print

Views: 112

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.