Soos gewoonlik as hy op reis was, is die eerste ding wat Petrus na sy terugkeer doen, om verslag te lewer aan die ander apostels. Hy vertel met groot geesdrif van die groei in die gemeentes, van die genesing van Eneas en die opwekking van Tabita, en van die groot aantal bekerings in die kusvlakte. Die apostels vra hom uit oor aspekte van die werk waarin hulle belangstel, en ook hoe dit met die gelowiges gaan wat hulle persoonlik ken, soos Filippus, sodat dit ’n heel lewendige gesprek is.
Petrus hou die beste vir laaste: Kornelius en sy hele huis se bekering. Maar toe hy begin vertel van sy besoek aan Kornelius, word dit stil in die vertrek. Petrus kyk sy vriende een vir een deur en vou sy arms. “Wat is hier aan die gang?” wil hy weet.
“Jy vra vir óns wat aan die gang is!” ontplof Johannes. “Besef jy dat jy met jou onbesonne optrede die gemeente feitlik in twee geskeur het? Almal praat van jou besoek aan die Romeinse offisier, en almal het ’n eiertjie daaroor te lê.” Hy skud sy kop. “Ag nee, Petrus, ek het ’n bietjie meer sensitiwiteit van jou verwag.”
“Kom nou, Johannes. Dink jy nie jy oorreageer nie?”
“Dis duidelik dat jy nie die afgelope twee weke in die stad was nie. Jy het reggekry wat selfs Saul destyds nie kon doen nie: jy het die vrede uit die gemeente verdryf. Mense stry met mekaar. Een klomp probeer jou optrede verdedig – hoe hulle dit by hulle gewete kan verby kry, weet net hulle – en die ander skel hoog en laag en noem jou ’n volksverraaier. En ek weet nie juis wat om te sê nie. Hoe kan ek jou verdedig oor so iets?”
“Jy was saam met my toe die Gees op die Samaritane in Sigar gekom het. Wat het jy daarvan te sê? Was dit Jode?”
“Nee, maar …”
Petrus gee hom egter nie ’n kans nie. “Nee, dit was nie Jode nie. Dit was Samaritane; mense wat al sedert die ballingskap vyande van ons volk is. Hoekom het jy tóé nie kapsie gemaak nie?”
“Omdat hulle almal besny is en die reinheidswette nakom.”
“Nee, Johannes, ek dink nie dis die rede nie. Jy het nooit veel ooghare vir die Samaritane gehad nie. Dit was omdat jy met jou eie oë gesien het hoe die Gees van God op hulle uitgestort is. Stry?”
“Goed, ek stry nie. Die feit dat hulle ook die Gees ontvang het, het natuurlik iets daarmee te doen dat ek hulle as my broers en susters moes aanvaar. Maar onthou, hulle is ook nakomelinge van Abraham net soos ons, al het hulle ’n bietjie ander bloed ook langs die pad bygekry. Dís die groot ding, Petrus: hulle is ook nakomelinge van Abraham. Maar hierdie onbesnede Romein, van alle mense! Genugtig, man, dié mense het ons land gesteel! Hulle is onrein en verstaan niks van ons gebruike en kultuur nie, wat nog te sê van ons geloof. En jy gaan sowaar as vet en doop hom! Waar was jou kop? Hoe kón jy so ’n dom ding doen?”
Petrus kyk lank na Johannes, en dan na die ander apostels. “Is daar nog van julle wat iets hieroor wil sê?”
Matteus knik. “Ek wil weet wat jou laat besluit het om dié mense te besoek en saam met hulle te eet, want dit lyk my dís waar die eerste fout gekom het.”
“’n Fout, noem jy dit, Matteus? ’n Fout dat mense wat verlore was in hulle sonde, nou die Here gevind het? ’n Fout dat God mense liefhet en red?”
Maar Matteus hou voet by stuk. “’n Fout, ja. Nie dat God mense liefhet nie, maar die manier waarop jy dit hanteer het. Jy het die wa voor die perde ingespan, man. Hoekom het jy nie gevra dat hulle hulle eers moes laat besny en ons gebruike aanvaar voordat jy hulle gedoop het nie? Dan was daar geen probleem nie. Maar nee, jy stap ewe rustig in ’n onbesnedene se huis in en doop hulle! Weet jy wat sê dit vir die mense? Dit sê vir hulle dat jy ’n streep trek deur ons hele verlede, dat jy alles wat vir ons mense kosbaar is, wegvee. Jy het ons mense se geborgenheid weggevat, Petrus. En dit ís ’n fout, al sê jy ook wat.”
“Daar is nog ’n oorweging waaraan jy nie gedink het nie, Petrus, en dit is ons delikate situasie hier in die stad,” voeg Andreas by. “Ons móét daaraan ook dink, want ons – en jy in die eerste plek – is verantwoordelik vir die gemeente se welstand. Op die oomblik is daar ’n brose vrede in die stad en los die Joodse Raad ons uit. Hoekom? Omdat hulle agtergekom het dat ons niks anders wil wees nie as Jode, net soos hulle. Ons besoek steeds die tempel en die sinagoges en hou ons aan die reinigingsgebruike van ons voorvaders, en daarom het hulle nie probleme met ons nie. Maar as jy toelaat dat onbesnedenes deel van die gemeente word, sal dit die vrede met ons volksgenote net daar beduiwel. Is dít wat jy wil hê? ’n Tweede Stefanus?”
“Nee, Andreas, en ek neem aanstoot dat jy my daarvan kan beskuldig. Jy weet net so goed soos ek hoe lief ek die gemeente van die Here het, en dat ek hulle veiligheid met my lewe sal verdedig as dit moet. Maar daar kom ’n punt wanneer ’n mens jou eie voorkeure en vooroordele moet laat vaar en moet buig voor die Here se wil.” Hy staan op. “Weet julle wat pla my van die hele gesprek? Dat julle nie eers bly is dat daar mense in Sesarea is wat vandag deel van die Here se volgelinge is terwyl hulle dit ’n maand gelede nog nie was nie. Julle wil ook nie regtig weet wat daar gebeur het nie. Julle wil net beskuldig. Julle het iets wat vir my en vir almal wat daar was, ’n baie mooi en geloofsversterkende gebeurtenis was, só gaan verdraai dat ek vandag skaam is om hier by julle te wees. As dít is hoe ons nuwe bekeerlinge behandel, weet ek nie of ek langer deel van die gemeente wil wees nie.” Toe stap hy na die deur. Daar kyk hy om en sê: “Ek loop nou. As julle regtig belangstel om te hoor wat gebeur het, weet julle waar om my te kry. Goeiedag.” Sonder om een van hulle kans te gee om ’n woord te sê, stap hy daar uit.
Dis al na donker toe die apostels by Petrus se huis opdaag. “Ons het om verskoning kom vra, Petrus,” sê Jakobus. “Ons het jou nie kans gegee om te vertel wat gebeur het nie.”
Petrus knik, en antwoord bedaard: “Maar dit was nie jy wat my aangeval het nie, Jakobus. Jy het die hele tyd niks gesê nie.”
“En dit was waar ek die fout gemaak het. Daarom het ek ook skuld aan die saak.”
“Goed, ek aanvaar jou verskoning, Jakobus,” sê Petrus, maar hy begin nie sy verhaal vertel nie. Hy bly net so sit.
Matteus bloos effens. “Ek wil ook om verskoning vra, Petrus. Ek is jammer oor my opmerkings en veroordelende houding.”
Petrus glimlag met Matteus. “Dis goed so, my vriend.”
“Ek is ook jammer oor wat ek gesê het, Ouboet,” sê Andreas sag. “Ek weet jy het die gemeente liewer as enige een van ons. Ek moes jou nie van onverskilligheid beskuldig het nie.”
“Dankie, Andreas.”
’n Ongemaklike stilte heers in die vertrek. Almal wat vroeër die middag harde woorde laat val het, het al om verskoning gevra, behalwe Johannes. Dis vir almal duidelik dat Petrus vir hom wag om iets te sê, maar hy verseg om te praat. Uiteindelik staan Petrus op. “Nouja, broers, dankie dat julle gekom het om verskoning te vra. Ek waardeer dit, en ek besef dat dit nie vir julle maklik was nie. Maar nou moet julle my verskoon, asseblief. Dit is al laat.”
“Ons het gekom omdat ons graag wil hoor wat gebeur het,” sê Jakobus. “Gaan jy ons nie vertel nie?”
“Ek het so gedink, maar dit lyk my daar is steeds kwade gevoelens teenoor my, en ek sien nie kans om onder dié omstandighede oor een van die wonderlikste en verrykendste ervarings in my lewe te praat nie.”
“Almal weet jy praat van my, Petrus. Jy kan my net sowel op die naam noem,” sê Johannes sag. “Hoekom wil jy my dwing om voor almal vir jou om verskoning te vra?”
“Ek dwing nie ’n verskoning van jou af nie, Johannes. As jy gelukkig is met wat jy gesê het en die manier waarop jy dit gesê het, is dit jou saak. Dan moet jy net verstaan dat ons twee kwalik vorentoe hartlik sal kan saamwerk, want jy het my ’n paar lelike goed toegevoeg. Maar as die dinge wat jy gesê het, uitgeglip het omdat jy ontsteld is oor die gemeente se toekoms, kan jy my mos maar voor die ander om verskoning vra. Jy het nie omgegee om my voor hulle uit te skel nie. Hoekom wil jy nou skielik van die hele aangeleentheid ’n privaat saak maak?”
“Jy maak of dit net ons is wat verkeerd opgetree het. Wat van jou? Het jy nie ook …”
“Johannes! Dis nou genoeg!” swiep Jakobus se stem deur die kamer. Hy staan op en draai na Petrus toe, en hou sy hande versoenend na hom uit. “Jammer, Petrus, maar ek dink jy is reg. Dit is laat. Ons sal later weer praat.”
Petrus skud sy kop. “Toemaar, dis darem nog nie só laat nie. Bly asseblief, want ek wil baie graag my ervaring met julle deel, sodat julle kan verstaan wat gebeur het.”
“Verskoon my dan, asseblief,” sê Johannes skerp. “Dis vir my duidelik dat ek nie hier welkom is nie, en ek wil nie julle mooi aandjie bederf nie.”
Petrus hou Johannes aan die skouer teë toe hy by hom wil verbystap. “Bly asseblief hier. Ek wil baie graag hê jy moet ook hoor wat gebeur het.”
“Wat gee jy om of ek by is?”
“Ek gee om, Johannes, want jy is my broer, en ek is lief vir jou.”
“Goed, as jy dan daarop aandring,” sê Johannes en gaan weer sit.
Petrus gaan ook weer sit. “Ek sal later die hele gebeurtenis volledig aan die gemeente vertel sodat hulle ook kan verstaan wat gebeur het, so, ek gaan nou net die belangrikste goed uitlig, as julle nie omgee nie. Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in ’n geesvervoering ’n gesig gesien het. Ek het iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. Ek het toe ’n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’ ’n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.
“Dit was die eerste ding wat met my gebeur het, en ek kon dit nie sommer net ignoreer nie, veral nie toe daar op daardie selfde oomblik drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aankom waar ons tuis was nie. Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek het ses broers van Joppe met my saamgeneem, en ons is saam met hulle Sesarea toe. Toe het die rede vir die gesig wat ek gehad het, vir my duidelik begin word, en ek het in Kornelius se huis ingegaan en met hulle gepraat, al is hulle in ons oë onrein. Die vraag wat ek vir myself moes beantwoord, was: Is hulle in God se oë ook onrein?
“Kornelius het vir ons vertel hoe ’n engel in sy huis aan hom verskyn het en vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. Hy het ’n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’”
Petrus lig sy hande op. “Wat moes ek gedoen het, broers? Moes ek gesê nee, die Here het my wel self hierheen gebring, maar julle moet julle eers laat besny voordat ek met julle kan praat?” ’n Paar van die apostels skud die kop, en Petrus vertel verder: “Ek het skaars met hulle begin praat, toe kom die Heilige Gees op hulle net soos op ons in die begin, en op die mense in Sigar.” Sy oog vang Johannes s’n, en dan vervolg hy: “Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Hulle het net soos ons in die Here Jesus as Messias geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”
Dit is Johannes wat uiteindelik die stilte verbreek wat op Petrus se vraag volg. “Dit lyk my ons – my – visie van God se werk is hopeloos te klein. Ons dink die hele tyd in terme van ons eie mense, terwyl God die wêreld in die oog het. Hy het sy Gees vir ons gegee, hier in Jerusalem, maar toe het Hy dieselfde met Samaritane gedoen, en nou ook met Romeine. Ek het altyd gedink, toe die Here gesê het ons sal sy getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld, dat ons al ons volksgenote oor die hele wêreld heen moet bereik met die boodskap dat ons Messias gekom het. Maar nou lyk dit vir my Hy wil hê álmal moet deel word van sy gemeente, nie net die nageslag van Abraham nie.” Hy staan op en stap tot voor Petrus. “Ek is jammer, my broer. Ek het jou totaal onregverdig beskuldig en veroordeel. Jy het reg gedoen. Vergewe my, asseblief.”
Petrus staan ook uit sy stoel op en omhels vir Johannes. “Ek het geweet jy sal verstaan as jy my verhaal gehoor het.” Toe hulle weer sit, sê hy: “Onthou julle die gelykenis wat die Here vertel het oor die feesmaal wat die koning berei het, en toe wil die genooides nie kom nie? Toe laat die koning mos al die verdwaaldes en armes en almal na sy fees toe kom, sodat sy saal vol kon word. Dit lyk my die Here is nou besig om ’n nuwe gastelys vir sy feesmaal op te stel omdat ons eie mense nie almal belangstel nie.”
Matteus trek aan sy baard en laat dan bedaard hoor: “Petrus, hierdie verhaal van jou raak ’n mens diep, en jy móét dit self vir ons mense vertel, sodat hulle ook kan verstaan dat God baie groter is as wat ons ooit kan begryp. En hulle sál dit ook insien, daarvan is ek seker. Maar insien en verstaan is een ding. Om dit uit te leef is iets heel anders. Dit vra dat ons heeltemal nuut moet dink oor wie ons is en oor hoe ons met ander mense wat nie Jode is nie, moet omgaan. En dít gaan nie so maklik gebeur nie, want dit is dinge wat ons met ons moedersmelk ingekry het wat hier ter sprake is.”
“As die Here mý sover kon kry, sal Hy dit met die ander ook doen,” sê Petrus vol vertroue.
“Ek bid jy is reg, Petrus. Ek bid werklik so.”
Uit my boek “God se Storie” wat by Carpe Diem Media uitgegee is. Jy kan dit hier koop. Daar is ook ‘n e-boek beskikbaar.
Die oorspronklike verhaal is in Handelinge 11:1-18.
Views: 23