Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Die verdrag wat koning Asa onlangs met koning Ben-Hadad van Aram hernu het, het die eerste vrug opgelewer toe Aramese druk koning Baesa van Israel gedwing het om sy magte aan Rama net 8 km noord van Jerusalem, te onttrek. Op die koop toe het Juda ook ’n groot hoeveelheid boumateriaal gebuit wat deur die Israeliete by Rama agtergelaat is. Dié materiaal sal nou gebruik word om militêre vestings by Geba en Mispa te versterk.

Dié verwikkelinge bring ’n welkome verligting vir die koninkryk van Juda, aangesien die Israelitiese magte van koning Baesa ’n ernstige bedreiging vir landsvrede en die ekonomie ingehou het. Die vesting by Rama was juis bedoel om alle verkeer tussen Israel en Juda af te sny.

Intussen het daar egter kritiek teen koning Asa se buitelandse beleid gekom van ’n siener genaamd Ganani. Na bewering het hy die koning gekritiseer omdat hy op bondgenootskappe steun in plaas daarvan om op die Here te vertrou. Volgens ingeligte bronne het hy tydens ’n oudiënsie die koning selfs ’n dwaas genoem. Die koning was glo briesend en het die siener op die plek in hegtenis laat neem. Hy sal môre in die hof verskyn op aanklag van hoogverraad.

In ’n verklaring wat na die voorval uitgereik is, het die koning gesê hy kan nie toelaat dat mense wat duidelik niks van die internasionale politiek weet nie, aan hom voorskryf hoe hy die land moet regeer nie. “Ek is verantwoordelik vir landsveiligheid, en ek sal alles in my vermoë doen om my land en my mense te beveilig op die wyse wat ek glo in die beste belang van al die burgers van Juda is,” het koning Asa gesê.

  • Lees hierdie hartseer slothoofstuk van die andersins vrome koning Asa in 2 Kron. 16.

 

RABBI DOEN DIT WEER!

Van ons Nuwe Testament redaksie

SESAREA-FILIPPI. – Die gewilde rabbi Jesus het weer eens sy bewonderaars sprakeloos van verbasing gelaat toe hy ’n doofstom seun wat in die mag van ’n bose gees was, genees het.

Die rabbi het pas van die Hermonberg afgekom nadat hy hom vroeër met drie van sy dissipels daar afgesonder het vir gebed. Sy ander dissipels was ten aanskoue van ’n groot skare mense aan die stry met skrifgeleerdes toe hy hom weer by hulle aangesluit het. Dit blyk toe dat ’n pa sy doofstom seun na die rabbi gebring het om hom te genees. In sy afwesigheid het sy dissipels tevergeefs die gees uit die kind probeer dryf.

Op daardie moment het die kind weer ’n hewige aanval gekry en met skuim om die mond op die grond neergeslaan en rondgerol. Dis tóé dat die rabbi met ’n magswoord die seun genees het: “Jou stom en dowe gees, ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”

Na ’n hewige stuiptrekaanval en ’n geskreeu het die seun stilgelê. Rabbi Jesus het hom opgehelp. Die kind was gesond!

 

 


Geloof is ‘n gawe waarvoor ons moet bid

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Só vat die Hebreërskrywer (11:1) geloof saam. En dit is juis hier waar die knoop lê: by die dinge wat ons nie kan sien nie. Want geloof beteken dat jy jou lewe moet toevertrou aan Iemand wat jy nog nooit met die blote oog gesien het nie. En dít lê nie in ons menslike, sondige natuur nie. Van nature is ons veel eerder geneig om ons te verlaat op wat ons kan sien. Soos koning Asa.

Koning Asa se kleingeloof – sy óngeloof – is ontstellend. Was dit dan nie dieselfde man wat in sy jong dae met onverskrokke geloof op God vertrou het toe hy teen die oormag van Serag se Kussitiese leër te staan gekom het nie (2 Kron. 14, dag 119)?

Jesus se dissipels het ook, in die kritieke moment toe hulle moes gló, magteloos gestaan, terwyl hulle tog al by ’n vorige geleentheid baie duiwels uitgedrywe en baie siekes gesond gemaak het (Mark. 6:13). Daarom dat Jesus as ’t ware sy hande in die lug gooi en uitroep: “Ongelowige geslag!” (9:19).

Wat moes hulle dan gedoen het? Die antwoord, sê Jesus toe hulle later alleen is, lê in gebed (9:29). Geloof het immers nie krag op sigself nie, maar word eers werksaam wanneer jy jou op God rig in die gebed.

Die doofstom seun se pa het iets hiervan verstaan. Toe Jesus ’n beroep op sy geloof doen, sê hy (9:24): “Ek glo, help my waar ek nog ongelowig is.”

Geloof is ’n gawe van God waarvoor ons telkens weer moet bid. Daarom is dit so nodig dat ons ons in gebed op God sal rig, ook vir hierdie dag. Anders kan ons dalk kragteloos wees in versoekings.

image_pdfimage_print

Views: 5

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.