’n Predikant vertel dat hy ’n ouderling gehad het wat heeltemal ongeletterd was. Sy kleinseun moes vroeg in die week vir hom die Bybelgedeelte lees waaruit hy die Sondag sy wyksdiens moes lei. Die hele week het die ouderling dan met die teks in sy kop geloop, en gepeins oor wat God daarmee vir sy mense wil sê. Die predikant vertel dat dit hom telkens verbaas het hoedat dié eenvoudige, ongeletterde ouderling uiteindelik teen Sondag dieselfde basiese boodskap uit die teks gekry het as hy met al sy geleerdheid en kommentare.

Dit laat my dink aan wat prof. Nico Smit op Kweekskool vir ons vertel het. Hy het eksegese (die proses om ’n Bybelteks te verstaan) vergelyk met die Israeliete se inname van Jerigo. Die Israeliete moes vir ses dae lank elke dag een keer om die stad loop, en die sewende dag nog sewe keer voordat die mure van Jerigo ingetuimel het – en daar lê die hele stad voor hulle oop. Só gaan dit met Bybellees. Dikwels hoor jy nie by die eerste lees al goed wat God vir jou wil sê nie, en moet jy maar weer en weer al om die teks loop, totdat die mure om die teks omval. En as dit gebeur, voel jy lus om te roep: “Ek het dit!” Min dinge kan die vreugde van sélf hoor en sélf ontdek wat God in sy Woord sê, ewenaar.

Maar so dikwels, ook in my eie binnekamer, probeer ons by die teks inkom sonder om eers om hom te loop. Ons wil al by die eerste lees binne-in die teks kom. En as die mure om die teks dan nie omval nie, loop ons nie om die teks, en nóg ’n slag, tot dit gebeur nie. Dis dan dat ons sommer dadelik ’n kommentaar nadertrek, of ’n Bybeldagboek. Want die skrywer van die kommentaar of dagboek het die loopwerk om die teks mos al klaar vir jou gedoen, en so kan jy vinniger in die teks inkom. Of so redeneer ons. Soms werk dit. Maar soms werk dit ook weer nie, want ’n ander persoon kan moeilik namens jou luister wat God vir jóú wil sê. Kommentare en dagboeke is wonderlike hulpmiddels en kan help om die mure te laat omval, maar hulle werk baie beter om jou te help om die teks te verken as jy al klaar binne-in is.

Moet ons nie maar tyd maak om al om die teks te trek totdat die mure omval nie? Soos die ongeleerde ouderling gedoen het? Psalm 1 praat van so-iemand. Hy het in die woord van die Here sy vreugde gevind en dit dag en nag oordink. Hy het sélf om die teks geloop totdat die mure omval. Daarom het sy lewe ’n sieraad geword, ’n boom wat by waterstrome geplant is, lowergroen en vrugbaar.

Ons lewe in ’n gejaagde wêreld waar elke minuut kosbaar is. Daarom is daar kitskos, kitsbanke, kitsresultate, kitsantwoorde. Vinnig, maklik, gerieflik. Maar ons weet almal kitskos is ongesond, en kitskoffie smaak nie so goed soos die ware jakob nie. En kitsomgang met God en sy Woord?

image_pdfimage_print

Views: 4

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.