Van ons Ou Testament lessenaar

SAMARIA. – Koning Omri is gister hier in sy geliefde Samaria in ’n praalgraf ter ruste gelê na ’n regeertyd van twaalf jaar.

Hooggeplaastes en diplomate het van oraloor gekom om saam met bedroefde onderdane die laaste eer aan die ontslape koning te bewys.

In sy huldigingsrede het koning Et-Baäl van Tirus gesê sedert die dae van die groot konings van Israel, te wete Dawid en Salomo, het dié koninkryk nooit weer ’n koning van internasionale statuur opgelewer nie. Koning Omri het egter in die relatief kort tyd tot sy beskikking getoon dat hy minstens op gelyke voet met die groot konings van weleer gereken kan word.

As voorbeelde van koning Omri se besondere sukses as vors het hy genoem die binnelandse vrede, stabiliteit en voorspoed wat hy gebring het, die sterk bande wat hy met buurstate opgebou het, die onderwerping van Moab, die afweer van Ben-Hadad van Damaskus se Arameërs, en die vestiging van Samaria as die juweelhoofstad van Israel. Hy het bygevoeg dat die feit dat die Assiriërs van die Koninkryk van Israel praat as die “Huis van Omri”, geen geringe aanduiding is van die internasionale erkenning wat koning Omri geniet het nie.

Koning Omri het in baie turbulente tye aan bewind gekom. Hy was destyds die hoof van Israel se leër. Toe genl. Simri, een van die aanvoerders van die strydwamag, koning Ela en die ganse koningshuis in ’n bloedige staatsgreep uitgewis het, het hy ingegryp en na die destydse hoofstad Tirsa opgeruk. Simri het besef dat hy gaan verloor en selfmoord gepleeg. Dit het egter nog vier jaar geduur voordat koning Omri die onbetwiste koning van Israel geword het. Van toe af het hy en die hele Israel vrede en vooruitgang beleef.

Koning Omri se oudste seun, Agab, word môre in die paleis tot nuwe koning gekroon.

 

Rabbi raps dissipels oor vingers oor kinders

BET-ABARA. – Die bekende rabbi Jesus het gister sy dissipels ernstig betig oor hulle onvriendelikheid jeens kinders.

Die voorval het laat gistermiddag gebeur toe ’n klompie kinders saam met hulle ouers na hulle held gekom het sodat hy hulle kan aanraak. “Ons wou net ’n bietjie met hom gesels, en vra of hy vir ons ’n gebed kan doen,” het ’n knaap van twaalf gesê. Hulle het hulle egter teen ’n muur van verontwaardigde dissipels vasgeloop. “Kinders hoort nie hier nie. Ons meester het beslis nie tyd om kinders te pamperlang nie,” het een van die dissipels glo gesê.

Toe die rabbi hiervan te hore kom, was hy glo lelik omgekrap. “Ek hét tyd vir kinders,” het hy gesê, en bygevoeg: “Die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.”

Die vriendelike rabbi het toe tussen die kinders gaan sit en met hulle gesels. ’n Paar van die heel kleintjies het selfs op sy skoot gesit terwyl hy met hulle gepraat en vir hulle gebid het.

Uit die blink ogies van die stralende kinders is dit duidelik dat die rabbi nie sy tyd gemors het nie …

  • Lees hiervan in Mark. 10:13-16.

 

 


Belangrik in God se oë

’n Mens kry nogal ’n ander perspektief op sake as jy na koning Omri kyk. Hy was een van die suksesvolste konings van Israel, ’n man wie se roem tot ver buite die landsgrense gestrek het. Selfs ’n eeu en ’n half na sy dood nog verwys die Assiriese annale na Israel as “die land van Omri”. En tog – as die Bybel oor hom en sy regering berig – beslaan dit nie eers ’n halwe hoofstuk nie: nege verse in totaal.

Omri se aansienlike prestasies as koning en sy dapperheid as generaal beïndruk klaarblyklik nie die Bybelskrywer nie. Want, sê hy, “Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here” (1 Kon. 16:25).

By God is die groot vraag nie hoe belangrik jy op aarde is nie. By Hom is die groot vraag: hoe belangrik is Hý op die aarde en in jou lewe. En as Hy nie in jou lewe ’n rol speel nie, kan jy selfs ’n magtige koning wees. Dít sal nie maak dat Hy anders na jou kyk nie.

Daarom dat Hy tyd het vir kindertjies en vir armes en prostitute en tollenaars. Want as Hy besluit wie sy liefde werd is, kyk Hy verby menslike maatstawwe van status en posisie.

Dít gee my nogal moed oor myself. En dit help my om met ander oë te kyk na hulle wat so danig belangrik is in ons wêreld.

image_pdfimage_print

Views: 17

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.