JERUSALEM. – Die skielike bedanking van een van die voorste jong rabbi’s het skokgolwe deur die godsdienstige Joodse gemeenskap hier gestuur.

Rabbi Saulus van Tarsus was op ’n baie belangrike sending na Damaskus onderweg toe hy dié skokbesluit geneem het. Hy het opdrag van die Joodse Raad gehad om “Operasie Skoonmaak” in Damaskus van stapel stuur. Dié veldtog is deur die Joodse Raad geloods om die Joodse godsdiens te suiwer van ’n nuwe dwaalrigting, bekend as “Mense van die Weg.”

Na die aanvanklike sukses met die veldtog in Jerusalem is besluit om dit na ander stede uit te brei, en Saulus is aangestel as die hoofkoördineerder van die veldtog. Hy het egter nie die veldtog in Damaskus van stapel gestuur nie, hoewel hy in Damaskus aangekom het. Ons korrespondent in Damaskus berig dat hy in die geselskap van bekende aanhangers van die “Mense van die Weg” opgemerk is. Kort na sy aankoms het hy die Joodse Raad in kennis gestel dat hy bedank.

Prof. Gamaliël, hoogleraar in teologie aan die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Jerusalem, het gesê Saulus se bedanking is ’n groot verlies vir die Joodse godsdiens. Hy het hom bestempel as een van die knapste studente wat hy in al sy jare as dosent gehad het. “Die man het ’n briljante brein en het besondere insigte in die Skrifte openbaar. Daarby het hy ’n verstommende werkywer wat hom in ’n kategorie van sy eie geplaas het,” het prof. Gamaliël gesê.

Saulus kom uit ’n familie van Fariseërs, en is een van die Joodse elite uit die stam Benjamin. Daar het ’n groot toekoms op hom gewag, en dit was net ’n kwessie van tyd voordat hy ’n leerstoel aan die teologiese fakulteit hier sou kry. Kenners van die Joodse politiek het ook gesê hy was beslis ’n kandidaat vir die Joodse Raad. Met sy bedanking het hy nou dié belowende loopbaan die rug toegekeer.

Dit is nie bekend wat Saulus se toekomsplanne is nie. Hy was nie vir kommentaar beskikbaar nie, aangesien hy vir ’n onbepaalde tyd na Arabië vertrek het.

  • Lees hoe Paulus van hierdie ommekeer in sy lewe, en van sy voorbereiding as apostel van Jesus Christus, vertel in Gal. 1:11-24.

 

IN ‘T KORT

Bekende profeet vlug landuit

SAMARIA. – Die profeet Elia die Tisbiet, wat onlangs met die Baälpriesters op die berg Karmel swaarde gekruis het, het landuit gevlug nadat dit bekend geword het dat koningin Isebel hom dood wil hê.

Hy skuil vermoedelik in die omgewing van die berg Horeb.

  • Lees hiervan in 1 Kon. 19, en kyk veral na verse 11-13.

Jong rabbi trek al meer mense

KAPERNAUM. – Die jong rabbi Jesus van Nasaret het in die kort tyd sedert hy begin optree het, só ’n groot aanhang gekry dat hy tot saans laat nog besig is om mense te woord te staan, siekes te genees en duiwels uit te dryf.

Die rabbi beplan om eersdaags ook die sinagoges van die ander dorpe in Galilea te besoek.

Siener beweer hy was in die hemel

PATMOS. – ’n Predikant van die Christelike gemeente Efese, wat vanweë sy geloof na die eiland Patmos verban is, het in ’n skrywe aan sy eertydse gemeente beweer dat hy in die hemel was.

Volgens die predikant Johannes het die Gees hom na die hemel gevoer, waar hy die wonderlikste gesigte en ongelooflikste openbarings gesien het. Hy beskryf dié gesigte volledig in sy skrywe, wat hy “Die Openbaring” noem.

  • Lees wat hy van die troonsaal in die hemel gesien het in Op. 4.

Stiltetyd

Dit is nogal veelbetekenend dat die profeet Elia God nie in die stormwind of die aardbewing of die vuur ontmoet nie, maar in die fluistering in die windstilte (1 Kon. 19:12). Daarom dat die Here Jesus ons aanraai om in die afsondering van ’n stil kamer tot God te bid (Matt. 6:6). Want dit is daar, weg van die gedruis wat ons lewe vul, dat God kan praat. Jesus het self ook die eensaamheid opgesoek om te bid. En voor Paulus sy taak as apostel aandurf, sonder hy hom drie jaar lank in Arabië af.

God wil ons ontmoet daar waar ons tot rus kom en stil word. Dít is ook hoe die hemel lyk: rustig, kalm, sonder ’n geskarrel.
Miskien, as ons meer tyd maak om voor God tot rus te kom, sal ons ook rustiger wees.

image_pdfimage_print

Views: 13

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.