Koning Agab beding uiters gunstige vredesverdrag

Van ons Ou Testament redaksie

SAMARIA. – Die koninklike leër van Israel het gister by Afek ’n klinkende oorwinning oor die Arameërs van Ben-Hadad behaal. In die aanvanklike gevegte alleen het meer as eenhonderd duisend Arameërs gesneuwel.

Koning Ben-Hadad het met sewe en twintigduisend man die stad Afek ingevlug, maar dié stad se mure het soos by Jerigo van ouds op die leër ingetuimel, sodat Ben-Hadad verplig was om hom oor te gee.

Dit is die tweede groot oorwinning wat Israel oor Aram behaal. Koning Agab se magte het verlede jaar ook met die Arameërs afgereken. ’n Profeet het toe gewaarsku dat koning Agab hom moet klaarmaak vir nog oorlog. Israel was dus goed voorbereid op koning Ben-Hadad se aanval by Afek.

In ’n grootmoedige gebaar het koning Agab sy aartsvyand begenadig en daarin geslaag om ’n uiters gunstige vredesverdrag met Aram te sluit. Voordelige bepalings in die verdrag sluit onder andere in dat Israel al die grondgebied wat Aram verower het, terugkry. Verder het Ben-Hadad aan Israelitiese sakemanne konsessies toegestaan om in Damaskus ’n handelsbuurt in te rig. Ekonome is veral opgewonde oor hierdie handelskonsessie, aangesien Damaskus die handelspoort na die Ooste is.

  • Lees van hierdie vredesverdrag, en ook wat God daaroor te sê gehad het, in 1 Kon. 20.

 

GEVANGENE OORLEEF SKIPBREUK; SLANGBYT

MALTA. – ’n Man wat onder polisiebewaking na Rome op pad is om daar deur die keiser verhoor te word op aanklag van opstokery, het die dood twee keer na mekaar vrygespring en word nou as ’n god beskou deur plaaslike inwoners.

Die man, ene Paulus van Tarsus, het wonderbaarlik aan die dood ontkom toe die skip waarop hy na Rome onderweg was, na ’n storm wat twee weke geduur het, op die rotse geloop het. Soos Paulus voor die ramp voorspel het, het al die passasiers en bemanning die ramp oorleef. Skaars het hy op die strand uitgespoel, of die tweede ramp tref hom: ’n dodelik giftige slang pik hom aan sy hand toe hy hout op die vuur wou gooi.

Die inwoners van die eiland was oortuig dat die man ’n moordenaar moet wees omdat die gode klaarblyklik vasbeslote was om hom te dood. Toe hy egter na ’n geruime tyd niks van die dodelike slangbyt oorgekom het nie, het hulle van mening verander. Hy word nou as ’n god beskou.

Uit agting vir hierdie vername besoeker het Publius, die hoof van Malta, besluit om Paulus en sy reisgenote op sy plaas te huisves totdat ’n nuwe passaat na Rome gereël kan word.

 


Dis God wat aan die stuur van sake is

Die een Bybelbladsy na die ander jubel dit uit dat God aan die werk is in die geskiedenis. Hý bepaal oorloë se uitkoms, Hý stel konings aan of laat hulle te sterwe kom, Hý beheer die stormsee, en Hý laat ook weer die winde bedaar.

Twee keer in 1 Kon. 20 vertel die profeet ons waarom God in hierdie wêreld werksaam is: sodat die mense kan besef dat Hy die Here is (1 Kon. 20:13 en 28). Onvermoeid gebruik God elke moontlike manier om die wêreld na Hom toe terug te trek. In sy hande word selfs ’n giftige slangbyt ’n middel waardeur Hy mense aanspreek.

Ongelukkig laat nie alle mense God se regering en aanspraak hulle welgeval nie. Daarom gebeur dit dat ’n man soos koning Agab, wat van beter moes geweet het, weier om God se heerskappy konsekwent deur te voer. Vir hom het die voordele van ’n verdrag met Ben-Hadad swaarder geweeg as die eis tot gehoorsaamheid aan God.

God sal ook vandag só werk dat mense sal besef Hy is die Here: deur die natuur, maar ook deur die optrede van hulle wat sy aanspraak op hulle lewe erken. Sal die mense om jou vir jou as ’n medewerker van Hom herken?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.