Ek het nogal baie heimwee na my hoërskooldae in Outeniqua. Ek dink ons het destyds nog iets gehad wat vandag se kinders nie meer het nie. Ons was nog onskuldig, oningelig oor al die harde en nare werklikhede van die lewe, soos die TV elke dag in ons kele afdruk (die eerste TV-proefuitsendings op George het begin net voor ons Matriek-eindeksamen in 1975).
Dit was goeie ou dae, toe ons nog nie oorvol buitemuurse programme gehad het nie, en nog tyd gehad het vir kind-wees en jonk en onbesorg wees; toe ek en my klasmaats, Hemmel en die tweeling Willem en Carus, party middae met ons fietse die berg in gery het en kaal in die opgaardam gaan swem het, of sommer met die trein Knysna toe gery het om vir Hemmel se meisie te gaan kuier; toe ’n paar van ons Vrydagmiddae mnr Tommy Ross gehelp het om die Katrivier skoon te maak, sodat dit (so was mnr Ross se droom) eendag ’n natuur- en ontspanningspark kon word.
Dit was dae toe dans nog ’n doodsonde was. Die CSV-bestuur het in my matriekjaar vir die anti-dansers ’n alternatiewe matriekafskeid gereël. Hulle het saam met ons in die skoolsaal geëet, en na die ete het die anti-dansers na die personeelkamer gegaan waar hulle speletjies gespeel het en so aan. Ek en Hemmel het besluit ons gaan nie die CSV-bestuur se reëling ondersteun nie. Ons het ’n heerlike matriekafskeid gehad, en ek het darem nie te veel op my metgesel se tone getrap nie. Die volgende week het die dominee vir my en Hemmel na sy studeerkamer ontbied. Ons moes gaan hakke kap en verskoning vra omdat ons die Christene van die skool in die steek gelaat het. Toe ons op ons fietse klim ná die skrobbering, het Hemmel droog opgemerk: “Ek weet nou nog nie wat ons verkeerd gedoen het nie.”
Ek wens ek kon iets van hierdie onskuldige jonkwees vir my eie kleinkinders terugkry!