Van ons Ou Testament redaksie
JISREËL. – Koning Agab het gister ’n besoek gebring aan sy nuwe eiendom, die spogwynplaas wat aan sy paleis hier grens.
Die wynplaas het onlangs in die koning se hande gekom nadat die vorige eienaar, Nabot, op ’n klag van hoogverraad en Godslastering skuldig bevind en gestenig is. Dit was gister die eerste geleentheid wat die koning gekry het om die wingerde van naderby te ondersoek.
Te oordeel aan die koning se optrede toe hy laat gistermiddag na sy paleis teruggekeer het, het die nuwe eiendom vir hom weinig vreugde gebring, want hy was wasbleek en wou nie met die pers praat nie.
Bybelkoerant het op goeie gesag verneem dat die profeet Elia die Tisbiet ook gister by Nabot se plaas opgemerk is. Hy het glo die koning gaan spreek, en daarna haastig vertrek. Vermoedelik hou die koning se slegte bui verband met dié uitgesproke Godsman se besoek. Dit is bekend dat baie mense meen Nabot se dood is deur koningin Isebel georganiseer sodat koning Agab die plaas in die hande kon kry. Indien daar waarheid in dié gerugte steek, sou die profeet die koning in geen onduidelike taal hieroor gekonfronteer het nie.
Klaarblyklik het Nabot se begeerlike druiwe nou suur geword. Bronne na aan die koning sê selfs dat die koning in rouklere gaan slaap het.
- Lees dit in 1 Kon. 21:17-29.
Ons lesers sê …
Het jy ’n mening wat jy met ons wil deel? Skryf dan gerus aan ons by: Die Bybelkoerant, Posbus 12, Jerusalem.
QUO VADIS?
Siener, Betanië, skryf:
Wat gaan koning Manasse nóg doen om ons van die lewende God af weg te drywe?
Dit was nie genoeg dat hy die afgodshoogtes weer opgebou het nie. Of dat hy afgodsaltare in die voorhowe van die tempel opgerig het nie. Of dat hy sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand het, en hom besig hou met goëlery, waarsêery en toordery nie. Of dat hy geeste oproep en raadpleeg nie.
Maar nog was onse koning nie tevrede nie. Nee, nou staan daar ’n afgodsbeeld van Asjera binne-in die tempel van die Here!
Waarmee is u besig, O Koning? Onthou u nie wat die groot leier Moses tot God gebid het nie? Hy het gesê: “Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”
Ek vrees ons is nie meer anders as die ander volke nie. En as die koning só aangaan en ons volk met hom saamsleep in sy afskuwelike afgodery, is ons verlore.
KONING GEE RUIMTE VIR ALMAL
Pro-Asjera, Hebron, skryf:
Ek wil graag vir koning Manasse dankie sê vir sy beleid van godsdiensvryheid, en sy aktiewe deelname aan ander godsdienste behalwe die tradisionele aanbidding van die Here.
Dankie, koning Manasse, dat u die moed gehad het om die oogklappe van die volk te verwyder. Nou sien ons daar is ander legitieme godsdienstige sisteme ook. Dankie vir daardie pragtige beeld van Asjera in die tempel.
Lank lewe koning Manasse!
- Lees van Manasse se sonde en van die totale ommekeer in sy lewe, in 2 Kron. 33:1-20.
STERWENDE RABBI BELOWE MISDADIGER DIE PARADYS
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – Jesus van Nasaret het gister hier, terwyl hy sterwende aan die kruis gehang het, aan een van die misdadigers wat saam met hom gekruisig is, belowe: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.”
Hoëpriester Kajafas se kommentaar was kort en kragtig: “’n Misdadiger in die paradys? Nooit!”
- Lees hiervan in Luk. 23:39-43.
Verstommende vergifnis
Agab en Manasse was in die Bybelskrywers se oë die slegste van slegte konings. Van Agab sê die Bybel in 1 Kon. 21:25: “Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie.” En van Manasse sê die Here by monde van sy profete (2 Kon. 21:11): “… koning Manasse van Juda (het) hierdie afskuwelike dinge gedoen en erger aangegaan as al die Amoriete voor sy tyd …”
En tog, wanneer hulle berou het voor God, vergewe Hy hulle. Net soos vir die misdadiger aan die kruis. Net ’n enkele woord: “Jesus, dink aan my …” en – hy word die hemel belowe!
In Ps. 103 skryf Dawid oor God se vergifnis, en sy slotsom is die woord van elkeen wat vergewe is: “Ek wil die Here loof!”
Views: 5