SAMARIA. – In een van die bloedigste staatsgrepe nóg het Jehu seun van Josafat met alle denkbare én ondenkbare teenstand klaargespeel.
Politieke waarnemers – die enkeles wat die bloedbad oorleef het – is dit eens dat so iets nog nie in Israel gesien is nie. Koning Jehu se optrede lyk meer soos dié van ’n bloeddorstige Assiriese vors, as wat dit lyk na die werk van ’n gesalfde van die Here, is hier gefluister.
Die bloedige staatsgreep het begin toe Jehu – toe nog ’n generaal in koning Joram se leër – koning Joram en sy kleinneef, koning Ahasia van Juda, vermoor het. Daarna het hy na Jisreël opgeruk en met die koninginmoeder, Isebel, afgereken.
Dit was maar die begin van die bloedbad. Met slinkse diplomasie het Jehu daarin geslaag om leiers in Jisreël en Samaria te oorreed om elke enkele manlike lid van die koningshuis – sewentig altesaam – te onthoof. Van dié prinskoppe het hy toe twee piramiedes by Jisreël se stadspoort gepak.
Daarna het al die vertrouelinge in Jisreël en selfs die priesters wat aan koning Joram getrou was, aan die beurt gekom voordat Jehu na Samaria opgeruk het. Ook dáár het hy almal wat enigsins ’n verbintenis met die vorige koningshuis gehad het, afgemaai. Onderweg na Samaria het ’n aantal nefies van koning Ahasia van Juda ook sommer op die koop toe in die slag gebly.
In ’n verklaring wat die koning se kantoor gisteraand uitgereik het, verduidelik koning Jehu dat hy maar net die opdrag van die Here uitgevoer het om met die nageslag van Agab en Isebel af te reken. Hy het sy spyt uitgespreek dat daar in die proses ook ’n paar onskuldige mense omgekom het.
- Lees van hierdie grusame bloedbad in 2 Kon. 10:1-17. Kyk ook wat sê die Bybel daarvan in 2 Kon. 10:29-36.
Ergste vloed in menseheugenis
ARARAT. – Die ganse wye wêreld het hier onder die golwe verdrink nadat dit onophoudelik veertig dae lank gestortreën het.
Slegs ’n enkele gesin en ’n paar diere het die watergraf in ’n groot boot vrygespring. Die hoof van die gesin, Noag seun van Lameg, het gesê die vloedramp is deur God gestuur omdat die mensdom die rug op Hom gedraai het.
- Lees meer hiervan in Gen. 7.
BAÄLFEES WORD BAÄLGRAF
Baältempel in toilette omskep
SAMARIA. – Met kenmerkende listigheid en deeglikheid het koning Jehu gister daarin geslaag om die ganse Baälkultus in Israel uit te roei. Nie ’n enkele Baälpriester, Baälprofeet of Baälvereerder het sy aanslag oorleef nie.
Die koning het daarin geslaag om al die aanhangers, profete en priesters van Baäl byeen te laat kom onder voorwendsel dat hy ’n groot Baälfees wil hou. Toe hulle almal in die Baältempel was om te aanbid, het hy sy soldate opdrag gegee om hulle dood te maak.
Nie ’n enkele een het sy aanslag oorleef nie. Daarna het die Baältempel aan die beurt gekom. Die eens imposante tempel is tot op die grond afgebreek. Die koning het beveel dat die boumateriaal nou gebruik moet word om toilette op te rig.
Dit is die tweede bloedige uitroeiveldtog in Israel die afgelope tyd. Enkele jare gelede het die profeet Elia daarvoor gesorg dat honderde Baälpriesters gedood is. Koningin Isebel het daarna nuwe priesters uit haar vaderland ingevoer, sodat die Baäldiens kon voortgaan. Na die jongste uitwissing sal geen Baälpriester dit egter weer waag om Israel binne te kom nie.
- Lees hiervan in 2 Kon. 10:18-28.
Bid vir die owerheid
’n Mens hoef nie eintlik bewyse te soek om baie seker te weet dat God die sonde haat nie. Die sondvloed sal dié boodskap onmisverstaanbaar uitskreeu solank die wêreld daar is.
Daarom is dit ook nie verbasend dat God die goddelose bewind van Joram en sy ma Isebel laat beëindig nie.
Uit die beoordeling van Jehu se regering in 2 Kon. 10:29-36 sou ’n mens dalk kon aflei dat God die bloedbad wat hy aangerig het, Hom laat welgeval het, ten spyte daarvan dat Jehu nie net die koningshuis van Agab nie, maar honderde ander ook afgemaai het. In Hos. 1:4 lees ons egter: “Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël …”
Regeerders word deur God beskik (Rom. 13:1), maar hulle is óók aan Hom rekenskap verskuldig. Bid daarom tog vir hulle!