Die stadsplein van Maganajim wemel van soldate. Dawid het hulle in drie eenhede opgedeel: een eenheid onder leiding van Joab, nog een onder Joab se broer Abisai, en die laaste eenheid onder bevel van Ittai die Gattiet.
Dawid se hart swel van dankbaarheid vir dié manne, nou netjies in gelid opgestel in afdelings van duisend en honderd. Dis sý mense hierdie, soldate in murg en been. Met hulle het hy die hele wêreld verower. Hy lig sy spies, en die soldate antwoord soos een man: “Vir die Here en vir sy gesalfde!”
Na die hartlike ontvangs wat hulle in Maganajim by sy bondgenote gekry het, is Dawid weer vol moed. Die paar dae se rus het hulle ’n wêreld se goed gedoen, en die manne is gereed vir die stryd wat voorlê. Die aanvanklike skok en ontreddering wat hom en die ander oorval het, het plek gemaak vir vasberadenheid. “Dankie, Here, dat U Gusai gebruik het om Agitofel se raad te verydel!” bid hy vir die soveelste keer.
Dawid lig sy linkerhand op, en dit raak stil voor hom. “Manne,” sê hy, sy stem helder, “ek wil hê julle moet baie goed verstaan waaroor die stryd wat vir ons voorlê, gaan. Baie van julle dink miskien vandag julle veg om my eer en my troon, en daarvoor is ek dankbaar, want sonder julle liefde en lojaliteit teenoor my was dit klaarpraat. Maar dís nie waaroor vandag se stryd gaan nie. As dit oor my as persoon gegaan het, sou ek julle nie in die geveg teen julle eie broers ingestuur het nie, want hoe kan ek van enige een van julle verwag om julle lewe ter wille van my op die spel te plaas?”
Daar breek ’n gemompel onder die manne uit, en een skree: “Ons doen dit met graagte, koning Dawid! U is ons koning in lewe en in sterwe!” Toe bars die soldate los: “Vir Dawid, vir Dawid, vir Dawid!”
Na ’n tyd slaag hy daarin om die manne tot bedaring te kry. Hy is openlik aangedaan toe hy sê: “Julle sal nooit weet wat hierdie woorde van julle vir my vandag beteken nie. Maar, my broers, hier is vandag baie meer op die spel as maar net my lewe en my troon. Dit gaan vandag om die manier waarop die Here die God van Israel sy volk regeer. Hý is ons Koning. Hý besluit wie op die troon in Jerusalem moet sit. En totdat dit Hom behaag om een van my seuns te kies om na my koning te word, moet julle en ek God se regering oor sy volk met alles wat ons het verdedig, want dit is presies hier waar ons anders is as die nasies om ons. Nie ek of julle of enige iemand anders mag homself hierdie heilige reg opeis nie.
“Daarom, manne, as ons vandag gaan veg, veg ons vir God en sy eer.”
Die soldate begin te dreunsing: “Vir die Here en sy gesalfde! Vir die Here en sy gesalfde!”
Toe die geroep bedaar, sê Dawid: “Laat ons gaan, en mag die Here, die God van Israel, ons bewaar.”
Joab staan vorentoe. “U Majesteit, ons het gehoor wat u gesê het, en ons stem van harte saam met alles wat u ons meegedeel het. Ek wil nou namens die Dertigtal hier by my by u pleit: moenie vandag saam met ons uittrek nie, want as óns dalk moet vlug, kan ons maar vlug en niemand sal van ons notisie neem nie. Selfs as die helfte van ons dalk sterf, sal dit nie saak maak nie. Maar u is die gesalfde van die Here. U is soos tien duisend van ons. Ons sal gaan veg, dan kan u hier in die stad bly en vir ons bid.”
“Laat óns veg! Laat óns veg!” roep die leër.
Dawid lig weer sy hande op. “Dankie, manne. Ek sal maak soos julle vra.” Hy glimlag skewerig as hy byvoeg: “Ek sou dit ook nie met ’n ou krok soos ek op die gevegsterrein wou waag nie.” Hy draai na sy aanvoerders, en voeg by, hard genoeg dat die manne dit ook kan hoor: “Ek sal bly. Ek vra net een ding: werk tog om my ontwil saggies met my kind Absalom.”
Nadat Joab-hulle gesalueer het, begin die eenhede een na die ander uitbeweeg by Dawid verby waar hy in die stadspoort staan en sy hande seënend oor hulle sprei.
***
Toe hy sy donkie onder die boom tot stilstand bring, bly hy net so op die dier se rug sit. Die vrede wat altyd oor hom kom as hy op sy grond is, bly hom hierdie keer ontwyk. Dis warm vir die tyd van die jaar, dink hy, dankbaar vir die skaduwee wat die boom bied. Dit gaan ’n goeie jaar vir die vee wees. Die veld lyk geil na die winterreëns.
Sy gedagtes gaan ver terug. Dit het alles begin toe Dawid vir Batseba ’n sondares gemaak het, en daarna boonop nog vir Urija laat sneuwel het. Urija was ’n baie besondere mens, so saggeaard en vol geesdrif vir die lewe. Hy sien hom weer voor sy geestesoog, laggend, met Batseba langs hom. Dat hy nou so ’n eerlose dood moes sterf. Hy kon nog nooit eens sy graf daar in die veld by Rabba gaan soek nie.
Hy kon homself nooit sover kry om Dawid te vergewe nie, al is hy met sy eie kleindogter getroud, en al is Batseba, moet hy toegee, baie gelukkig by hom. En al het hulle die wonderlikste seuns. Met daardie fiasko het hy net ’n afkeer aan die man gekry. Niks wat Dawid gedoen het en nog sal doen, kan daaraan iets verander nie.
Maar hy besef nou dat hy die verkeerde man tot ’n opstand aangehits het. Absalom het dit nie in hom om ’n goeie koning te wees nie. Hy het nie die innerlike karakter en daadkrag van sy pa nie. Hy is ’n agteraf soort mens, te behep met homself en sy beeld. Kyk nou net hoe het hy die plan aangegryp om sy pa se bywywe by te kom. Enige iets wat hom plesier verskaf en sy vyand kan benadeel, sal hy doen, ongeag die morele konsekwensies. Hy het geen beginsels nie. Hy huiwer nie om iemand anders in die rug te steek nie, of dit nou sy broer of sy eie pa is, maak nie saak nie. Maar dis een ding om ’n ander se val te bewerkstellig, en ’n totaal ander ding om dan die leisels by daardie een oor te neem. Absalom gaan dit nie maak nie, het hy met ’n skok besef toe Absalom sy goeie raad verwerp het en Gusai s’n gevolg het. Enige bobbejaan kon met ’n stok aanvoel dat Gusai vir tyd speel om Dawid kans te gee om weg te kom, maar nie Absalom nie. Hy laat hom aan sy neus lei, en dis nie ’n resep vir sukses nie.
Ja, die oomblik toe hy hoor Absalom het besluit om Gusai se raad te volg, het hy geweet dis verby. As Dawid eers tot verhaal gekom het en sy manne georganiseer het, is hy feitlik onoorwinbaar. Hy het nie verniet die hele wêreld verower nie. Hy is ’n militêre genie, gee die duiwel die eer wat hom toekom. En met ’n generaal soos Joab en lojale makkers aan sy sy staan Absalom en Amasa se leër nie ’n kans nie, al is hulle ook ’n oormag van tien teen een.
Agitofel klim moeisaam van sy donkie se rug. Naby die boom is ’n klipbank, en daarvandaan sleep hy ’n paar groterige klippe nader en stapel dit op mekaar: een vir sy dierbare vrou, nou lank reeds oorlede; een vir Aja, een vir Eliam, een vir Batseba, een vir Urija, en nog vier kleineres vir Batseba se seuns. Toe die stapel klaar gebou is, sak hy op sy knieë voor die klippe. “Op die ou end is dit net julle wat saak maak,” sê hy sag. “Dis omdat ek julle liefhet dat ek gedoen het wat ek moes. Miskien was dit ’n fout. Miskien, as ek Dawid vergewe het, sou dinge anders gewees het. Wie weet? Maar soos dit is, het my tyd nou uitgeloop. Ek sal julle altyd liefhê.”
Daar is trane in sy oë toe hy sukkelend op die stapel klippe klim en die strop om sy nek sit. Vir oulaas kyk hy op na die blou lug, en dan om hom na die groen weiveld van sy familiegrond. “Ag ja,” sug hy, en spring van die klippe af.
***
Absalom skud sy hare en slaan sy muil nog harder. Die skuimbolle staan om die stomme dier se bek, maar hy dryf hom net al harder en harder. “Ek moet uit hierdie bos uitkom!” dink hy benoud, en kyk weer ’n keer om om te sien of hy agtervolg word.
Die geveg was van die begin af ’n fiasko. Amasa en sy manne is, ten spyte van hulle groot getalleoorwig, hopeloos te lig vir Dawid se geoefende troepe. Van wanneer af staan ’n boer met ’n sens in die hand ’n kans om ’n gedugte kryger te wen? Toe die eerste aanslag van Joab se manne die Israelitiese volksleër bestorm, het hy al gesien hoe sy manne weifel, maar toe hulle letterlik deur die aanstormende vyand afgemaai word, was dit oor. Hulle het omgespring en die hasepad gekies, reguit terug na die veiligheid van die Jordaan. Maar tussen-in is die Efraimsbos, ’n verraderlike bos met baie struikelblokke.
“Vervloekte Amasa,” brom hy. Kon hy nie ’n beter terrein gekies het vir die geveg nie? Hierdie vervlakste bos gaan nog hulle einde beteken. Oral is daar slote en gate, en dan hou die digte onderbos jou ook nog vas. En die takke is so ineengestrengel, as jy eers vassit, sit jy vas en kan die vyand jou op hulle tyd bykom.
Hy hoor ’n geluid agter hom en kyk om. Dis die vyand! Vinniger, vinniger! Iets sê vir hom hy moet vorentoe kyk, en hy swaai sy kop terug, net betyds om te sien hoe hy pylreguit in ’n mik van ’n akkerboom injaag. Vinnig lig hy sy arms om te keer, maar die volgende oomblik tref hy die boom, sodat hy net sterretjies sien. Die verskrikte muil hou net aan met hardloop, en daar hang hy, hulpeloos tussen hemel en aarde. Sy kop sit vas in die mik, en hy kan hom nie roer nie. Gelukkig kon hy effens met sy arms keer, anders het sy nek seker gebreek. As iemand hom net kan uithelp, want self gaan hy nooit loskom nie.
“Help!” roep hy. “Help my, iemand!” Hy hoor voetstappe agter hom, maar dan is dit weer stil. So ’n rukkie later hoor hy stemme. Gespanne luister hy, en dan spoel die verligting oor hom. Dis oom Joab. As dit Ittai was, het hy regtig probleme gehad, maar oom Joab het altyd ’n sagte plekkie vir hom gehad en goeie woordjies vir hom by sy pa gedoen. “Help my, oom Joab,” roep hy floutjies. “Ek sit vas.”
“O, ek dag jy hang sommer vir die lekker daar,” grinnik Joab.
“Help my op die daad hier uit!”
“Dis wat jou pa ook gesê het vanoggend, weet jy. ‘Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom’ was sy woorde, as ek reg onthou.”
“Nouja, maak soos my pa gesê het en help my hier uit!” Absalom begin nou benoud word, want dit klink nie vir hom of Joab van plan is om hom te help nie.
“Nee wat. Ek help nie ’n stuk skuim soos jy wat teen sy eie pa in opstand gekom het nie.”
“Asseblief, oom Joab, ek …”
Hy kom nie verder nie. Een na die ander stamp Joab drie spiese in sy borskas in. Daarna beveel hy tien van sy manne: “Maak seker dat hy dood is, en gooi hom in ’n gat. Ons kan nie die hele dag hier mors nie.”
***
Die swaarste deel van ’n geveg is die gewag om die uitslag te hoor. As jy op die voorpunt van die gevegslinie is, weet jy wat aangaan, maar hier in die stadspoort is al wat jy kan doen, wag en bid. En dit doen hy al die hele dag.
“U Majesteit!” roep die wagter op die uitkykpos, “ek sien iemand aangehardloop kom. Hy is alleen.”
“As hy alleen is, bring hy nuus. Uiteindelik,” sug Dawid.
“Daar kom nog iemand aangehardloop, U Majesteit.”
“Hy bring seker ook nuus.”
“Die voorste een lyk vir my na Agimaäs seun van Sadok,” merk die wag op.
Verligting spoel oor Dawid. “Dan sal dit goeie nuus wees.”
Agimaäs buig laag voor die koning. Sy asem hyg. “Alles is reg, U Majesteit! Geloof sy die Here u God, omdat Hy die mense wat in opstand gekom het teen die koning, verslaan het.”
Dan is die nagmerrie nou verby. “En Absalom, my kind? Gaan dit goed met hom?”
“Ek weet nie, U Majesteit,” antwoord Agimaäs. “Ek het ’n groot samedromming opgemerk net toe generaal Joab my gestuur het. Verder weet ek niks nie.”
“Dankie, Agimaäs. Kom staan hier eenkant, dat jy jou asem kan terugkry.”
Net toe kom die ander hardloper daar aan. Hy buig en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”
“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra Dawid, die beklemming steeds om sy hart.
“Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”
“Nee! Asseblief, net nie dit nie. Dit kan nie waar wees nie,” kerm Dawid en staan uit sy stoel op. Gebroke klim hy met die trappe op na die kamer bokant die poort. “My seun Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”
Dit pyn in sy bors, brand soos vuur agter in sy keel. Hoe leeg, hoe bitter leeg kan ’n oorwinning nie wees nie. Absalom was so ’n lieflike kind met daardie pragtige hare van hom. Hy het so ’n innemende geaardheid gehad. Almal was lief vir hom, dis dié dat hulle so agter hom aangeloop het. Hulle kon dit nie help nie. Hulle het gesien Absalom is ’n man uit een stuk. Hy sien hom nog so duidelik in sy gedagtes: hoe hy daar in Hebron rondgehardloop het, hoe hy fier en imposant op sy stradwa gestaan het …
En nou is hy dood. Hy lê iewers op die slagveld dood, vergete, sommer so weggesmyt soos ’n stuk gemors. Nooit weer sal hy hom sien glimlag nie. En dis alles sy eie skuld, weet Dawid. Dis omdat hy hom van hom af weggestoot het na Amnon se dood. Ag, Absalom, hoekom het jy dit gedoen?
Hoe lank hy so gelê en kerm het, weet hy nie. Maar later gaan die kamerdeur oop, en Joab kom in. Hy is moeg en vuil en ruik na bloed en sweet en stof. “Die manne vra na jou, Dawid.”
Dawid kyk hom met leë oë aan. “Weet hulle dan nie ek is hartseer nie?”
“Hulle het vandag hulle lewens vir jou gewaag, maar dit lyk my nie jy gee vir hulle om nie. Jy lê nou net en kerm oor Absalom, maar hy sou jou met ’n glimlag vermoor het as hy net die kans gekry het. Verkies jy regtig dat hý bly lewe het en ons almal dood is?”
Toe Dawid nie antwoord nie, sê Joab: “Daar kon nie ’n ander uiteinde wees nie, Dawid, en jy weet dit net so goed soos ek. Toe hy jou van die troon gedruk het, was daar geen omdraai meer nie. Dit was òf hy, òf jy.” Hy vat sy koning aan die skouer en sê sag: “Toe, die manne wag op jou. As jy nie nou buitentoe gaan nie, sal hulle almal wegloop, want hulle sal met reg voel jy gee nie ’n flenter vir hulle om nie. Dit sal ’n groter ramp wees as enige ramp wat jou tot nou toe getref het.”
Moeisaam kom Dawid orent, sy oë dik gehuil. Hy vat Joab aan die mou. “Sal jy my môre na sy graf toe vat, Joab? Asseblief?”
***
Absalom se graf is ’n diep gat in Efraimsbos. Joab se skilddraers het sy lyk daarin gegooi en die gat met klippe toegepak om te keer dat aasdiere die lyk verskeur. Dis net ’n paar van hulle daar om die graf: Dawid, Joab, Natan, en Batseba. ’n Lyfwag van ’n honderd man onder leiding van Abisai het ook saamgekom om Dawid te beskerm, maar hulle bly op ’n veilig afstand rondom die groepie waak.
Hierdie oorlog het Dawid oud gemaak, dink Batseba hartseer toe sy haar man se geboë gestalte dophou terwyl hy stadig vorentoe stap en by die hoop klippe neerkniel. Sy wens sy kon sy hartseer vir hom dra, en sy wil vorentoe gaan om hom te troos, maar Natan skud sy kop om haar te keer. Dawid moet afskeid neem, en sy moet hom nie keer nie.
Dawid vat-vat hier aan ’n klip, streel daar oor ’n ander een, asof dit Absalom self is wat voor hom lê. Die druppels van sy trane maak donker vlekke waar hulle op die klippe val. Hy sê aanvanklik niks; staan net so op sy knieë voor sy kind se graf. Nou en dan ruk ’n snik sy skouers, of ontsnap ’n huilklag sy vasgeklemde kake.
Hulle staan lank so, in stilte. Toe gee Dawid ’n diep sug, en staan op. Met ’n stem wat bewe van emosie begin hy ’n klaaglied sing:
“Absalom, mooiste van die prinse,
Absalom, trots van die hele volk –
ag, as ek maar in jou plek kon sterwe
dan het jy vandag nog gelewe.
“Hoe mooi was jy nie, my kind,
hoe het ons ons nie in jou gestalte verlustig nie!
Geen ander kon op ’n strydwa staan soos jy nie,
jou hare het die nasie bekoor.
As jy geglimlag het, het die son opgekom,
jou lag het warmte in ons harte gebring.
“Absalom, jy is weggeskeur in jou fleur,
Absalom, jy is dood voordat jy nog gelewe het.
Jou lag is nou stil, my seun,
nooit weer sal jou glimlag my hart verbly nie.
Dit moes nie só geëindig het nie, Absalom,
nie só nie, my kind, my dierbare kind.
“Absalom, mooiste van die prinse,
Absalom, trots van die hele volk –
ag, as ek maar in jou plek kon sterwe.
Absalom, my seun, my seun, my liefste seun.”
uit my boek “Dawid”, gepubliseer in 2000
Views: 117