Wat gebeur wanneer jy bid? Help dit ooit om te bid? Of sê ons maar net so omdat ons dink dis die regte ding om te sê, terwyl ons met baie vrae in ons gemoed sit?
Dan het ons nog talle uitsprake in die Bybel wat vir ons belowe dat God hoor as ons bid. Wat moet ons daarmee maak? Jesus het gesê ons moet vra, en vir ons sal gegee word, want elkeen wat vra, ontvang (Matt 7:7-8). Hy het ook die gelykenis van die weduwee en die regter vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word (Luk 18:1). En aan die gemeente in Filippi skryf Paulus (Fil 4:6): “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Jakobus skryf in Jak 5:16 (2020-vertaling): “Die gebed van ’n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.” En so sou ek kon aangaan.
Ek wonder dikwels hieroor. Ons het al hierdie versekeringe en beloftes. Hoekom lyk dit dan vir ons soms – dikwels! – asof dit nie help om te bid nie? Of is dit maar net ’n kwessie van dat ons nie die beloftes glo nie?
Glo jý dit nog? Bid jy nog met vertroue, met verwagting?
Paulus en Silas
Dié vraag laat my dink aan Paulus en Silas wat in Filippi onskuldig in die tronk beland het met hulle voete in die houtblok vasgeklem, nadat hulle baie geslaan is (Hand 16:22-24). Dink jou ’n oomblik in in hulle situasie: flenters, vol pyn, bebloed, baie, baie ongemaklik. Wat sou jy in hulle omstandighede gedoen het? Ons lees in vers 25: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid …”
Dis wat ’n mens doen as jy in die nood is: jy wend jou tot God. En dis ook reg so. Dis waartoe Jesus ons uitnooi as Hy sê: “Vra, en vir julle sal gegee word.” Jy mag dit doen. Nee, jy móét dit doen as kind van die Here. Hy wil dit hoor. Hy sit en luister met gespitste ore na elke gebed. Lees gerus Op 8:1-6, waar staan dat God die hemel stilmaak om goed te kan luister na die gebed van sy mense. Ons mag en kan en moet ons hart voor Hom uitstort. Hy hoor!
Maar Paulus-hulle het meer gedoen as net bid. Hulle het tot lof van God gesing (Hand 16:25b). Later, in Fil 4:6, skryf Paulus (en hy het sekerlik hierdie gebeurtenis onthou terwyl hy vir hulle skryf) dat hulle in alles hulle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend moet maak.
Lofprysing en danksegging vorm deel van gebed
Dalk mis ons hierdie punt in ons eie gebede: die lofprysing en danksegging. Ons haak vas by vra en soebat. Ons neem nie God op sy woord dat Hy gee as ons vra nie. Daarom bid ons, maar bly ons wonder. Ons bid, en vra vir onsself: Wat help dit ooit? Ons bid en dink dit maak tog nie ’n verskil nie. Dinge sal gebeur soos dit sal gebeur.
Paulus en Silas het nie so gedink nie. Hulle het daar in die tronk, in hulle haglike omstandighede, vir God geprys, want hulle het geglo hulle is ook daar in God se hand, en Hy hoor hulle na Hom roep.
Psalmdigters
Dis ook wat dikwels met die psalmdigters gebeur. Neem as voorbeeld Psalm 28, wat só begin: “Ek roep na U, Here, my Rots, moet tog nie doof wees vir my nie. As U bly swyg, sal ek wees soos ’n sterwende. Hoor my smeekstem as ek na U roep om hulp …” En dan, in vers 6: “Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeeekstem gehoor.” Die skrifverklaarders sê vir ons ons moet ons nie verbeel hierdie laaste deel is later bygevoeg, nadat die Here uitkoms gegee het nie. Dit is deel van die psalmdigter se gebed: hy smeek nie net nie, maar sing by voorbaat oor die uitkoms wat hy weet die Here sal gee. Of Psalm 130: “Uit die dieptes roep ek na U, Here …” En dan aan die einde: “Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.”
Gebed is meer as pleit en soebat. Dit is ook ’n vasgryp, in die geloof, aan God se troue liefde, omdat jy weet: by Hom is die uitkoms seker.