Dink net hoe lekker sal dit wees as jy na skool op uitnodiging van die koningin van Engeland of Holland of die kanselier van Duitsland of die president van Frankryk of die VSA in die beste hotel van daardie land kan gaan bly, dieselfde kos as die koning of president kan eet, en boonop gratis aan die beste universiteit van daardie land kan gaan studeer!
Dis mos ’n droom wat waar geword het as dít met jou gebeur! En dis so min op meer wat met Daniël en sy drie vriende gebeur het: Koning Nebukadnesar bied aan hulle die ongelooflike geleentheid om in die hoogste beskawing van die destyds bekende wêreld te gaan woon, drie jaar lank ’n graadkursus in die lettere aan die Universiteit van Babel te volg, en boonop van die koninklike spyskaart hulle etes te bestel! En dit alles sou hulle nie ’n enkele sent kos nie. Dit lyk mos nou vir my na ’n “bargain”, soos die Engelsman sal sê.
Maar soos jy oral mos maar kry, was daar onder die klomp studente vier pretbederwers. Daniël, Gananja, Misael en Asarja hou nie van die koningskos nie! Hulle wil liewer groente en water hê, in plaas van die heerlike gebraaide skaapvleis en wyn en bier! Kan jy nou glo.
Maar wag, as ons so ’n bietjie beter kyk, sien ons dat dit nie ’n geval was dat hulle net nie van die kos gehou het nie. Hier staan hulle wou hulle nie met die koning se kos verontreinig nie. In daardie dae was dit so dat jy lojaliteit verskuldig was aan dié een wie se kos jy eet. En Daniël wou hom nie só aan Nebukadnesar vasbind nie. Maar ek dink daar was heelwat ander Joodjies wat ewe lustig saam met die ander studente weggelê het aan die heerlike kos! En hulle het waarskynlik vir Daniël-hulle gelag oor die groot bohaai wat hulle opskop, en dit oor ’n bietjie kos. Wat is dit nou om die koning se kos te eet? Hulle moet tog eet, so hoekom nie lekker eet nie? As dit pap reën, moet jy skep!
Maar Daniël en sy drie vriende laat hulle nie so maklik vang nie. Want hulle sien raak dat dit hier nie maar net om ’n bietjie kos gaan nie. Nebukadnesar is besig met ’n baie slinkse plan om hierdie jong manne, die room van die land, alles te laat vergeet wat hulle in hulle ouerhuise geleer het. Hy is besig om hulle te laat vergeet dat hulle deel van die volk van God is. Hy is besig om hulle Babiloniërs te maak.
Hoe doen hy dit? O, hy is baie slinks. Hy gryp hulle nie aan die keel en sê: “Word nou Babiloniërs of ek wurg julle!” nie. Nee, hy is baie goed vir hulle om só hulle guns te wen. Maar baie subtiel, baie versigtig begin hy hulle gewoond maak aan ’n nuwe kultuur en ’n nuwe godsdiens.
∙ Daarom laat hy hulle in Babel woon, ver weg van hulle ouerhuise en die behoudendheid van die bekende omgewing (vers 3).
∙ Hulle moes ’n nuwe taal, Galdees, die taal van Babel, leer praat en skryf (vers 4).
∙ Hulle moes ’n nuwe kultuur aanleer. Daarom laat hy hulle nuwe kos eet, die kos van Babel (vers 5).
∙ En, les bes, hulle moes nuwe name kry (vers 7), want sien, hulle eie name het hulle nie net aan hulle dierbares tuis herinner nie, maar ook gedurig daaraan herinner dat hulle aan die Here God behoort: Daniël beteken bv. ‘God is my regter’, en Gananja ‘Die Here is genadig’. Daarom kry hulle ander, Babiloniese name.
Die eet van Nebukadnesar se kos maar net deel was van ’n baie groter program om hulle harte te wen. Dit gaan nie maar net om taal en kultuur en eetgewoontes nie. Dit gaan om hulle harte, hulle lojaliteite. Die kos was maar net die begin van ’n sagmaakproses, en Daniël wou nie eens een enkele tree op hierdie pad saamloop nie.
Nou ja, Nebukadnesar is lankal dood. Ons hoef gelukkig nie vir hom lig te loop nie. Reg? Verkeerd! Nebukadnesar is vandag lewendiger as ooit. Goed, sy naam het dalk intussen verander, maar nie sy metodes nie. Want soos destyds, gebruik Satan vandag steeds sy agente om ons subtiel weg te lok van die regte pad, om ons te laat vergeet dat ons God se kinders is. Satan sê nie openlik vir ons ons moet ophou glo en God verloën nie. So onnosel is hy nie, want hy weet ons sal nie daarvoor val nie. Daarom kom hy met ’n ompad na ons toe, soos hy deur Nebukadnesar met ’n ompad na Daniël en sy vriende gekom het. Hy maak ons sag deur ons geleidelik aan die slaap te sus, sodat ons later amper nie meer agterkom dat ons op die verkeerde pad is nie. As jy jou weer kom kry, is jy so gewoond aan die verkeerde dat dit jou nie meer hinder nie.
Kom ek gebruik ’n voorbeeld of twee.
Dié van julle wat ouer is, sal weet dat daar ’n tyd was toe egskeiding eintlik ongekend was. En saamwoon sonder dat jy getroud was, was heeltemal taboe.
Daar was ’n tyd toe growwe taal onaanvaarbaar is, maar vandag is dit alledaags. Mense praat so, skryf so op Facebook, en verdedig dit selfs.
En – ons het daaraan gewoond geraak! Ons aanvaar dit as deel van die lewe. Want die duiwel het daarin geslaag om ’n wêreld te skep waarin elkeen kan maak en sê en doen net soos hy wil. Elkeen doen wat reg is in sy eie oë.
In Daniël se tyd het die duiwel Nebukadnesar gebruik. Vandag gebruik hy ander maniere om ons sag te maak. Soos flieks en sepies en tydskrifte. Want daarin stel hy ons bekend aan ’n siek, bose wêreld waar losbandigheid, gierigheid, wetteloosheid, geweld en bedrog normaal is. Maar dit is nie normaal nie! Dis ’n gruwel in God se oë. En solank ons daarna kyk, breinspoel die duiwel ons dag vir dag.
Daniël en sy vriende het nee gesê. Want hulle het gesien wat Nebukadnesar se plan was. Hulle het gesien dat dit nie maar net om kos gegaan het nie, maar om hulle harte.
Daarom daag ek jou uit: neem vandag nog ’n besluit. Sê nee vir Satan! Pas op vir sy lis. Koester jou integriteit. Doen wat die Groot Boek sê. Bly by wat jy geleer het. Stap weg van daardie verhouding wat onafwendbaar op ’n ramp afstuur. Breek met vriende wat hulle nie steur aan God en sy Woord nie. Moenie dink jy sal ééndag opstaan vir die Here Jesus nie …
Weet julle hoe oud was Daniël-hulle toe hulle nee gesê het? Veertien jaar oud! En omdat hulle in die klein dingetjies getrou aan God was, kon hulle later die groot toetse óók deurstaan. Daarom lees ons in Dan 3 hoedat hulle vreesloos voor Nebukadnesar kon staan en weier om sy beeld te aanbid. En later kon hy die honger leeus trotseer, want hy het geleer dat God hom help.