JERUSALEM. – Juda het weer ’n koning en daarby boonop ’n nasaat van koning Dawid! Joas seun van Ahasia is gister op die sabbat hier in die tempel deur hoëpriester Jojada tot koning gesalf, om só die onwettige bewind van Atalia effektief te beëindig.

Priesters, Leviete en geharde soldate het soos babatjies gehuil toe die sewe jaar oue prins Joas aan die uitgelese groep mense in die tempel voorgestel is as die enigste oorlewende nakomeling van koning Dawid. Hoëpriester Jojada se vrou Jehoseba, ’n halfsuster van koning Ahasia, het hom ses jaar gelede met Atalia se prinsemoord in hulle kwartiere in die tempel weggesteek, sodat hy aan haar wraak ontkom het.

Ten aanskoue van talle tempelpersoneellede, tempelgangers en feitlik die hele koninklike wag, het hoë priester Jojada die jong prins vorentoe laat kom, hom gekroon en die koninklike volmag aan hom oorhandig. Nadat hy tot koning gesalf is, het almal hande geklap en geroep: “Lank lewe die koning!”

 

Atalia se einde

Die trompetgeskal en gejuig van die volk het Atalia se aandag getrek. Toe sy in al haar glorie die tempel instap, het die mense nie voor haar neergeval soos gewoonlik nie. Hulle het haar gegryp en na die Perdepoort by die paleis gesleep, waar sy doodgemaak is.

Die laaste woorde wat die gewese koningin geuiter het, was glo: “Verraad, verraad!” Dié keer was haar lakeie egter magteloos, en kort na haar dood het die Baälpriester Mattan en sy trawante aan die beurt gekom. Die Baältempel is ook verwoes.

 

“Die Here het beskik”

Toe die ergste opwinding laat gistermiddag begin bedaar het, het die heldin van die drama, koning Joas se pleegma Jehoseba, ’n kort onderhoud aan Bybelkoerant toegestaan. Sy het gesê die afgelope ses jaar was vir haar en haar man ’n baie spanningsvolle tyd. Hulle het voorgegee dat koning Joas ’n seun is wat, net soos die profeet Samuel van ouds, deur sy moeder aan die Here beloof is en daarom by hulle in die tempel woon. Die moontlikheid het egter altyd bestaan dat iemand hom kon herken, of dat van die mense wat geweet het wat aangaan, hulle mond kon verbypraat. “Gelukkig is die spanning nou iets van die verlede. Die Here het tot nou toe beskik, en ek glo Hy sal vorentoe ook vir ons sorg,” het sy gesê.

Hoëpriester Jojada sal voorlopig vir koning Joas as regent bystaan totdat die koning oud genoeg is om sy koninklike pligte te kan behartig.

 

KONINKLIKE PROKLAMASIE

Ek, Ahasveros, koning van die Ryk van Persië en Medië, verklaar hiermee:

Die volgende reëling geld in al honderd sewe en twintig provinsies in die Ryk, van Indië tot by Kus, vir die 13de Adar:

  • Die Jode in alle stede het die reg om op dié dag bymekaar te kom en hulle te verdedig.
  • Hulle kan enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet uitroei, ook kinders en vrouens.
  • Hulle kan op hulle aanvallers se besittings beslag lê.

Hierdie proklamasie moet in elke provinsie as wet afgekondig word.

Geproklameer in die naam van sy majesteitlike hoogheid koning Ahasversos, koning van die Ryk van Persië en Medië, en verseël met sy amptelike seël, op hierdie drie en twintigste dag van Siwan, in die koninklike paleis te Susan.

 

 


Wonders gebeur nog!

In Ps. 33:9 jubel die digter dit uit: “… want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar.” Só het Hy die hemel en die aarde gemaak, en só het Hy al talle wonders gedoen. Tog is daar net soveel wonders wat nié op ’n buitengewone manier plaasvind nie, maar gebeur daar waar God se kinders in verantwoordelikheid handel. Soos Jojada en sy vrou Jehoseba wat die klein prins Joas wegsteek en só die Dawidsgeslag (uit wie die Messias gebore moes word) van algehele uitwissing red. En soos Ester en Mordegai wat ’n ganse volk van ondergang bewaar.

Waarlik, voor Gods gesag moet die duisternis en die Bose wyk!

Vandag nog gebeur daar sulke wonders. Baie mense kyk hierdie wonders mis, en daardeur mis hulle ’n wonderlike geloofsversterking. Dié mense wat egter met ’n geloofsoog na die wêreld kyk, sien nie net God se hand in soveel dinge nie, maar ontdek ook dat God hulle as sy medewerkers op aarde gebruik.

image_pdfimage_print

Views: 1

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.