Koning gelas ondersoek na tempelfondse
Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Koning Joas het gisteroggend op die drie en twintigste herdenking van sy kroning as koning ’n skerp aanval op die tempelpersoneel gedoen omdat die toestand van die tempel “haglik” is. Hy het sy ontevredenheid uitgespreek met die feit dat die priesters nog nie gehoor gegee het aan sy versoek om die tempel te herstel nie.
“Die tempel is nou reeds ’n honderd jaar oud, en het dringend aandag nodig,” het die koning gesê. Hy het bygevoeg dat hy nou moeg is daarvoor om net altyd die verskoning te hoor dat daar nie genoeg geld is nie. Daar ís genoeg geld, mits dit reg bestee word. “Ek is persoonlik bewus van talle donasies wat priesters die afgelope paar jaar vir die tempelherstelfonds ontvang het. Wat het van daardie geld geword?” wou hy weet.
Die koning het bekend gemaak dat hy reeds ’n kommissie van ondersoek na die bestuur van die tempelfondse gelas het. Hierdie kommissie, onder voorsitterskap van hoëpriester Jojada, moet nie net die besteding van bestaande fondse ondersoek nie, maar ook ’n aanbeveling doen oor hoe die nodige fondse vir die herstel van die tempel uit die bestaande offers van die volk en die tempelbelasting geallokeer kan word.
’n Interimverslag van die Jojada-kommissie is laat gistermiddag aan die koning voorgelê (sien berig elders in dié uitgawe).
- Lees hiervan in 2 Kon. 12:4-7.
JOJADA-KOMMISSIE STOP SKUIWERGATE TOE
Van ons godsdiensredaksie
JERUSALEM. – Hoëpriester Jojada, die voorsitter van die Jojada-kommissie van ondersoek na tempel fondse, het op ’n perskonferensie laat gistermiddag sy voorlopige bevindings bekend gemaak.
Hoëpriester Jojada is vroeër deur koning Joas gelas om ondersoek na die tempel se geldsake in te stel, aangesien die herstel van die tempel tot nog toe nie kon begin nie omdat daar glo nie geld is nie. Die kommissie het vroeër gistermiddag ’n interimverslag aan die koning voorgelê.
Die kommissie het bevind dat daar ’n gebrekkige oorhoofse beheer oor die tempel se finansies is. “Die fondse vir die tempeldiens en die priesters en Leviete se lewensonderhoud word verkry uit die tempelbelasting wat elke landsburger moet betaal, en verder ook uit die offers en gawes wat die aanbidders na die tempel bring.
“Hierdie gawes word deur die betrokke priester aan diens ontvang, maar daar is geen voorgeskrewe prosedure oor hoe die priester met hierdie fondse moet handel nie. Die priester moet sy eie diskresie gebruik, en dit skep uiteraard ’n situasie waarin die geld nie noodwendig vir die prioriteitsake aangewend word nie,” het die kommissie bevind.
Om te verseker dat die gawes voortaan wel in die tempelherstelfonds inbetaal sal word, het die kommissie besluit om ’n skatkis langs die altaar te plaas waarin die priester al die geld wat na die tempel gebring word, moet gooi. Dié geld sal slegs vir die herstel van die tempel aangewend kan word. Geen tempelgereedskap sal hiermee aangeskaf word nie.
Slegs die geld vir skuldoffers en sondeoffers sal voortaan vir die priesters se lewensonderhoud aangewend word.
Hoëpriester Jojada wou nie reageer op ’n vraag of die kommissie vermoed dat korrupsie en bedrog deur sekere tempelpersoneellede gepleeg is nie. Al wat hy wou sê, is dat die kommissie se werk nog nie afgehandel is nie. Hy het egter later toegegee dat die kommissie nie dié moontlikheid buite rekening kan laat nie.
- Lees van Jojada se plan in 2 Kon. 12:8-16.
Bekende rabbi besoek Betanië
Van ons Nuwe Testament redaksie
BETANIë. – Die bekende rabbi Jesus van Nasaret kom vandeesweek in Betanië aan vir ’n kort besoek. Hy sal vir die duur van sy besoek by Lasarus en sy susters Maria en Marta tuis gaan. Lasarus het alle belangstellendes genooi om die rabbi by hom aan huis te kom ontmoet.
- Lees dit in Luk. 10:38-42.
Prioriteite
Dat die tempelpersoneel se hantering van die geldsake nie bo verdenking was nie, lyk seker. Maar Joas was óók maar laks om drie en twintig jaar te wag voordat hy optree.
Iewers, so lyk dit, het die herstel van die tempel van die agenda af verdwyn. Ander sake het voorrang geniet.
Jesus moes by geleentheid ook sy vriendin Marta hieroor aanspreek: sy moes onderskei tussen wat wesenlik en wat bykomstig is, soos Paulus ook vir die Filippense bid in Fil. 1:9-11.
Waar lê jóú prioriteite? Vir hierdie dag? Vir jou lewe?
Views: 7