Een van die eerste reaksies as ’n slegte ding oor jou pad kom, is die vraag of God dalk daardeur vir jou iets wil sê. En dan soek jy hier binne rond om te kyk of daar dalk iets is waaraan jy moet werk. Dalk kry jy iets, maar heel waarskynlik kry jy nie iets nie, en sit jy met ’n klomp onbeantwoorde vrae.
Dis mos hoe die voorspoedsteologie ook werk. God wil jou seën, word gesê, en as jy nie sy seën beleef nie, is die oorsaak in jouself. As jy net lank genoeg soek, sal jy die oorsaak kry, en sodra jy dit regmaak, gaan die seëninge van Bo weer instroom.
Die mens het te veel van die aarde vir homself opgeëis.
En nou sit ons in ’n pandemie, en mense wonder waar lê die fout dan. Wie het drooggemaak? Wie se skuld is dit? Die maklike antwoord is: ons almal het ’n aandeel. Die mens het te veel van die aarde vir homself opgeëis. Die diere se natuurlike habitat word al minder, met die gevolg dat daar steeds nouer kontak tussen mens en (wilde) dier is. Een of ander tyd moes dit gebeur dat die siektes van die diereryk na ons oorgespring het, en ons het geen weerstand teen dié mens-vreemde siektes nie. Hoe langer ons die aarde oorontgin, hoe meer van dié soort rampe gaan ons tref.
Die vraag is egter of God hierdeur vir ons iets wil sê. Seker? Ons moet ophou om die aarde te vernietig met ons verbruikersmentaliteit. Maar dis ’n blote natuurmatige saak – een waaraan ons aandag móét gee – maar ek dink nie dit beantwoord heeltemal die vraag oor wat God vir ons wil sê nie.
Die Bybel
As ons na die Bybel blaai, stuur dit ons op ’n ander koers. Hebreërs 1:1-2 sê dit reguit: God het sy finale woord aan ons gegee deur sy Seun. As ons vra na wat God sê, sal ons moet luister na wat Jesus sê, en nie in elke terugslag een of ander bonatuurlike vermaning inlees nie. Jesus het ons kom leer dat die lewe daaroor gaan om God lief te hê, en ons naaste. Dít is wat God vir ons sê, vandag nog.
Natuurlik het Jesus ook oor onnatuurlike verskynsels gepraat en hoe ons dit moet interpreteer. Hy het ons geleer dat dit herinneringe is dat Hy weer kom (sy profetiese rede in o.a. Luk 21:10-11). Ons hoor in dié dinge as ’t ware sy voetstappe nader kom. Wanneer Hy gaan kom, weet ons nie (die Here Jesus ook nie!), maar ons kan wel uit die tekens aflei dat sy wederkoms nader kom.
Nie wat nie, maar hoe
Eintlik vra ons die verkeerde vraag in die pandemie. Die vraag is nie: Wat sê God vir ons? nie, want daarop gaan ons nie uit God se spreke in die Bybel ’n helder antwoord kry nie. Die regte vraag is: Hoe nou gemaak? Hoe kom ons hierdeur? Hoe help ons mekaar om behoue anderkant uit te kom?
Dié vraag het ’n antwoord. Paulus skryf in Rom 13:8 (2020-vertaling): “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.” Dis hoekom ons ons moet laat inent teen die virus, maskers dra en ons afstand van mekaar moet hou. Dit gaan nie maar net om myself en mý gesondheid nie; dit gaan ook oor my naaste en dat ek my naaste wil beskerm. Só is ek en jy deel van die antwoord.
Views: 12