Van ons Ou Testament redaksie

GILGAL. – Die waardige ou profeet Elisa seun van Safat is sterwend. Die profeet, wat al diep in die tagtig is, het oudergewoonte van sy tuiste in Abel-Megola na die profeteskool hier in Gilgal gekom vir ’n welwillendheidsbesoek, toe hy skielik ernstig siek geword het. Dokters glo nie hy sal weer uit die siekbed opstaan nie.

Koning Joas van Israel het gister spesiaal van Samaria af hierheen gereis om van die profeet afskeid te neem. Elisa het ’n baie lang verbintenis met die koningshuis van Joas. Dit was hy wat destyds koning Joas se oupa, genl. Jehu seun van Josafat seun van Nimsi, tot koning laat salf het. Dié salwing het die einde van die koningshuis van Omri ingelui. Sedertdien het Elisa dikwels as raadgewer vir die Israelse konings opgetree.

Koning Joas was baie emosioneel toe hy die profeet gegroet het. Elisa het vir oulaas voorspel dat Israel die Arameërs verpletterend by Afek sal verslaan.

Koning Joas het ná die besoek aan Die Bybelkoerant gesê Elisa was soos ’n vader vir hom, en hy sal die profeet baie mis.

  • Lees van hierdie laaste ontmoeting tussen koning Joas van Israel en Elisa in 2 Kon. 13:14-21.

 

JONG RABBI MAAK OPSLAE

Van ons Nuwe Testament redaksie

KANA. – Die jong rabbi Jesus van Nasaret bly in die nuus. Hy het so pas uit Judea na Galilea teruggekeer, en hy het al klaar weer ’n wonderwerk verrig.

’n Regeringsamptenaar het gister uit Kapernaum hier aangekom toe hy verneem het dat die rabbi terug is in Galilea. Hy het gevra dat die rabbi sy sterwende seun sal genees. Die rabbi se antwoord was kort en bondig: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Ons korrespondent in Kapernaum berig dat die seun gister net mooi dieselfde tyd merkwaardig van sy siekte herstel het.

Intussen word daar druk oor die rabbi se identiteit bespiegel. Party mense glo hy is Elia, of een van die ander profete van ouds wat nou weer verskyn het. Daar is selfs bewerings dat hy die boeteprediker van die Jordaan, Johannes die Doper, is wat uit die dood opgestaan het. Ook koning Herodes, wat die Doper laat onthoof het, steun na bewering hierdie standpunt.

Koning Herodes het glo sy kantoor opdrag gegee om ’n ontmoeting met die rabbi te reël, maar sy personeel kon tot nog toe nie daarin slaag nie.

 

Insiggewende debat by die Areopagus

ATENE. – ’n Baie opwindende en insiggewende debat word vanmiddag by die Areopagus verwag.

Só sê Dionisius, ’n vooraanstaande lid van die Areopagus. Hy het aan Bybelkoerant gesê hulle het ’n baie welsprekende Jood, ene Paulus van Tarsus, genooi om hulle te kom toespreek. ’n Paar vooraanstaande Epikureërs en Stoïsyne sal as respondente optree.

Paulus het die aandag getrek met ’n geheel nuwe en baie vreemde leer wat hy aanhang, onder andere oor die opstanding uit die dood. Hy was al ’n hele aantal kere op die stadsplein met Ateners in redenasies betrokke. Dit sal dus baie interessant wees om te sien hoe hy homself kan handhaaf in ’n debat met van die stad se voorste filosowe.

Die vergadering begin stiptelik om drie-uur.

 

 


Wie is Jesus vir jou?

Ons moet almal een of ander tyd Jesus se vraag aan sy dissipels beantwoord: “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?” (Matt. 16:15).

Joas se probleem was dat hy nie hierdie vraag so heelhartig soos Petrus wou beantwoord nie. Hy het maar aan Elisa se speletjie met die pyle meegedoen om die sterwende ou man nie aanstoot te gee nie, en sy uitsprake met ’n knypie sout geneem. Daarom was Elisa so ontsteld. Die Ateners, weer, het Paulus uitgelag oor sy verspotte idees. En tog het ’n paar van dié wat hom gehoor het, gelowig geword. Net soos die regeringsamptenaar van Kapernaum, vir wie Jesus se woord genoeg was.

Joas se gebrek aan geloof het God aan bande gelê. Aan die ander kant: ons geloof kan ’n onoorwinlike wapen wees in God se stryd teen die magte van die doderyk (Matt. 16:18). Dáárom wil Jesus weet: “Wie, sê jy, is Ek?”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.