Met die oog op Bybelsondag op 29 Augustus stuur ek hierdie stukkie uit oor die wonderlike boek wat ons Die Bybel noem.

 

Wat was die ingrypendste gebeurtenis van die afgelope millennium?

’n Mens sou die volgende kan noem:
• Die uitvinding van die kompas om die wêreld te ontdek (1117)
• Christopher Columbus se ontdekkingstog (1492), of Vasco da Gama (1498)
• Galileo se ontdekking dat die aarde om die son wentel (1610)
• Newton se swaartekragwet (1666)
• Nobel se ontdekking van dinamiet (1867)
• Röntgen wat x-strale uitgevind het (1895)
• Die Wright-broers se eerste vliegvaart (1902)
• Die begin van TV-uitsendings (1928)
• Transistors wat die weg tot die rekenaareeu open (1947)
• Armstrong se maanlanding (1969)
• Dalk die koms van selfone!!

 

Gutenberg-Bybel

’n Span wetenskaplikes wat deur die gesaghebbende tydskrif Life uit verskillende vakgebiede saamgestel is, het tot die slotsom gekom dat die gebeurtenis van die millennium wat die grootste invloed op die wêreld gehad het, het amper in die middelpunt van die 1000 jaar plaasgevind: Die druk van die Gutenberg-Bybel in 1455! Die druk van die Bybel, die Woord van God, met sy 42 reëls in twee kolomme was die aangrypendste gebeurtenis van die millennium! Agt-en-veertig van die 200 Bybels wat Gutenberg gedruk het, bestaan vandag nog. Die Here het dit so beskik dat die Kerkhervorming nie baie jare later nie, sou plaasvind. Waar die terugkeer na die Woord van God een van die pilare van die Kerkhervorming was, was die tegnologiese moontlikheid geskep om die Bybel te druk en te versprei. ’n Skrywer het selfs beweer dat die Kerkhervorming sonder die boekdrukkuns van Gutenberg, doodgebore sou wees.

’n Mens kan jou moeilik voorstel hoe ons geloofslewe sou wees as ons nie Bybels gehad het nie. Die meeste van u het waarskynlik grootgeword met ’n Bybel op u bedkassie. Die meeste van u sal ook die Bybel as een van die noodsaaklike items inpak as u iewers heen moet gaan vir ’n paar dae. In my jare in die bediening het ek dit nog net 2 keer teengekom dat daar gladnie ’n Bybel in ’n huis is nie.

 

Nuwe era vervang boeke

Ons het teen die einde van die vorige eeu ’n nuwe era ingegaan. Vir die grootste gedeelte van die 20e eeu was die boek dié groot kommunikasiemiddel. Daarom was lees en skryf jou toegang tot die wêreld. Maar dit het verander. Boeke is nie meer die primêre vorm van inligting-oordrag nie; beelde het dit vervang – die TV en die rekenaar met sy ongelooflike vermoë om ’n boodskap met beelde oor te dra, het vir baie mense, en beslis vir die meerderheid jongmense, die primêre kommunikasiebron geword. Ons kinders lees nie meer nie. Hulle kyk TV, jakker op die Internet rond en speel rekenaarspeletjies.

En in die proses het die Bybel ook in die slag gebly. Ons kinders lees nie meer Bybel nie. Onlangs het ’n onderwyseres tydens Bybelonderrig haar klas gevra wie lees nog Bybel, en net drie van die kinders het hulle hande opgesteek. In die koshuise kla die kinders dat hulle sukkel om Bybel te lees, want niemand steur hulle aan die stiltetyd wat daarvoor opsy gesit word nie. Ek dring daarop aan dat my katkisante hulle Bybel saambring klas toe, en ons lees baie daaruit. Vir baie van dié kinders is dit die enigste keer die week wat hulle ’n Bybel oopmaak. Daarom is dit vir hulle ’n groot probleem om ’n Skrifgedeelte op te soek in die Bybel. Ek sê die anderdag vir die klas ons lees uit Jakobus 2. Die een ou het vreeslik in die indeks gesoek, maar ná ’n ruk opgegee en sy Bybel eenkant toe geskuif. Ek vra hom toe hoekom hy nie die gedeelte opsoek nie, toe sê hy sy Bybel het nie die boek Jakobus in nie. Ek sê toe vir hom dis onmoontlik, hy moet weer kyk. Toe sê hy nee, dit is so, want hy het nog een van die ou Bybels.

 

Maar hoekom is dit so belangrik dat ’n mens die Bybel lees?

’n Mens sou seker verskillende antwoorde op dié vraag kon gee, maar een antwoord is dat ons in die Bybel vir God leer ken: Wie Hy is en hoe Hy is, hoe Hy dink oor die wêreld en oor ons, oor sonde en kind-van-God-wees. Ons leer God ken uit die Bybel. Die woord wat in die teologie daarvoor gebruik word, is: God openbaar Hom aan ons in die Bybel. Mens kan ook sê: Hy maak sy hart vir ons oop in die Bybel.

Nouja, as ’n mens iemand wil leer ken, help dit jou nie te veel as jy vir mense vra hoe die ander persoon is nie. Hulle kan vir jou sê die ou is gaaf en hy gee om vir ander, of hy het ’n verskriklike humeur en sulke soort inligting, maar dit help jou net ’n entjie. Eintlik, as jy die ander persoon regtig wil leer ken, moet jy hom beleef. Jy moet sien hoe hy optree teenoor jou en teenoor ander mense. Jy moet tyd met hom deurbring; ’n sak sout saam met hom opeet voordat jy regtig kan sê jy ken hom. Ek sê altyd vir my katkisante: voor jy besluit om ernstig oor iemand te raak en aan trou dink, gaan kuier by daardie een se huis sodat jy kan sien hoe hy/sy met familie praat en saamleef, want dít is hoe dit eendag met sy/haar eie gesin ook sal gaan.

 

Verhale maak God bekend

Iets hiervan is van die Bybel ook waar. As God Homself aan ons bekend maak in die Bybel, doen Hy dit nie deur ’n lysie vir ons te gee van al sy hoedanighede nie. U sal verniet in die Bybel ’n bladsy soek met ’n beskrywing daarin van hoe God lyk. Nee, as God vir ons wil vertel Wie Hy is, vertel Hy vir ons verhale. Dis hoekom die Bybel wemel van stories – Adam en Eva, Kain en Abel, Noag, die Toring van Babel, Abraham en Sara, Lot en sy vrou, Isak en Rebekka en hulle seuns Esau en Jakob, Josef, Moses en die uittog, die verhaal van die woestynreise, Josua en die intog in Kanaän, Samuel, Saul, Dawid … Meer as die helfte van die Bybel bestaan uit verhale.

Die grootste van al die verhale in die Bybel is natuurlik die verhaal van God se Seun wat mens geword het. Die Hebreër-skrywer sê in Heb 1:3 as jy ’n prentjie soek van hoe God nou regtig lyk, moet jy na Jesus kyk, want Hy is die afskynsel van die heerlikheid van God en die ewebeeld van die wese van God.

So as ’n mens die Bybel lees en al die verhale in die Bybel, moet ’n mens weet dat jy nie in die eerste plek van Salomo of Jeremia of Daniël of Paulus lees nie, want in die eerste plek is die Bybel God se storie waarin ons lees hoe God met mense geleef het. En in die lees van die storie beleef jyself ook iets van die Bybelkarakters se stryd en worsteling en hartseer en vreugdes – want dis wat ’n storie doen: sonder dat jy dit regtig agterkom, betrek die storie jou by die verhaal wat afspeel, word jy deel van die storie, en leer jy in die deel-wees van die storie ook die God oor wie die storie handel, beter ken.

 

Prentjie van God

As ek nou ’n beeld mag gebruik: miskien onthou jy nog die Australiër Rolf Harris. Hy ’n TV-reeks gehad waarin hy gesing het – I’m Jake the Peg with an extra leg was een van sy gewildste treffers. Maar dan het hy ook altyd in sy program ’n groot prent geteken. Ek kon my altyd verkyk aan sy tekeninge, want hy het meestal nie op so ’n plek begin dat jy dadelik kon weet wat hy teken nie. Eers as hy ’n rukkie besig was, het jy begin agterkom waarmee hy besig is, en soos hy al meer strepe en kolle en dinge ingeteken het, het die prent vorm aangeneem en duideliker geword, totdat die hele prent in al sy glorie voor jou gestaan het.

Die Bybel wil ook vir ons ’n prent van God teken, en elke keer wanneer ons ’n gedeelte uit die Bybel lees, kom daar nog ’n paar strepe op die prent by. Partykeer maak die strepe nie dadelik vir ons sin nie, want ons het nog nie genoeg detail om dit te kan plaas nie. Partykeer lyk dinge vir ons heeltemal onverstaanbaar en uit die koers, maar hoe meer ons lees, hoe beter ons die storie van God met ons en sy wêreld verstaan en ken, hoe meer kry die prent van God sin en pas dinge in ’n geheel in.

 

Verskraalde visie op God

Ons verskraal ons visie op God verskriklik as ons net sekere gedeeltes uit die Bybel lees; as ons nie die hele Bybel lees nie, en veral ook nie die verhale in die Bybel lees nie. In die verhale is God self óók aan die woord, en dan op ’n baie besondere manier. Jy kan ’n honderd maal lees dat God die wêreld liefhet, maar jy verstaan die ongelooflikheid van sy liefde eers as jy die verhaal lees van Jesus se koms na hierdie wêreld, en van sy lyding en sterwe. Dán eers raak dit jou. Jy kan ’n honderd keer hoor dat God die sonde haat, maar jy sal nie weet hoe dit Hom afstoot as jy nie die verhaal van die sondvloed lees nie, of Sodom en Gomorra, en natuurlik Golgota. Jy kan oor en oor hoor dat God ’n God is wat wonders doen, maar jy verstaan dit baie beter as jy saam met Moses en die Israeliete by die Rietsee staan en weet: net ’n wonderwerk kan jou nou red. Jy kan lees dat God ’n mens nie los nie, maar as jy die Josef-verhaal lees, kry dié wete ’n heel nuwe betekenis. Jy kan hoor mense sê God kan jou verander, maar as jy die verhaal van Paulus lees, sal jy nooit weer daaroor twyfel nie.

So, in die Bybel leer ons God ken, leer ons die pad raaksien wat Hy met mense loop, en dis verskriklik belangrik, want dit is ook die pad waarop óns moet loop. Die Hebreërskrywer noem die mense uit die Bybel die skare geloofsgetuies wat ons wil help en aanmoedig om die geloofspad met volharding te loop (Heb 11 en 12). Want in die Bybel leer ons nie net vir God beter ken nie, maar ook onsself. In die Bybelse karakters ontdek jy telkens jouself terug, herken jy jou eie swakhede en worstelinge en oorwinnings.

 

Nie vir moderne lesers geskryf

Ongelukkig is die Bybel nie ’n baie gebruikersvriendelike boek nie. Onthou, die Bybel is nie in die eerste plek vir ons geskryf nie. Dit is geskryf vir mense wat in ’n totaal ander wêreld as ons geleef het. En daarom sukkel mens soms om die Bybelse verhaal met al sy dimensies en nuanses goed te begryp. Daarom bly die Bybelse karakters dikwels vir ’n mens papierkarakters en verbeel jy jou dit was vir hulle makliker om te glo as vir ons; dat hulle nie die soort versoekings en stryd geken het wat ons ken nie. Dit is hoekom ek maar aanhou met skryf: omdat ek ’n verkondiger van die Woord is. Omdat ek met my skryfwerk mense wil help om die Bybelse boodskap nuut te hoor en nuut te ontdek. Miskien net een voorbeeld: ’n vrou vertel my dat ’n vriendin haar gebel het. Sy het my boekie “Batseba” gelees, en die verhaal het haar só geraak dat sy net daar die skelm verhouding waarin sy was, beëindig het.

So: lees jou Bybel, lees en lees en lees! En moenie die verhale oorslaan nie. Dit verras ’n mens elke keer weer as jy ontdek hoe God deur ’n eenvoudige verhaal ’n mens kan aanspreek en verander.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.