Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Na die skittersege oor die Edomiete verlede maand is die tyd nou ryp dat Juda sy stem dik maak in Kanaän.

Só sê koning Amasia, wat die Judese leër in die Soutvlakte aangevoer het tot ’n klinkende oorwinning oor die gedugte magte van Edom. Hy was gister die feesspreker by die onthulling van ’n paar afgodsbeelde wat hy by die paleis laat oprig het. Hy het die afgodsbeelde in die oorlog teen Edom buitgemaak.

Koning Amasia sê wat hom veral verbly, is die feit dat Juda dié geskiedkundige oorwinning behaal het sonder die hulp van die Israelitiese huursoldate. Koning Amasia het aanvanklik ’n mag van eenhonderd duisend Israelitiese soldate gehuur om die Judese leër te versterk, maar na deeglike besinning het hy besluit om nie van hulle dienste gebruik te maak nie, en hulle huis toe gestuur.

Die oorwinning het ’n groot rol gespeel om die Judese leër selfvertroue te gee. “Ons sien nou dat ons nie ’n duim hoef terug te staan vir enige ander weermag nie,” het die koning gesê. Die eerste taak wat nou op Juda rus, is om Israel op sy plek te sit. “Ons bure het in die laaste tyd glad te astrant na my sin geword,” het die koning gesê. Hy het reeds ’n oorlogsverklaring na koning Joas van Israel gestuur.

 

Koning Herodes stort ineen tydens toespraak

– toestand “bedenklik”

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Koning Herodes Agrippa is gistermiddag inderhaas na die Koning Dawid Hospitaal hier in die stad gebring nadat hy tydens ’n oudiënsie met ’n afvaardiging van Tirus en Sidon ineengestort het.

Daar was konsternasie in die troonsaal waar die koning siek geword het. Hy was besig om ’n afvaardiging van Tirus en Sidon toe te spreek, toe hy in die middel van ’n sin skielik stilgebly het. Hy het sy maag vasgegryp, en kort daarna van sy troon afgegly.

Die koning is tans in afsondering in die waakeenheid, en niemand word by hom toegelaat nie. Die hospitaal het laat gisteraand ’n bulletin uitgereik waarin die spesialis wat hom behandel, die koning se toestand as “bedenklik” bestempel. Voorlopige ondersoeke dui op ’n akute ingewandskoors, maar verdere toetse sal eers gedoen moet word voordat die diagnose bevestig kan word.

Volgens ooggetuies was die koning gister in sy toespraak op sy skitterende beste, en die mense het aan sy lippe gehang. Daar was selfs mense wat tydens sy toespraak uitgeroep het: “Dis ’n god wat daar praat, nie ’n mens nie!”

Of die burgers van die land weer die voorreg sal hê om na koning Herodes se goddelike wyshede en kwinkslae te luister, sal net die tyd leer. Te oordeel na die mediese bulletin van gisteraand, lyk dit egter of die Jode hulle moet klaarmaak vir ’n staatsbegrafnis.

 

ZEUS EN HERMES BESOEK LISTRA!

LISTRA. – Daar heers groot opgewondenheid in die stad sedert dit bekend geword het dat die god Zeus en sy boodskapper Hermes in lewende lywe tans die stad besoek.

Zeus het vroeg vanoggend reeds een man, wat van sy geboorte af verlam was en nog nooit kon loop nie, genees. Hy het net geroep: “Staan regop, op jou voete!” Die volgende moment het die man opgespring en hy kon loop!

Ter viering van die hemelse besoekers se koms word ’n groot offerfees by die Zeustempel net buitekant die stad later vandag gehou.

  • Lees van hierdie misverstand, en Paulus en Barnabas se reaksie, in Hand. 14:8-20.

 

 


Wie kry die eer vir jou prestasies?

Dat dit ’n wesenlike versoeking is om te vergeet dat sukses nie eie prestasie is nie, maar ’n gawe van God, is duidelik uit die optrede van Amasia en Herodes. Daarom dat Amasia dit oor sy hart kan kry om die afgodsbeelde van Edom vir homself op te stel as gode. En Herodes laat die skare se onverbloemde aanbidding hom welgeval.

Paulus en Barnabas wys dat daar ook ’n ander manier is om die kalklig te hanteer. Per slot van rekening is dit ons roeping om God te verheerlik (Matt. 5:16, Fil. 1:20), en moet ons telkens maar weer die eer aan Hóm toebring. Die koninkryk waarvoor ons ons moet beywer, is tog nie ons eie nie, soos die Here Jesus ons duidelik laat verstaan in Matt. 6:33.

As ’n mens presteer, trek jy die aandag. Dit is onvermydelik, en ook nie verkeerd nie. Die manier waarop jy die aandag of roem hanteer, sal bepaal of jy God eer, en of jy jouself verheerlik.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.