Van ons Ou Testament redaksie
SAMARIA. – Die hervestigingsprogram van koning Sargon II van Assirië het ’n ernstige terugslag hier in die provinsie Israel gekry toe troppe woedende leeus onder die setlaars begin maai het.
Voorlopige verslae dui daarop dat tientalle immigrante deur leeus doodgebyt is, en nog talle ander is ernstig beseer. Volgens ons korrespondent in Samaria is die toestand vry ernstig. Talle immigrante het reeds ’n beroep op die koning gedoen om hulle êrens elders te vestig, omdat hulle daagliks in die vrees lewe dat die leeus nóg mense kan aanval.
’n Woordvoerder van die Hamatiese setlaars het gesê hulle is raadop. “Ons ken nie die land nie. Ons ken nog nie eens ons nuwe bure nie. Dit is dus baie moeilik om jagspanne op die been te kry om die leeus uit te roei. Ons enigste hoop is dat koning Sargon vinnig sal optree.”
Intussen is ’n kommissie van ondersoek, die sg. Leeukommissie, reeds aangestel om die oorsaak van die leeuplaag vas te stel. Blykbaar is daar meer as een moontlikheid wat hulle tans oorweeg. Een moontlikheid is dat die leeus ’n smaak vir mensvleis ontwikkel het sedert hulle tydens die Assiries-Israelitiese oorlog aan gesneuwelde soldate gevreet het. ’n Ander moontlikheid is dat die Assiriese leërs die land só kaalgestroop het van vee dat die leeus nie meer genoeg kos het nie. Van honger val hulle nou mense aan. ’n Derde moontlikheid wat glo ook ondersoek gaan word, het ’n godsdienstige oorsaak. Party van die Israeliete wat in die land agtergebly het, beweer dat die God van Israel die leeus gestuur het. Volgens hulle is hy kwaad omdat die nuwe inwoners hom nie vereer nie.
Koning Sargon het die beleid van hervestiging in die gebied ingestel nadat hy Samaria ingeneem en die land finaal tot oorgawe gedwing het. Sy voorganger, koning Salmaneser V, het die beleg van Samaria begin, maar hy is oorlede voordat die stad na ’n hardnekkige weerstand van drie jaar ingeneem is. Talle Israeliete is toe uit die land weggevoer en elders in die Assiriese Ryk hervestig. In hulle plek is inwoners van Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim in die eertydse Israel gevestig. Sy beleid sal verseker dat daar nie weer ’n opstand in dié deel van sy ryk uitbroei nie.
Of die hervestigingskema sal slaag, sal daarvan afhang of die leeuplaag onder beheer gebring kan word.
- Lees hiervan, en ook oor die redes vir die val van die Koninkryk van Israel, in 2 Kon. 17.
Rabbi se stories het geestelikes woedend
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – Die bekende rabbi Jesus van Nasaret het op die vooraand van die Joodse paasfees godsdienstige leiers hier die harnas ingejaag met sy gelykenisse, wat eintlik niks anders is nie as stories wat hy vertel om ’n boodskap tuis te bring.
Die hele probleem met die rabbi se stories is dat hulle meestal ’n taamlike angel in het, en dié angel steek dikwels die geestelikes op baie gevoelige plekke. In die drie gelykenisse wat die rabbi gister vertel het, het hy telkens daarop gesinspeel dat die geestelikes deur hulle gesindheid en optrede vir God die rug toegekeer het. Hy het selfs gesê tollenaars en prostitute gaan eerder in die koninkryk van God in as die geestelikes.
Die priesterhoofde en Fariseërs is woedend. Hoëpriester Kajafas het by navraag gesê dis hoog tyd dat “dié storieman” se “storietjies” kortgeknip word. “Ons kan nie toelaat dat ’n sogenaamde rabbi ons gesag só openlik aantas en belaglik maak nie,” het hy gesê. Hy wou nie sê presies watter stappe die Joodse Raad beoog nie.
- Lees hierdie gelykenisse in Matt. 21:28–22:14.
JAGTER GESOEK
Aansoeke word ingewag vir die pos van leier en gids vir ’n jagekspedisie.
’n Goeie kennis van Noord-Palestina is ’n vereiste.
Ervaring in die jag van leeus sal ’n aanbeveling wees.
Ons bied aan:
’n ruim vergoeding plus kommissie vir elke leeu wat gedood word.
Rig u aansoek, vergesel van ’n volledige CV, aan:
Die Voorsitter,
Leeukommissie,
Privaatsak 13, Samaria.

Verlore mense
Dat die mens sy rug op sy Skepper gedraai het, is al ou nuus. Die verhaal van dié verwerping loop deur die hele Bybel: eers Adam en Eva, later die noordelike stamme van Israel, en uiteindelik ook die Jode.
Joh. 1:11 vertel van hierdie verwerping: “Hy (Christus) het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.” Ons hoor ook die smart van ’n verwerpte Seun in Jesus se gelykenisse in Matt. 21.
Ontstel dié “ou nuus” u nog? Ween u ook oor ’n wêreld wat verlore gaan? En bid u vir hulle?
Views: 15