Ek lees nou die dag ’n ou Indiese legende oor die skepping van die vrou.

Om die vrou te skep het die Skepper die volgende elemente bymekaar gevoeg: die volheid van die maan en die buigsaamheid van ’n rankende wingerdloot saam met die ritseling van grassaad. Die slankheid van ’n riet en die bloeisel van ’n boom in die lente. Die sagte teerheid van ’n ontluikende blaar by die heldere deursigtigheid van ’n sonstraal. Die trane van ’n wolk; die veranderlikheid van die wind; die vrees van ’n wildsbokkie en die trotsheid van ’n pou. Die sagtheid van ’n kapokvoëltjie se donsies en die hardheid van ’n diamant; die soetheid van heuning en die wreedheid van ’n tier; die gloeiende hitte van vuur by die snerpende koue van sneeu. Die praatsiekheid van ’n papegaai en die stem van ’n nagtegaal; die sluheid van ’n slang en die getrouheid van ’n leeuwyfie by haar kroos.

Die Skepper bring toe die vrou na die man, maar na ’n week keer hy na die Skepper terug en sê: “Sy maak my lewe ongelukkig, Heer, sy praat aanhoudend en torring gedurig aan my sodat ek geen rus vir my siel vind nie. Sy beweer dat ek nie genoeg aandag aan haar gee nie en sy eis net meer en meer van my tyd. Sy huil oor die geringste dingetjie, terwyl sy tuis ’n luilekker lewe voer. Ek wil haar teruggee.”

Die Heer is toe verplig om haar terug te neem. Maar na ’n week is die man weer terug by die Skepper. Nou pleit hy: “Heer, my lewe is so leeg. Ek dink gedurig aan haar en kan haar nie vergeet nie. Ek dink daaraan hoe sy kon dans en sing: hoe sy in my oë kon kyk, met my kon praat en haarself teen my kon aanvly. Sy was so pragtig om na te kyk, so sag en teer om aan te raak. Haar gelag was soos musiek in my ore, haar teenwoordigheid soos rus in my hart. Heer, gee haar terug asseblief.”

Dit het die Heer onmiddellik gedoen. Na drie dae is die man weer terug en nou smeek hy: “Neem haar terug, sy verskaf my meer probleme as plesier.” Dan aarsel hy en sê: “Ek kan nie met haar leef nie, maar ook nie sonder haar klaarkom nie.”

Jy sien, die huwelik is van lankal af ’n spannende saak. En ons hoef maar net om ons te kyk om te besef dat dit nou, meer as ooit, die geval is. Daarom dat een uit elke drie tot vyf huwelike nie die paal haal nie. En daarom dat ons almal in ’n mindere of meerdere mate probleme in ons eie huwelike het. Want vir twee uiteenlopende mense om lewenslank saam te wees, saam te groei, saam te bou aan ’n gesin, en saam oud te word, en boonop gelukkig te wees, is nie vanselfsprekend nie. RE Barber sê in sy boek Marraige and the family: “Mans en vrouens word nie as goeie eggenotes gebore nie, en hulle word ook nie deur ’n wonderwerk in goeie eggenotes verander bloot omdat hulle “die regte persoon” ontmoet nie. Hulle word goeie eggenotes net deur geduld, selfbeheersing en opofferende toewyding aan gedeelde belangstellings en waardes wat hulle saam doelbewus gekies het as die moeite werd vir hulle lewe. Dit is daarom goed dat ’n bruid en bruidegom onthou dat hulle nie geluk in die huwelik sal vind nie; hulle moet dit verwerf.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.