ABARIMBERG. – Moses, leier van die Israeliete vir meer as veertig jaar, het vanoggend tydens ’n plegtige seremonie aan ’n geskokte skare bekend gemaak dat hy die tuig gaan neerlê.
Moses was sigbaar bewoë toe hy die volk meegedeel het dat hy nie saam met hulle die beloofde land Kanaän sal intrek nie. “Die Here het in sy wysheid besluit dat ek nie die nuwe land sal bewoon nie, en wat Hy besluit, is goed,” het hy gesê. Hy het ook gesê dat ’n man van honderd en twintig nie meer die energie het wat nodig is vir die landsinname nie, maar bygevoeg: “Ek gaan nou wel nie saam nie, maar God sal steeds voor julle uittrek, en daarom sal dit goed gaan.”
Moses het daarna bekend gemaak dat God vir Josua seun van Nun as sy opvolger aangewys het. In die teenwoordigheid van die hele volk het hy, bygestaan deur hoëpriester Eleasar seun van Aäron, vir Josua met handoplegging as sy opvolger bevestig.
Moses het ’n beroep op die Israeliete gedoen om hulle volle samewerking vir Josua te gee.
- Lees dit in Num. 27:12-23.
WEEK VAN VEROOTMOEDIGING EN GEBED WORD BEDREIG
MISPA. – Die week van verootmoediging en gebed waartoe die siener Samuel die volk opgeroep het, stuur op ’n krisis af. Filistynse magte is besig om na Mispa op te ruk.
Die nuus van die naderende vyandelike magte is besig om paniek onder die Israeliete hier te saai. ’n Noodvergadering is vir laat gistermiddag belê om die situasie te bespreek. Teen druktyd was die vergadering nog nie afgehandel nie.
Militêre kenners sê daar is eintlik net twee opsies: om die vrouens en kinders so gou moontlik weg te kry uit Mispa, sodat die mans kan voorberei vir die geveg wat onvermydelik op hulle wag, óf om die Filistynse magte tegemoet te trek, sodat die geveg weg van Mispa kan plaasvind. Godsdiensleiers met wie Bybelkoerant gesels het, was egter heftig gekant teen beide hierdie planne. “Ons is hier om ons voor God te verootmoedig. Ons kan nie uiteengaan voordat ons hiermee klaar is nie,” het ’n Leviet gesê.
Of daar hoegenaamd tyd gaan wees vir enige aksie, sal maar gesien moet word, aangesien die vyandelike magte baie vinnig opruk.
- Lees hiervan in 1 Sam. 7:2-17.
JERUSALEM PLATGEVEE
JERUSALEM. – Verdwaasde en verhongerde inwoners moes vandeesweek magteloos die totale verwoesting van hulle geliefde stad gadeslaan toe die seëvierende magte van Nebukadnesar van Babel die stad ingeneem het na ’n beleg van negentien maande. Die stad is besaai met die lyke van jongmanne, meisies, grysaards, kreupeles en selfs kleuters wat so ongelukkig was om in die pad van die voortstormende ystervuis van Babel te beland.
Niks of niemand is in die aanval ontsien nie. Die stadsmuur is klip vir klip afgebreek, en die tempel, eens die trots en sieraad van die stad, is afgebrand nadat alles daarin wat kosbaar is, gebuit is. Ook die paleis en ander groot geboue, en selfs die groter huise van gewone burgers is afgebrand.
Diegene wat die slagting oorleef het, is gevange geneem. Volgens genl. Nebusaradan, die hoof van koning Nebukadnesar se lyfwag en aanvoerder van die besettingsmag, sal hulle so gou moontlik na Babel gedeporteer word. Slegs die armste burgers sal toegelaat word om in die land agter te bly.
- Lees hiervan in 2 Kron. 36:11-21.
Net Een wat kan red
Één saak staan baie duidelik uit in die drie gebeurtenisse waaroor op vandag se bladsy berig word: daar kan net een Koning wees vir die Godsvolk: God self. Dit was die voorwaarde van Josua se aanstelling: dat hy God se leiding in alles sal volg. Dit was ook Samuel se boodskap aan die Israeliete by Mispa: “Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen” (1 Sam. 7:3).
Dat koning Sedekia, en die Israeliete saam met hom, dít nie besef het nie, onderstreep hoe ongelooflik hardkoppig en eiewys die mens is. Maar dat ook óns, wat so goed weet waar ons heil lê, ons wat vir geen oomblik sal aarsel om te getuig dat dit net God is wat sorg en kan sorg nie, dat ook óns in die versoeking val om ons heil te soek by ander bronne as by God alleen – geld, politiek, mag, noem maar op – dít is die misterie van die sonde.
Daar is baie regeerders, maar daar is net Een wat die lotgevalle van hierdie wêreld in sy deurboorde hande hou. Kom ons volg Hom vandag met ons hele hart.
Views: 18