Dit is presies op hierdie punt waar so baie huwelike skeefloop: omdat man en vrou ophou, of nooit begin het nie, om die geluk in hulle huwelik te verwerf. Ons moet almal aan ons huwelike werk, en hard werk, om dit te laat slaag. Dit gebeur nie vanself nie. ’n Mens kan eenvoudig nie maar net aangaan in die huwelik en hoop vir die beste nie. Daarvoor is die huwelik vandag, meer as ooit in die geskiedenis, onder te veel druk.

Iemand het eenkeer gesê: “Die huwelik is ’n stukkie hemel wat op die aarde geval het en jou hel gee.” Ons kan kies om niks aan ons huwelike te doen nie, dan word dit uiteindelik ’n hel wat ons elke liewe dag van ons lewe brand, of ons kan ons huwelike koester en troetel, sodat dit die hemel bly wat dit was toe ons daarmee begin het. Nee. Kom ek herformuleer daardie stelling: Ons kan ons huwelike koester en troetel, sodat dit al meer en meer, hoe langer ons getroud is, die stukkie hemel op aarde kan word wat God bedoel het dit moet wees.

 

Stukkie paradys

Want ’n gelukkige huwelik ís ’n stukkie paradys op die aarde, die ruimte waarbinne ek myself kan wees, waar ek aanvaar word en geborge is, waar ek my spanning en vrese en kommer met my lewensmaat kan deel, waar ek weg van die werk en die stukkende wêreld weer heel kan word. ’n Gelukkige huis is ’n tuiste, die plek waarheen ek vlug, sodat ek in ’n onmenslike wêreld weer mens kan wees, waar ek saam met ander wat vir my lief is en vir wie ek liefhet, kan lag en droom en ontspan. ’n Gelukkige huis is ’n basis van waaruit my hele lewe elke dag weer lanseer.

Jy, mevrou, moet daardie tuiste vir u man skep. Jy is die een wat ’n huis in ’n tuiste verander. Jy is die een wat warmte en liefde en rus in die huis inbring. ’n Bekende Britse akademikus, Samuel Johnson, het in dié verband gesê: “In die algemeen verkies ’n man ’n lekker ete bo ’n vrou wat kan Grieks praat.” Jy kan sê dis onregverdig dat dié las op jou skouers rus, maar dit gaan niks aan die feit verander nie. Daarom is dit beter om só daarna te kyk: nie as ’n las nie, maar dat dit jou voorreg is om jou huis in ’n tuiste te verander. Jy is in elk geval baie beter daarvoor toegerus as jou man, omdat ’n vrou van nature baie meer mens-georiënteerd is as mans.

 

God en jou huwelik

Daardie Indiese legende waarmee ek begin het, toon nogal ’n groot ooreenkoms met die Bybelse skeppingsverhaal wat ons in Gen 2 lees. Die Bybel leer ons (net soos die legende) in Gen 2 dat God betrokke is by ons huwelike. U onthou mos hoe Hy na Adam gekyk het en gesê het: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” En dis toe dat Hy vir Adam aan die slaap laat raak het, en uit sy ribbebeen ’n vrou vir hom gemaak het, en haar met sy eie hand na Adam gebring vir die heel eerste huwelikseremorie op aarde. En as ons na die Nuwe Testament blaai, tref ons vir God aan waar Hy mens geword het in Jesus Christus. En nie toevallig nie, is Jesus se heel eerste openbare optrede op aarde by ’n huwelikseremonie, toe Hy by die bruilof in Kana water in wyn verander het (Joh 2). Ek sê dis nie toevallig nie. Dit is so deur God beplan, want vir God is die huwelik belangrik. My huwelik, en julle huwelike, is vir Hom prioriteit. Want die huwelik is nie ’n menslike instelling nie, of iets wat mettertyd ontwikkel het as deel van ons kultuur nie. Dis ’n Goddelike instelling, ingebou in die skepping, in die manier waarop Hy die wêreld, en ons, gemaak het, sodat ons iemand kan hê wat saam met ons deur die lewe kan gaan, langs ons kan staan, saam met ons kan werk en droom en lag.

Die huwelik is deel van die wêreld wat God gemaak het. Gesonde huwelike is ’n noodsaaklike deel van ’n gesonde wêreld. Daarsonder tuimel die samelewing inmekaar. Hulle vertel dat die Russe, na die Rooi Rewolusie van 1917, ontslae wou raak van alle kapitalistiese instellings. Hulle het gedink die huwelik is ook ’n kapitalistiese instelling van die dekadente Weste, en toe het hulle mense ontmoedig om te trou. Binne ’n paar jaar het die maatskaplike lewe in Rusland so agteruit gegaan dat die Russe baie streng huwelikswetgewing ingevoer het. Hulle het agtergekom dat jy nie aan God se skeppingsinstellings kan torring sonder ernstige gevolge nie. Mors met die huwelik, en die samelewing val uitmekaar. Dis so eenvoudig soos dit is. Die huwelik is een van die hoekstene van ons samelewing, soos God dit geskep het.

 

Volgende keer: ‘n paar belangrike dinge om te onthou

image_pdfimage_print

Hits: 60

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
Tweet
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.