ARARAT. – Die agt oorlewendes van die ergste vloedramp in menseheugenis het gisteroggend, na ’n verblyf van ’n jaar en tien dae in die “ark” – ’n groot boot van goferhout – uiteindelik weer op droë grond geloop.

’n Moeë maar dankbare Noag seun van Lameg het eers toegesien dat al die diere en voëls wat saam met hulle in die boot was, aan land gaan voordat hy saam met sy vrou en sy drie seuns en skoondogters die ark verlaat het.

Opgewonde diere het uitbundig om die boot baljaar en gekou aan die sappige groen gras – die eerste vars kos in meer as ’n jaar.

Die heel eerste taak wat die verligte oorlewendes op land verrig het, was om ’n altaar te bou. Noag het gistermiddag, net ’n paar uur nadat hulle die ark verlaat het, ’n kort dankdiens by die altaar gelei.

Noag wou nie veel uitwei oor hulle jaar in die ark nie. “Nie een van ons het enige ondervinding in die hantering van bote gehad nie. Dis ’n wonderwerk van Bo dat ons dié nagmerrie oorleef het,” het hy gesê.

 

STAD LUS VIR NUWE NAAM

LUS. – Die stadsvaders van Lus het gistermiddag op ’n spesiale raadsvergadering besluit om die stad se naam te verander na Bet-El.

Dié besluit volg op ’n versoek van ’n gesiene veeboer van Kanaän, Jakob seun van Isak, wat vandeesweek op ’n pelgrimstog ná twintig jaar weer die stad besoek het. God het destyds in ’n visioen hier by Lus aan hom verskyn, wat die gedagte by hom laat ontstaan het om die plek Bet-El (Huis van God) te noem. Sy voorstel om die stad se naam te verander, het destyds heelwat belangstelling uitgelok, maar dit is nooit verder gevoer nie. Vandeesweek het hy die versoek herhaal, en hierdie keer het die stadsvaders gehoor gegee.

Uit dankbaarheid het Jakob ’n gedenksteen aan die stad geskenk, wat opgerig gaan word presies op die plek waar God aan hom verskyn het.

 

Verbod op herstel van Jerusalem herroep

Nuwe goewerneur met gemengde gevoelens ontvang

JERUSALEM. – Koning Artasasta het sy verbod op die herstel van die stad opgehef. Dié goeie nuus het die nuwe goewerneur van Juda, Nehemia seun van Gakalja, eergister, vier dae na sy aankoms uit Susan, aan gemeenskapsleiers in die stad hier meegedeel.

Goewerneur Nehemia het ook volmag van die koning ontvang om hout uit die staatsbos te gebruik vir die herstelwerk. Hy het reeds aan Asaf, die opsigter van die staatsbos, opdrag gegee om die hout so gou moontlik te lewer sodat die poorte van die vesting by die tempel herstel kan word. Nog hout is ook bestel vir die herstel van die stadsmuur en vir ’n nuwe goewerneurswoning.

Vir die Joodse setlaars wat enkele jare gelede uit Babel na hulle vaderland teruggekeer het om die tempel en die stad Jerusalem te herbou, is goewerneur Nehemia se koms baie goeie nuus. Sedert hulle terugkeer na Juda het hulle baie probleme en teenkanting ondervind, veral van Samaritaanse inwoners, sodat die herstelwerk later tot stilstand gedwing is deur ’n dekreet van koning Artasasta. Die Joodse setlaars het toe ’n afvaardiging onder leiding van Ganani na Susan gestuur om te kyk of hulle die verbod herroep kan kry. Danksy die vertoë van goewerneur Nehemia, wat tot onlangs nog koning Artasasta se skinker was, is die verbod nou herroep en kan die herstelwerk in alle erns hervat word.

Nie almal is egter verheug oor die nuwe verwikkelinge nie. In ’n gesamentlike verklaring laat gistermiddag het die goewerneur van Samaria, Sanballat die Goroniet, en Tobija, die Persiese bestuurder van Ammon, gewaarsku dat hulle nie sal rus voordat die jongste restourasiepoging ook gestop word nie. Volgens hulle is goewerneur Nehemia se inisiatiewe die begin van ’n nuwe opstand teen koning Artasasta en die Persiese gesag.

Dit lyk of daar ’n moeilike tyd op die nuwe goewerneur van Juda wag. Of hy sal slaag waar talle voor hom gefaal het, sal net die tyd leer.

 


Bid gedurig

Gebed was deel van die Bybelse gelowiges se lewe. Daarom lees ons telkens dat hulle altare opgerig het by elke nuwe plek waar hulle gekom het, sodat hulle daar offers kan bring en kan bid.

’n Uitnemende voorbeeld van ’n man wat sy hele lewe biddend aangepak het, was Nehemia. Want hy het verstaan dat gebed ’n noodsaaklike deel van die gelowige se wapenrusting is. Baie jare later skryf Paulus in Ef. 6:18: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig …”

image_pdfimage_print

Views: 2

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.