Wenke vir ’n gelukkige verhouding
EEN: Dien God saam
Die huwelik is God se instelling, en daarom is Hy nou betrokke by ons elkeen se huwelik, want Hy wil hê dat ons huwelike gelukkig moet wees. Dis nogal belangrik dat jy dit sal weet, want dit beteken dat jy op sy hulp kan staat maak om jou huwelik te laat groei. Dis nie vir Hom om ’t ewe of jou huwelik gelukkig is of nie. Hy wil jou huwelik laat slaag. Daarom, so lyk dit my, om ons huwelike te laat groei, is die heel eerste ding wat ons moet doen, om God te dien. Hy is die anker van ’n gelukkige huwelik. Ek verwonder my nogal aan egpare wat al jare lank getroud is, maar nog nooit saam Bybel gelees en gebid het nie. Daar, waar julle saam voor die Here buig, dáár word julle saamgebind deur die Skepper van die huwelik, God self. Mense wat saam bid, word ook aanmekaar gebind. Die Engelse spreekwoord lui nie verniet nie: “Families that pray together, stay together.”
TWEE: Maak tyd vir mekaar
Niks kan ’n gebrek aan tyd met mekaar vervang nie. Jou verhouding met jou eggenoot kan nie groei as julle nie tyd maak vir mekaar nie. Tyd om saam te gesels, saam te beplan, probleme te bespreek, oor die kinders te gesels, oor die werk. Tyd om saam te droom en saam te lag. Tyd. Huwelikstyd, waar net julle twee alleen bymekaar is. Elke huis moet huwelikstyd hê.
Kyk, daar is gesinstyd ook nodig, tyd wat julle opsy sit om by julle kinders te wees en met hulle te praat en dinge saam te doen. Maar bo en behalwe hierdie tyd is daar ook tyd nodig vir jou en jou eggenoot om alleen te wees. Ek en my vrou probeer om elke dag te gaan stap. Ons doen dit vir oefening, maar dis baie meer as dit. Dit is ’n uur elke dag wat ons kans kry om te gesels.
Ek onthou, eenkeer op die grens, was ek saam met ’n burgermag-eenheid. Die sersant-majoor van die eenheid was ’n man van so middel 40. Terwyl ons eenkeer gesit en gesels het, haal hy ’n foto uit sy sak. Hy wil net vir my wys hoe die een lyk na wie hy so verskriklik verlang. Dit was ’n foto van sy 18-jarige dogter. Hy erken toe aan my dat hy baie meer na sy meisiekind verlang as na sy vrou. Ek kon dit nie verstaan nie, want my pa het altyd vir ons kinders gesê ons moet verstaan dat daar tye is wanneer hy en my ma alleen wil wees. Want, het hy gesê, as ons uit die huis is, is hulle twee nog saam, en dan wil hulle gelukkig saam wees.
Maak tyd vir mekaar, want jou eggenoot moet jou beste vriend wees en bly, nader aan jou as enige ander mens op aarde. Ek weet dat dit in die moderne samelewing moeilik is. Jou eggenoot werk en jy werk, en as julle tuis is, is daar soveel wat julle aandag verg: die huis en die kinders en die skool en die kerk en sport … Maar ek weet ook dat ’n mens altyd tyd kan maak vir iets wat vir jou belangrik is. En as jou huwelik vir jou belangrik is, moet jy tyd maak dat julle alleen kan wees.
DRIE: Baklei goed
’n Derde aspek van die huwelik wat verskriklik belangrik is, is baklei. Sorg dat julle goed baklei. Julle weet, van tyd tot tyd is daar oor die radio ’n onderhoud met ’n egpaar wat hulle goue bruilof vier. En sonder uitsondering vra die omroeper dan vir die oom en tannie wat die sukses van hulle huwelik is. En ek het al by meer as een geleentheid gehoor hoe hulle antwoord: “Glo my, boetman, in al die jare het ons nooit ’n enkele skewe woord vir mekaar gehad nie.” En dan dink ek by myself: òf die man lieg dat hy bars, òf een van die twee het heeltemal sy of haar persoonlikheid prysgegee, en wat ’n saai huwelik sal dit nie wees nie!
Nee. As twee mense getroud is, ís daar konflik. Dit is ongelukkig ’n feit. En konflik kan twee mense fyn maal. Maar konflik hoef nie negatief te wees nie, mits julle dit reg hanteer. Want dit is dikwels in konfliksituasies waar jy uitvind hoe jou maat regtig voel en dink oor ’n saak, waar jy uitvind wat vir jou maat belangrik is en wat hy soos gif verpes. Moenie maar net altyd opvreet en alle konflik vermy nie; dit bou op hier binne-in jou, en op ’n dag bars dit oop, en dis dán dat dinge lelik raak. Dan ontdek jou man hy doen al jare lank iets wat jy verpes, en jy het dit nooit vir hom gesê nie. Nee. Praat met mekaar. Sê wat pla. Maar sê dit op só ’n manier dat hy nie bedreig voel nie. Moenie vir hóm pak nie. Pak die probleem. En moenie hom aanval nie; sê hoe die probleem jou laat voel. Moenie sê: “Jy vind ook net altyd fout met alles wat ek doen” nie. Sê liewer: “Ek kom agter daar is dinge wat ek doen waarvan jy nie hou nie. Kom ons praat daaroor, dat ek dit kan verander.”
VIER: Jou beste vriend
’n Vierde aspek van die huwelik: Maak jou eggenoot jou beste vriend. Die huweliksformulier van die NG Kerk sê: Die huwelik is ’n hegte eenheid waarin daar geen plek is vir ’n derde persoon nie. Hierdie “derde persoon” is nie altyd ’n skelmpie nie, hoewel ’n skelmpie natuurlik ook hierby ingesluit is. Maar dit kan nogal baie verskillende – en oënskynlik onskuldige – vorms aanneem. Vir die sersant-majoor op die grens was dit sy dogter. Vir baie huwelike is dit die skoonouers. Dit kan ook ’n vriend of vriendin wees, of ’n broer of suster. ’n Huwelik waarin iemand anders inskuif tussen jou en eggenoot spel probleme. Niemand mag nader aan jou wees nie as jou maat. Sy moet die een wees met wie jy jou vreugdes en drome en jou kommer en hartseer deel. Sy moet die een wees vir wie jy nie kan wag om dit waarvan jy vol is, te vertel nie. As jou maat agterkom dat jy jou diepste hartsgeheime, om nie eens te praat van julle huweliksgeheime nie! – as jou vrou agterkom dat jy jou diepste hartsgeheime met iemand anders as sy deel, sal sy glo sy is nie meer die nommer een in jou lewe nie. Jou maat wil graag weet, net soos jy dit graag wil weet, dat sy jou beste vriend is.
’n Stukkie paradys
God het die huwelik ontwerp omdat Hy gesien het Adam is alleen. Daarom het Hy Eva gemaak, uit Adam se ribbebeen. Die kerkvader Augustinus het hieroor gesê: As God wou hê dat Eva vir Adam moes bedien, sou hy haar uit ’n been in Adam se voet gemaak het. En as Hy wou hê dat sy op Adam se kop moes sit, sou hy haar uit ’n been in sy skedel gemaak het. Maar nou het hy haar uit ’n ribbebeen gemaak, uit ’n been naby sy hart, sodat hy haar kan bemin en sy langs hom kan staan, saam met hom deur die lewe kan gaan, sy lewensmaat kan wees.
Jy, Mevrou, Meneer, is die belangrikste persoon in jou eggenoot se lewe. God het jóú gekies om saam te staan. En as julle saam, in biddende afhanklikheid van God, aan julle huwelik bou, sal julle huwelik wees soos wat God dit bedoel het: ’n stukkie paradys.