Front gestig om herstel van stadsmuur te stuit

JERUSALEM. – Goewerneur Sanballat van Samaria het ’n ernstige waarskuwing aan alle Samaritane gerig om dit nie té naby die stadsmuur van Jerusalem te waag nie. Volgens hom kan die muur enige tyd omval.

Goewerneur Sanballat het gister saam met Tobija, die bestuurder van Ammon, die stad besoek om die restourasie van die stadsmuur te besigtig. Die muur is tans bykans halfpad voltooi. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die muur ’n veiligheidsrisiko vir die stad se inwoners inhou. Hy het mense veral gewaarsku om nie naby die muur te nies of te skreeu nie. Tobija het saamgestem. “Daardie klipmuur van hulle sal omval as ’n jakkals daarteen spring,” het hy gesê.

Goewerneur Sanballat het ná die inspeksie op ’n perskonferensie aangekondig dat ’n beweging genaamd die Anti Muur Front (AMF) gestig is om die voltooiing van die muur te keer. Die leiers van die front is hyself, Tobija die Ammoniet en Gesem die Arabier. Die mense van Asdod het glo ook hulle steun vir die AMF beloof. Sanballat het gesê hy voel glad nie gelukkig oor die herbou van die mure nie. Hy vrees dat dit die begin van ’n opstand teen koning Artasasta kan beteken. “Ons kan nie bekostig dat daar weer politieke onrus in ons streek uitbreek nie. Die AMF sal dit tot elke prys verhoed,” het hy gesê.

Goewerneur Sanballat het ’n dringende beroep op goewerneur Nehemia van Juda gedoen om onmiddellik alle werk aan die muur te staak, of die gevolge te dra. Hy het selfs met wapengeweld gedreig indien die Judeërs nie aan sy oproep gehoor wil gee nie.

In reaksie op die stigting van die AMF het goewerneur Nehemia gesê hy sal nie toelaat dat vreemdelinge vir hom kom voorskryf hoe hy die provinsie moet bestuur nie. “Wat my betref, is die herstel van die stadsmuur tans ons eerste prioriteit. Ek het volmag van koning Artasasta om die stad te herbou, en ons is presies daarmee besig. Ons sal nie rus voordat die muur voltooi is nie.” Goewerneur Nehemia het ook gesê die sukses van die onderneming lê daarin dat dit nie ’n indiwidu se poging is nie, maar ’n gemeenskapsprojek. “Selfs dogters werk saam met hulle pa’s om die muur te herstel.”

Politieke waarnemers wys daarop dat die AMF moontlik ’n verskuilde agenda kan hê. Die AMF vrees dat, as die muur eers herstel is, hulle nie meer so maklik toegang tot die stad sal hê om sy inwoners vir eie gewin te manipuleer nie. Dit kan ernstige ekonomiese gevolge vir hulle persoonlike sakeondernernings hê.

  • Lees meer oor die moeilike omstandighede waarin hierdie projek voltooi moes word in Neh. 3 en 4.

 

BESALEËL EN OHOLIAB BEVORDER

SINAIBERG. – Moses het gister hier op ’n vergadering van die familiehoofde bekend gemaak dat twee sleutelposte in die Departement van Openbare Werke gevul is.

Die belangrike pos van projekleier vir die maak van die voorwerpe vir aanbidding, is aan Besaleël, seun van Uri uit die stam Juda toegeken. Sy adjunk is Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, wat veral gemoeid sal wees met die opleiding van vakmanne.

Besaleël en Oholiab moet ook die ontwerpe van die aanbiddingsvoorwerpe hanteer. Volgens Moses het die Here uitvoerige voorskrifte hiervoor gegee. Besaleël en Oholiab se eerste opdrag is om, aan die hand van dié voorskrifte, ontwerptekeninge vir die tent van ontmoeting, kleredrag van die priesters, altare en ander aanbiddingsvoorwerpe aan Moses en Aäron voor te lê.

 

DEPARTEMENT VAN OPENBARE WERKE
Godsdiensafdeling
Hierdie departement het ’n aantal vakatures vir spesialisvakmanne.
Ons kan ook ’n paar voornemende vakmanne inneem vir opleiding.
Begin ’n opwindende loopbaan in die Godsdiensafdeling!
Doen voor 10 Nisan aansoek by:
Oholiab seun van Agisamak, Dan.

 


Jy het ook ’n plek!

Die sukses van die herstel van die stadsmuur in Jerusalem was daarin geleë dat die hele gemeenskap daarby betrokke was. En hulle het uit uiteenlopende werkkringe gekom: salfmengers (aptekers), stadsraadslede (een se dogters het ook gehelp!), priesters, tempelslawe, smede, handelaars – almal het gehelp.

Waarlik, in God se koninkryk is daar plek vir elkeen om met sy of haar talent te woeker. Naas Moses en Aäron, die geestelike werkers, kry vakmanne soos Besaleël en Oholiab ereplekke.

Die Here het ’n plek in sy wingerd wat net vir jou bedoel is.

image_pdfimage_print

Views: 15

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.