Sy verhaal

Toe hy die aand moeg in sy kamer kom, wag daar ’n stomende bad op hom. Hy steek verbaas vas. Wie sou só bedagsaam gewees het? Dan glimlag hy. Dis seker Erwa. Sy het lankal ’n ogie op hom, en probeer op allerhande maniere sy guns wen. Hy wonder net hoe sy die bad warm water in sy kamer gekry het. Miskien het Ahmed haar gehelp. Dierbare, wonderlike Erwa. Dis tyd dat hy vir Potifar gaan vra of hy met haar mag trou.

Dankbaar stroop hy sy klere af en gly in die warm, gegeurde water in. So half ingedagte wonder hy waar Erwa die badolie gekry het. Sover hy weet, is dit net Mevrou wat dié duur goed het. Miskien het sy ’n bietjie by Mevrou gegaps om hom te beïndruk. Net môre, wanneer die baas weer terug is, sal hy met hom oor Erwa moet gaan praat, besluit hy, en maak sy oë toe sodat die warmte van die bad behaaglik om hom kan vou.

Hy voel twee vrouehande oor sy skouers gly, en maak sy oë verbaas oop, maar sy hou sy oë toe. “Sjuut,” fluister sy, en begin dan om hom in te seep.

Met sy hande bedek hy homself, en gee hom dan oor aan die streling van haar hande. Dierbare Erwa, dink hy weer, en voel hoe haar sagte hande die spanning van die dag uit sy bolyf laat vloei. Maar iets pla hom tog. Dis die hande, besef hy skielik. Dis sag, nie die werkershande van ’n slavin nie.

Hy maak sy oë stadig oop, bang vir wat hy gaan sien, en kyk vas in die bruin oë van die baas se vrou. Met een beweging is hy uit die bad en staan hy met ’n handdoek om sy lyf, rug teen die muur. Toe hy opkyk, staan sy glimlaggend voor hom, met net ’n deursigtige onderkleed aan wat lossies om haar heerlike rondings vloei.

Sy steek haar hande na hom toe uit en pruil haar mond. “Kom klim weer in die bad, toe,” sê sy sag, haar stem hees van begeerte. “Ek wil hê jy moet silwerskoon wees, want ek het groot planne vir ons twee vanaand.”


Pas jy dalk in dié storie?

Die moeilikheid met sonde is dat dit so lekker is. Laat ons maar eerlik wees: as sonde sleg was om te doen, sou niemand dit gedoen het nie. Maar die aanloklike verleidelikheid van die sonde lê juis daarin dat dit so lekker is om te doen.

Natuurlik bly dit nie lekker nie. Gou, baie gou nadat jy gesondig het, verdwyn die lekker en maak dit plek vir skuldgevoelens en selfverwyt. Dieselfde Satan wat jou vooraf aanhits en verlei om die sonde te doen, koggel jou agterna oor jou mislukking as kind van God. Die misterie van die sonde is dat ’n mens dit vóóraf weet. Jy weet al voor jy die sonde doen, dat jy agterna spyt gaan wees. Jy weet so goed dat die genot van die sonde net nooit die moeite werd is nie. En tog doen jy dit, keer op keer op keer.

 

Hoe nou gemaak?

Josef se geheim was dat hy Potifar se vrou se verleiding herken het vir wat dit was: ’n onreg teen sy eienaar, maar veral ’n sonde teen God self. Vir hom was dit nie maar net ’n ou foutjie nie, ’n menslike swakheid wat ons almal maar oorkom nie. Hy het daaroor geen illusies nie. “Hoe kan ek so ’n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” sê hy in Genesis 39:9.

Ek skat dit was nie maklik vir Josef om aan die verleidelike vrou se listigheid te ontkom nie. Maar so is dit altyd weer met versoekings. Dis nooit maklik om dit te weerstaan nie. Meestal is dit bitter moeilik. G’n wonder nie dat die Here ’n hele arsenaal wapens tot ons beskikking stel sodat ons teen die listigheid van Satan staande kan bly. Wanneer Paulus in Efesiërs 6:10-18 hierdie arsenaal aan ons bekend stel, gee hy die geheim van ’n gelowige se oorwinning oor sonde en versoekings in vers 10: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.”

Ek is seker Josef het dit verstaan. Dis hoekom hy staande kon bly.

image_pdfimage_print

Views: 15

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.