Van ons Ou Testamentiese redaksie
JERUSALEM. – ’n Sigbaar ontstelde goewerneur Nehemia het gistermiddag op ’n perskonferensie bekend gemaak dat hy ’n volksvergadering belê het om die “skreiende uitbuiting van die armes” in die Judese gemeenskap hok te slaan. Die vergadering sal eerskomende Maandagoggend plaasvind.
Goewerneur Nehemia het gesê dit het onder sy aandag gekom dat die finansiële posisie van party Judeërs haglik is. Verskeie faktore is vir hulle skuldlas verantwoordelik. Die langdurige droogte het veral die kleinboere nadelig geraak. Boere was genoodsaak om groot verbande op hulle plase uit te neem, net om kos te koop om aan die lewe te bly. Ander moes teen astronomiese rentekoerse geld leen om hulle belastings te kon betaal. Party burgers moes selfs hulle kinders as slawe verkoop om uit die skuldeisers se kloue te bly, en ander het reeds hulle plase verloor. Wat hom veral ontstel, het die goewerneur gesê, is dat dit medevolksgenote is wat hierdie arme mense uitverkoop.
’n Ontmoeting eergister in die goewerneurswoning tussen die goewerneur en die raad van adellui en gemeenskapsleiers oor die aangeleentheid het ongelukkig op ’n dooie punt uitgeloop. Die skuldeisers was nie geneë om ’n plan van aksie te help uitwerk oor hoe die skuldlas van hulle arm volksgenote verlig kan word nie. Hulle hou voet by stuk dat dit nie hulle probleem is nie.
Die goewerneur het gesê hy sal die onreg nie langer duld nie. Die volksvergadering is belê om hierdie “sweer” in die gemeenskap “oop te steek”. “Die rykes verbeel hulle hulle is bokant die res van die gemeenskap verhewe. Hulle wou nie saam help bou aan die stadsmuur nie, en nou wil hulle wéér nie saamwerk nie. Ek dink dit is ’n skandvlek op ons naam, maar meer nog, op ons God se Naam,” het hy gesê.
- Jy kan hiervan, en van die gebeure op die volksvergadering, lees in Neh. 5:1-13.
RABBI RÁÁK AAN MELAATSE!
Nuwe Testament Mediese verslaggewer
KAPERNAUM. – ’n Jong rabbi, Jesus van Nasaret, wat van die begin van sy bediening af al in die nuus is, het vriend en vyand verbyster toe hy gister sonder om te blik of te bloos ’n melaatse aangeraak het – glo om hom te “genees”.
Rabbi Jesus het die melaatse daarna na die priester gestuur om hom “gesond te laat verklaar”. Mediese kenners met wie Bybelkoerant gesels het, is dit egter eens dat melaatsheid nie genees kan word nie. “Ons weet net van enkele gevalle in die geskiedenis waar melaatses gesond geword het, soos Miriam en Naman, en elke keer was dit danksy ’n ingrype van God. Dink hierdie Jesus dan nou hy kan God naboots?” het ’n verontwaardigde dokter gevra.
Wetsgeleerdes wys daarop dat die Joodse wette dit uitdruklik verbied dat ’n melaatse naby ’n gesonde mens kom. Dit is ook absoluut verbode vir ’n gesonde mens om aan ’n melaatse te raak. Hierdie wette is ingestel om die gemeenskap teen hierdie gevreesde siekte te beskerm. Dat die rabbi dit gewaag het om dié wette te minag, kan vorentoe nog vir hom groot probleme veroorsaak.
Of die melaatse wel gesond geword het, soos die rabbi beweer, kon nie vasgestel word nie. Niemand was bereid om dit naby die man te waag om dit uit te vind nie.
- Lees van hierdie genesing in Matt. 8:1-4.
![](https://bybelkoerant.co.za/wp-content/uploads/2019/02/Die-Bybelkoerant.png)
Ontferming
God het ’n hart vir dié wat swaarkry; dié wat nie in die posisie is, of die vermoë het, om hulleself te help nie. Daarom sien ons Jesus dikwels besig om hulle te help wat in die nood is: siekes, hongeriges (die vermeerdering van die brood en vissies!), hulle in die mag van duiwels. Daarom maak Hy tyd om met die uitgeworpenes te gesels: ’n vrou by ’n put, prostitute, tollenaars, melaatses.
Vir Jesus was dit nie genoeg om net die melaatse te genees nie. Hy wou die melaatse laat verstaan dat, al vlug almal van hom af weg, Hy dit nie sal doen nie. Sy aanraking, dink ek, het meer gesê as wat woorde ooit kan.
As ons dan al meer, deur die werk van die Heilige Gees, verander word na die beeld van ons Here Jesus (2 Kor. 3:18), dan sal hierdie passie vir mense in nood ook mos in ons lewe sigbaar moet word. Dit is wat met die vrome Nehemia gebeur het. Hy kon nie ongeroer toekyk hoe mense benadeel en veronreg word nie. Daarom het hy iets aan hulle situasie gedóén. Soos Jesus, wat ’n melaatse aanraak.
Dit is immers nie genoeg om vir die een in nood te sê: “Word warm, word versadig” (Jak. 2:16, 1953-vertaling) nie. ’n Geroerde hart kom tog in beweging!
Views: 3