Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Goewerneur Nehemia het gister hier bekend gemaak dat hy en sy medeamptenare nie die goewerneurstoelae waarop hulle geregtig is, van die landsburgers gaan vorder nie.

Die goewerneur het gesê dat, hoewel hulle sekerlik geregtig is op ’n toelaag, hy en sy medeamptenare besluit het om nie hierdie toelae op te eis nie. Hy het gesê die burgers van die land kry al swaar genoeg soos dit is, en hy glo dat hy deur sy voorbeeld ander in die land sal motiveer om die armes met groter deernis te behandel.

Goewerneur Nehemia se aankondiging is ’n welkome verligting vir die kleinboere van Judea. Sy voorgangers het soveel as wat hulle maar kon, in die vorm van belastings uit die burgers gepers, bo en behalwe die belasting wat hulle aan die koning van Persië moet betaal.

Dat hierdie toegewing hom ’n aardige bedrag uit die sak sal jaag, is seker. Die goewerneur is bekend vir sy gasvryheid, en daagliks eet daar tot soveel as honderd en vyftig mense – Judeërs en besoekers van elders – in die ampswoning. Normaalweg sou hierdie gasvryheid van sy onthaaltoelaag verhaal kon word. Die goewerneur verkies egter om dit self te betaal.

 

ONS HET AL TE VEEL, SÊ BESALEËL

SINAIBERG. – Die projekleier vir die maak van aanbiddingsvoorwerpe, Besaleël seun van Uri, het gister hier die volk bedank vir hulle ruimhartige bydraes om die heiligdom in te rig. “Ons is letterlik toegegooi met gawes, en het meer as genoeg om die werk af te handel,” het hy gesê.

 

Rabbi prys vrou se karige bydrae

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Rabbi Jesus het al weer die elite hier in die harnas gejaag toe hy ’n vrou wat net twee muntstukkies in die offergawekis gegooi het, uitgesonder het vir haar offervaardigheid.

Die rabbi het gister by die offergawekis in die voorhof van die vroue by die tempel gesit toe hy sy gewraakte uitspraak gemaak het. Terwyl hy daar was, het talle rykes sakke vol geld in die kis kom stort. Van hulle het hy egter niks gesê nie. Toe die rabbi daaroor gekonfronteer is, het hy glo gesê: “Die rykes het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar hierdie arm vrou het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het. Dit was alles waarvan sy moes lewe. Het die rykes soveel gegee?”

 

Man braai vis wat silwermunte spoeg

KAPERNAUM. – As jy dan nie ’n gans het wat goue eiers lê nie, is die tweede beste ook goed: ’n vis wat silwermunte spoeg. Dié geluk het ’n bekende visser van die dorp, Simon seun van Johannes, alias Petrus, gister te beurt geval. Hy het ’n vis gevang, en toe hy die hoek uit die vis se bek wou haal, het daar ’n silwermuntstuk uit die vis se bek geval!

As dié vis egter gehoop het dat sy uitsonderlike vermoëns sy lewe sou verleng, had hy dit mis. Hy het in die pan beland vir ’n smaaklike ete.

Simon sê hy het in sy loopbaan seker al ’n hele paar duisend visse gevang, maar só ’n geluk het hom nog nooit getref nie. Hy gaan die geld gebruik om sy en rabbi Jesus se tempelbelasting te betaal.

 

BETAAL JULLE BELASTING, SÊ RABBI

JERUSALEM. – Die bekende rabbi Jesus van Nasaret het gister hier op die vooraand van die paasfees die Fariseërs en Herodiane oor die vingers getik oor hulle traagheid om hulle belasting te betaal.

Dit is bekend dat talle Jode ’n groot weersin in die betaal van belastings het, omdat hulle nie die gesag van Rome erken nie. Hulle het gister ook die bekende rabbi se steun vir hulle standpunt gesoek. Die rabbi het hom egter nie in ’n debat laat intrek nie. Hy het ’n muntstuk gevra, na die keiser se kop op die munt gewys, en gesê: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

Nie almal sal met die rabbi saamstem nie, maar hier is minstens een joernalis wat dink die rabbi het nogal ’n punt beet.

 


Geld

Geld het al baie vreugde gebring, maar nog meer moeilikheid. Die groot vraag is: is jý baas, of is jou geld baas?

As geld nie vir jou jou hoogste goed is nie, maar ’n gawe van God, raak jy vry om dit tot Gods eer te bestee, soos Nehemia, Petrus, die weduwee …

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.