Sy verhaal
“Wat soek jy nou nog hier?” wil koning Balak nors weet. “Van die eerste dag af wat ek jou laat kom het, het jy net alles opgemors.”
Bileam slaag net-net daarin om die bitsige antwoord wat op die punt van sy tong is, terug te byt. In plaas daarvan forseer hy ’n glimlag. “Kom nou, my vriend,” sê hy gemoedelik. “Ek kan verstaan dat jy ongelukkig voel met die verloop van sake tot dusver, maar …”
“Maar wat? Moet net nie vir my sê jy wil nóg ’n profesie probeer nie! Elke keer as jy jou mond oopmaak, seën jy die Israeliete en vervloek my mense. En ek dag jy is aan my kant. Is daar dan nóg iets waarmee jy my kan bykom, jou ou tweegesig?” Woedend waai hy Bileam met sy hand uit die troonkamer uit. “Toe, weg is jy. Moet net nie verwag ek gaan jou betaal vir jou knoeiwerk nie.”
“Nie vir my knoeiwerk nie, my vriend,” antwoord Bileam met oliegladde stem, en vryf dan sy hande saam. “Maar ek is seker jy sal my nie met leë hande wegstuur as ek jou help om tóg die Israeliete by te kom nie.”
“So?” vra Balak, en die belangstelling kruip terug in sy stem.
“Ja, ek het die hele plan netjies uitgewerk. Ek het van die begin af gesê ek kan nie teen die bevel van God in profeteer nie, maar ek kan jou op ander maniere help om jou vyand by te kom. Ons gaan die klomp Israeliete lelik seermaak sonder dat ek my mond een keer oopmaak.”
Balak sit vorentoe, en beduie na die stoel wat naby sy troon staan. “Kom sit, my vriend. Laat ek hoor wat jy in die mou voer.”
Pas jy dalk in dié storie?
Party mense vat net nie nee vir ’n antwoord nie. Bileam was so ’n man. Hoewel hy gehoorsaam was aan die bevel van die Here om nie teen Israel te profeteer nie, moes die Here hom by herhaling daaraan herinner: toe hy nog tuis was; op sy donkie, toe hy op pad was vir sy afspraak met Balak; en later weer ’n paar keer toe hy by Balak aangekom het. Enige regdenkende mens sou teen dié tyd die boodskap gekry het en die aftog geblaas het. Maar nie Bileam nie. Hoewel hy niks verkeerds teen die Israeliete geprofeteer het nie (die Here het dít verhinder), het hy nie die aftog geblaas nie. Volgens Numeri 31:16 (vgl. ook Openbaringe 2:14) sit hy agter Balak se slinkse plan om die Israeliete met die seks-orgie by Sittim te verlei. Hy het nou wel niks verkeerds geprofeteer nie, maar uiteindelik tog vir Balak gehelp om die Israeliete by te kom, en so sy waarsêersfooi gekry.
Die Engelse spreekwoord sê: Daar is baie maniere om ’n kat dood te maak. Mense kan nogal besonder vindingryk wees as hulle iets gedoen wil kry en daar is ’n struikelblok in die pad. Ons lees byna daagliks in die pers van gevalle waar die wet op een of ander slinkse manier omseil is, of waar iemand ’n skuiwergat in ’n regulasie ontdek het wat hy kan gebruik om sy (onheilige) doel te bereik. Maar wanneer jy vir God probeer uitoorlê, soos Bileam gedoen het, is jy op dun ys. Daarvoor het Bileam die hoogste prys betaal (Numeri 31:8). God laat nie met Hom spot nie.
Ek hoop nie jy pas in dié storie nie. Ek hoop nie jy het dit al oorweeg, of selfs probeer, om God te flous nie. Dat ’n mens dít kan doen, is die toppunt van arrogansie. En tog doen mense dit deur die eeue. In Jesus se tyd, byvoorbeeld, het die Fariseërs dit met allerhande uitsprake gedoen. Die wet het destyds bepaal dat jy op die sabbat nie verder as ’n sabbatsreis (ongeveer ’n kilometer) mag reis nie. Die enigste uitsondering was as jy ter see is; dan kon jy natuurlik nie ’n dag lank ophou vaar nie. Dus, so het die Fariseërs geredeneer, as jy op die water is, geld die sabbatsreis nie meer nie. So as jy nou dringend op die sabbat iewers moes heengaan wat verder as ’n sabbatsreis is, moet jy ’n balie water op ’n wa laai, en dan bo-op die balie water gaan sit. Dan is jy mos ook op die water, en kan jy reis sover as wat jy wil!
Mense kan tog baie slim wees. G’n wonder nie dat Jesus ons waarsku in Matteus 5:20: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Hoe nou gemaak?
Nie een van ons sal dit waag om so blatant soos Bileam God se bevel te verontagsaam nie. Maar net soos in Bileam, lewe daar in elkeen van ons ’n soort dubbelslagtigheid. Ons ken die almag van God en ons wil ook voor Hom doen wat reg is. Maar die eiesinnigheid in ons hart en die verkeerde dinge wat ons aanvang, kruip maar elke keer weer uit. In Genesis 4:7 sê God vir Kain: “Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”
Dís die groot stryd wat elkeen van ons het, want die “sonde daarbuite” het ’n baie gewillige bondgenoot in ons eiesinnige harte. Paulus skryf daaroor in Romeine 7:21-25: “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Dis eers as die Here Jesus deur die werking van sy Gees ons gedrag begin bepaal, dat ons daarin slaag om teenstand te bied teen die kwaad en vir God te lewe.