Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Die spanning in die hoofstad van die provinsie Juda het breekpunt bereik te midde van hardnekkige gerugte dat goewerneur Nehemia voornemens is om die Persiese juk af te gooi en homself tot koning te laat kroon.

Luidens die gerugte wag die goewerneur net totdat die stadsmuur voltooi is voordat hy sy skuif gaan maak. Dit kan nou enige dag wees, aangesien die bouwerk aan die stadsmuur reeds afgehandel is. Net die poortdeure moet nog gehang word.

Goewerneur Sanballat van Samaria het gesê die gerugte wil dit hê dat goewerneur Nehemia se planne vir die volksopstand reeds in ’n gevorderde stadium is. Hy het ook gehoor dat sy Judese eweknie profete omgekoop het om hom tot koning uit te roep sodra die mure voltooi is.

Goewerneur Gesem van Arabië het by navraag bevestig dat hy ook van die gerugte oor die beplande opstand kennis dra.

Sanballat het sy kommer oor die situasie uitgespreek, en gesê dat hy die gerugte in ’n baie ernstige lig beskou. Hy het reeds verskeie pogings aangewend om ’n goewerneursberaad te belê sodat hy, goewerneur Gesem en goewerneur Tobija van Ammon vir Nehemia kan ontmoet om saam met hom planne te beraam om die gerugte die nek in te slaan.

“Of daar waarheid in die gerugte steek, kan ek nie in hierdie stadium sê nie. Maar dat die gerugte ’n ernstige klad op Nehemia se naam is, is seker. As dié gerugte nie in die kiem gesmoor word nie, sal dit koning Artasasta se ore bereik, en dan het Nehemia groot probleme. Ek en my kollegas voel moreel verplig om ons Judese ampsgenoot in sy verknorsing by te staan,” het Sanballat gesê.

Tot nog toe kon hulle egter nie daarin slaag om ’n geskikte datum vir die beoogde spitsberaad te vind nie, aangesien Nehemia se program te vol is.

Die kantoor van goewerneur Nehemia het intussen ’n verklaring uitgereik waarin dit ten sterkste ontken word dat daar enige waarheid in die gerugte steek. “Ons vind dit vreemd dat die geagte drie goewerneurs so besorg is oor goewerneur Nehemia se goeie naam. Enkele maande gelede het die einste drie saamgespan om die AMF (Anti Muur Front) te stig. Dié organisasie het sedertdien uit hulle pad gegaan om ons goewerneur te dwarsboom,” aldus die verklaring.

 

EDOM WEIER ISRAEL DEURTOG

KADES. – Moses het gisteroggend op ’n perskonferensie hier bekend gemaak dat hy nie daarin kon slaag om die koning van Edom se toestemming te verkry om die Koningsweg deur Edom te gebruik vir hulle reis na Kanaän nie.

Die Israelitiese leier het gesê dit is vir hom ’n groot teleurstelling, maar hy het reeds opdrag gegee dat alternatiewe roetes na Kanaän ondersoek word.

 

AANTYGINGS TEEN RABBI SKOK

Van ons Nuwe Testament redaksie

KAPERNAUM. – Bewerings dat die alombekende en geliefde rabbi Jesus van Nasaret met duiwelskuns besig is, het ’n golf van verontwaardiging en protes hier ontlok.

Die rabbi het gister weereens sy groot skare volgelinge verstom toe hy ’n man wat in die mag van ’n duiwel was, genees het. Die man, wat blind en stom was, kan nou weer sien en praat. Fariseërs wat dit te hore gekom het, het egter gesê die rabbi kry sy krag om dié buitengewone wonders te doen, by Beëlsebul, die aanvoerder van die duiwels.

Dat die Fariseërs se siening nie deur die skare gedeel word nie, is duidelik. Al meer mense begin wonder of hy nie dalk die verwagte Messias, die Seun van Dawid, is nie.

Die rabbi was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

 


Satan se lis

“Ons stryd,” skryf Paulus in Ef. 6:12, “is nie teen vlees en bloed nie. . .”

In dié stryd het Satan baie bondgenote. Dat hy dikwels die politiek as strydperk kies en magtige politieke figure vir sy stryd inspan, kan ’n mens nog verstaan. Die koning van Edom, en Sanballat en sy trawante, het immers aan God en sy gebod min erg gehad. Ongelukkig slaag hy telkens daarin om ook uit onverwagte oorde bondgenote te monster: mense wat veronderstel is om aan God se kant te staan, soos die profeet Semaja en die profetes Noadja in Nehemia se tyd, en soos die Fariseërs.

Satan is listig. Laat ons dan soos Nehemia bid: “Sterk tog my hande, o, God!” (Neh. 6:9b).

image_pdfimage_print

Views: 1

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.