Baäl-prostituut
Gomer het my nogal laat kopkrap, moet ek erken. Baie voorstelle word gemaak oor hoe ons die bevel van die Here aan Hosea in Hos. 1:2 moet verstaan: “Gaan trou met ’n prostituut wat buite-egtelike kinders het …” Party meen dat sy ’n sg. Baäl-priesteres, oftewel ’n tempel-prostituut in die Baältempel was. Ander weer sê dat sy eers ná haar huwelik met Hosea losbandig geword het en in prostitusie verval het (en uiteindelik iemand anders se byvrou – seksslaaf? – geword het). ’n Derde verklaring lyk vir my aanneemlik: dat sy, soos dit mode onder die jongmeisies in haar tyd was, haar maagdelikheid aan die god Baäl geoffer het om te verseker dat Baäl aan haar vrugbaarheid sou skenk. Dit is gedoen deur voor haar huwelik ’n week in die Baältempel as prostituut te gaan deurbring. Daarom is haar kinders “hoerkinders” (OAV) – nie omdat hulle nie Hosea s’n was nie, maar omdat hulle ma reeds voor haar troue haar vertroue op Baäl geplaas het, en al haar kinders dus eintlik Baäl s’n was. Dit lyk asof sy later, toe haar kinders groot was, losbandig geword het, en uiteindelik iemand anders s’n geword het, sodat Hosea haar moes gaan terugkoop (Hos. 3:1,2).
Gomer se storie
Sy wens sy kon soos haar ma wees. Haar ma het altyd met so ’n selfvoldane laggie gesê – hoe duidelik sien sy haar nie voor haar geestesoog nie! – dat as sy haar lewe kon oorhê, sy presies dieselfde sou gekies het. Sy sou weer met haar pa getrou het. Sy sou presies dieselfde kinders wou hê. En dan het sy agteroor in haar leunstoel gesit en ’n groot sluk dikmelk gevat en geglimlag asof sy die saligheid self beërwe het.
Miskien het sy. Hoe sal sy weet? Al wat sy weet, is dat haar ma gelukkig was, en haar pa ook. Daar was liefde in die huis, en warmte.
Sy wens haar huis was ook so. Sy wou dit so bitter graag hê. Daarom het sy haar maagdelikheid aan Baäl geoffer, dat hy kon verseker dat sy baie en gesonde kinders vir haar man kon baar. Hosea was nie daarmee geneë nie. Om die waarheid te sê, hy was hewig gekant daarteen dat sy na die tempel gaan. Hy het allerhande stories gehad van dat die Here vir hulle kinders sou gee en dat sy Hom moet vertrou vir haar vrugbaarheid, maar sy dink nie dit was die eintlike rede nie. Hy was net jaloers. Hy wou graag die een wees wat haar maagdelikheid wegneem. Maar hy het nie die moed gehad om dit reguit te sê nie. Toe skuil hy agter allerhande vroom praatjies.
Baäl, god van vrugbaarheid
Hoe kon hy dit van haar verwag? Almal weet tog dat Baäl die god is wat sorg vir vrugbaarheid in jou huis! Dit was vir haar ook maar ’n opoffering – aanvanklik, in elk geval – om ’n week lank in die tempel te gaan sit, gedienstig aan elke man wat daar aankom om sy offer te bring vir die vrugbaarheid van sy landerye of sy vrou. Hoeveel mans het daardie week by haar geslaap? Sy kan nie eens meer onthou nie, maar dit was baie. Een of twee van hulle het daardie week elke dag gekom; gesê sy is wonderlik; dat sy hulle goed en sterk laat voel, mán laat voel. Sy was nogal trots daarop dat die mans met haar tevrede was, want sy het geweet as húlle gelukkig is, is Baäl gelukkig, en sal hy vir haar baie kinders gee.
Sy sou dit ook verkies het as Hosea die eerste en enigste man was by wie sy ooit geslaap het, soos haar pa die enigste man is wat haar ma ooit geken het. Maar in haar ma se tyd was dit anders. Toe was dit nog nie ’n moet soos in haar tyd dat jy eers jou offer aan Baäl moet bring voor jy trou nie. As dit maar so was! Dan het sy nie vandag gesit waar sy sit nie. Dan het daar nie allerhande vreemde luste in haar wakker geword nie. Dan sou sy nie geweet het watter opwinding vreemde vlees kan inhou nie. Dan sou sy seker soos haar ma gewees het: ’n eenvoudige, gedienstige vrou en ma, tevrede met haar man en haar huis. Dan sou sy seker gedink het Hosea se liefkosings is wonderlik; dat hy ’n goeie minnaar is, en dan sou sy gelukkig gewees het.
Helaas! Die week in die Baältempel het haar naïwiteit oor dié saak vir goed weggeneem. Daarna was Hosea alleen net nooit genoeg vir haar nie. Nie dat hy nie sy bes gedoen het nie. Dit wil sy hom dadelik toegee. Maar die opwinding van die vreemde, die onbekende – dít kon hy haar nooit gee nie, en sy het daarna bly hunker. Dit het ’n honger in haar geword wat al groter geword het soos die jare aangestap het. Sy kon later eenvoudig nie in die huis bly nie. Haar jeug was aan die verbygaan, en daarmee saam haar begeerlikheid vir die Baäl-aanbidders. Hulle sou tog nie ’n ou, afgeleefde vrou wou hê nie! Sy móés teruggaan tempel toe terwyl haar lyf nog mooi en ferm was. Sy móés dit weer ervaar dat die mans weer en weer terugkom na háár toe.
Net vir een week
Net vir een week weer, het sy haarself voorgeneem. Net een week, dan sou sy terugkeer huis toe en vir Hosea die goeie vrou wees wat hy verdien. Die hemel weet, hy verdien ’n goeie vrou. Hy is lief vir haar, al is daar baie dinge wat sy doen wat hom pla. Al glo sy nie met soveel oorgawe in die Here soos hy nie. Hy het lief gebly vir haar, selfs toe sy vir die week terug is tempel toe, en dit later twee weke geword het. Hy het haar self daar kom haal, by haar kom soebat om huis toe te gaan saam met hom. Wat kon sy doen? Sy het maar saamgegaan, omdat sy gewéét het haar plig lê teenoor hom.
Maar die tyd terug in die tempel het nie haar dors geles nie; inteendeel. Die dors het eerder groter geword, soos ’n vuur in haar gebrand. Sy het daar belangrik gevoel, sy het die geskenke wat die mans vir haar gebring het, geniet, en die geld wat hulle dankbaar in haar hand gedruk het, in haar roksak toegeknoop. Toe sy dit ná die week getel het, was dit meer as wat Hosea met ’n maand se geswoeg in sy bakkery verdien het!
Sy het probeer uithou by die huis, maar sy kon nie. Die tempel het haar geroep, dag vir dag, totdat sy later haar goed gevat en geloop het, tempel toe, waar sy belangrik was, geliefd was, geëer was. Daar het Hiram haar weer en weer kom opsoek, het sy fluweelstem haar bedwelm, en het sy beloftes van ’n koninklike lewe haar uiteindelik weggelok na sy huis in die spogbuurt van Samaria.
Afdraend
Maar sy het haar met Hiram misreken. Hy is nie soos Hosea nie. Hy het haar nie lief nie; net haar lyf, en dié het hy besitlik-jaloers opgepas. Sy was ’n gevangene in sy paleis, ’n seksobjek, nie ’n vrou nie. Toe sy uiteindelik ontsnap het, het sy nie geweet waarheen nie. Sy was te skaam om na Hosea toe terug te gaan. Hoe kon sy? En sy was bang om terug te gaan na die tempel, want dit is die eerste plek waar Hiram na haar sou gaan soek. Toe het sy maar op die straathoeke begin staan in die buurte waar ’n ryk man soos Hiram dit nie sou waag om te kom nie.
Dit was nie ’n maklike tyd nie. Party mans het haar seergemaak en dan nie eers betaal nie, net honend gelag en verdwyn. Toe Juri sê sy moet vir hom werk, hy sal na haar kyk, het dit vir haar na ’n uitkoms gelyk, want sy was raad-op. Juri het gesorg dat sy veilig is, dat die mans haar nie te veel mishandel nie, dat sy darem ’n warm en droë bed het om in te slaap, en ’n bord kos. Maar sy prys is hoog. Hy vat elke enkele oortjie wat die mans haar betaal, by haar af. En hy jaag haar gedurig terug strate toe. Hy is ’n regte slawedrywer.
Sy verlang na Hosea, na sy rustige stem, sy warm glimlag, sy hartseer oë. Dierbare Hosea. Hy is nie ’n ryk man nie, maar hy was regtig lief vir haar, en het tog goed vir haar en die kinders gesorg. Wat het sy hom nie aangedoen nie! Wat het haar besiel om hom te los?
En sy verlang na haar kinders, en wonder wat van hulle geword het. Jisreël en Lo-Rugama is seker nou al uit die huis, getroud en als. Net klein Lo-Ammi is seker nog by Hosea. Hy help seker sy pa in die bakkery. Hy was altyd so ’n flukse kind, met wakker ogies wat onder sy donker krulle uitloer. As sy hom net een keer weer styf teen haar kon vasdruk! Maar dis vir goed verby. Sy het die brûe agter haar verbrand. Wie sal ’n slet soos sy terug wil hê?
Miskien was Hosea al die tyd reg. Miskien moes sy nooit in die Baältempel gekom het nie. Miskien moes sy eerder die Here vertrou het. Wat het Baäl nou eintlik vir haar gedoen? Kyk net in watter ellende sit sy!
Sy hoor iemand by die deur. Dit sal seker Juri wees wat wil weet hoekom sy nie uitkom nie. Sy kan hom al hoor soos hy skel: “Toe, toe, jou sleg ding, die mans wag! Jou kamer en jou kos val nie uit die lug nie, jy moet dit verdien!”
Moeisaam swaai sy haar voete van die bed af en trek haar rok oor haar kop. Sy kan nie glo dat haar lewe hiértoe gekom het nie. As sy net haar lewe kon oorhê, sou sy dinge anders gedoen het.
Genade
Toe die deur oopswaai, is dit nie Juri wat daar staan nie. Dis Hosea! Hy het oud geword. Sy baard is grys, en die hartseer kepe om sy oë is dieper in sy gesig ingeëts as wat sy kan onthou. Maar dis hy, haar man met die sagte oë.
“Sjalom, Gomer,” sê hy huiwerig, ’n skewe glimlag om sy mond. “Vrede vir jou.” Sy lip bewe effens, soos altyd as hy baie gespanne is.
Sy slaan haar oë neer en vat selfbewus die oop hals van haar rok toe. “En vir jou,” groet sy werktuiglik terug, te verbyster om aan enige iets te dink. Moet sy hom innooi, of wat moet sy doen? Uiteindelik bly sy net so op die bed sit, kop onderstebo, te skaam om hom in die oë te kyk.
Lank staan hy net so voor haar en sê niks, totdat sy opkyk, in sy oë, en die trane daarin sien blink. “Ek het jou kom haal.”
Dis die mooiste woorde wat sy al ooit gehoor het, en die hartseerste. Want dis onmoontlik. Juri sal haar nooit laat gaan nie; daarvoor bring sy te veel geld in. Treurig skud sy haar kop. “Dit kan nie.” Toe sy die teleurstelling in sy oë sien, breek dit haar hart. Haar vingers bewe toe sy die hare wegtrek sodat hy die gat in haar oorskulp kan sien waar Juri dit met ’n els deurboor het. “Ek het my aan Juri verkoop,” voeg sy onnodig by.
Sy sien die pyn in Hosea se oë, en weet dat haar laaste hoop weg is. Maar dan skud hy sy kop. “Ek het nie genoeg geld om jou los te koop nie, maar ek het heelwat gars in my bakkery. Ek sal met Juri gaan onderhandel.” Hy aarsel voordat hy byvoeg: “As jy wil.”
Sy probeer antwoord, wil “Ja!” skreeu, maar die knop in haar keel is te groot.
Hosea 1-3
Dis maklik om na Gomer te kyk en te sê só en só moet jy nie maak nie. Ek wil my nie graag op so ’n glibberige pad begeef nie; dit maak ’n mens net depressief. Buitendien is dit redelik sinloos om met ’n klomp moets en moenies te leef. Paulus sê dat dié danige mensgemaakte reëls nie juis help om die sondige drifte te beteuel nie (Kol. 2:20-23). Daar ís egter goeie raad uit die Bybel wat ’n mens vir iemand soos Gomer sou kon gee: die wet van God. Die wet, skryf Jakobus in 1:25 en 2:12, maak jou vry.
Natuurlik lê God se wet jou aan bande. Maar juis daardeur bewaar dit jou van al die slaggate waarin die duiwel en ons sondige geneigdheid ons kan laat beland. Om na Gomer terug te keer: As sy haar laat bind het deur die tweede gebod (“Jy mag naas My geen ander gode hê nie”) sou sy nie eens van die “groener weiveld” anderkant die draad geweet het nie. Die sewende gebod (“Jy mag nie egbreuk pleeg nie”) sou haar natuurlik ook kon help. As sy haar deur hierdie gebod laat bind het, sou sy nie weer na die tempel teruggegaan het nie, en al die ellende gespaar gebly het.
Gomer se probleem het begin waar sy haar laat meesleep het deu ’n sondige praktyk wat in haar tyd aanvaarbaar geword het: die Baäl-vrugbaarheidsrites wat voornemende bruide gevolg het. In ons eie dag lyk daardie rites vir ons belaglik. Maar daar is ander gebruike in ons samelewing wat ons oumas en oupas die stuipe sou gee, maar wat vandag algemeen aanvaarbaar geword het, soos jongmense wat seksueel aktief raak lánk voordat hulle die skoolbanke verlaat (deesdae glo reeds op 12-jarige ouderdom!), of ewe rustig saamwoon al is hulle nie getroud nie. Laat bind jy jou deur God se wet, is dit nie ’n versoeking nie, en spring jy baie teleurstelling en hartseer en skuldgevoelens vry.
’n Laaste opmerking: Die verhaal van Gomer is nie in die Bybel opgeteken om vir ons iets van haar skandes te laat verstaan nie. Dit staan daar om ons iets van óns te laat verstaan – dat ons ongehoorsaamheid en ontrou teenoor God ’n gruwel in sy oë is. Dat ons, ten spyte van sy ongelooflike geduld en liefde vir ons, soos Gomer maak en God se liefde onder ons voete vertrap as ons Hom nie vertrou nie, of agter ons eie plesiere aanjaag. En in die verhaal sien ons ’n God wat nooit ophou om sy volk lief te hê nie, ’n God wat altyd weer probeer om sy mense terug te wen.
Dit gee ons natuurlik nie ’n verskoning om in sonde te bly leef nie, maar as ek en jy op ’n dag met ’n skok ontdek dat ons ver tekort skiet aan dit wat God verwag, is dit ’n wonderlike troos: God se liefde vir ons is baie groter as wat ons ooit kan vermoed. Dít is die evangelie.