Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Die ganse stad het eergister tot stilstand gekom toe die skrifgeleerde Esra seun van Seraja op die plein voor die Waterpoort die wetboek van Moses voorgelees het.

Die hele volk – mans, vrouens en ook die kinders wat al kan verstaan – het van ligdag tot die middel van die dag ontroerd geluister hoe die Wet voorgelees en deur die Leviete uitgelê word. Die voorskrifte van God het ’n diep indruk op die ganse gemeente gemaak, en talle het van ontsteltenis begin huil toe hulle opnuut hulle sondes in die lig van die Wet gesien het. Hiervan wou goewerneur Nehemia egter niks weet nie. “Hierdie dag is ’n blye dag, gewy aan die Here ons God. Niemand mag vandag treurig wees en huil nie,” het hy beveel.

Die goewerneur het daarop die dag as ’n feesdag geproklameer, en daar is tot laat nog feesgevier.

In ’n verdere ontwikkeling het die skrifgeleerde Esra gistermiddag aangekondig dat die hele volk die huttefees oor twee weke, van die 15de tot die 22ste Tisri, gaan vier presies volgens die voorskrifte wat hulle in die Wet van Moses gevind het. Die feesgangers gaan gedurende die hele week van die fees in blaarhutte woon, om só die verblyf van hulle voorvaders in die woestyn tydens die Uittog in herinnering te roep. “Dit gaan die moeder van alle feeste wees,” het hy gesê.

  • Lees hiervan, en van die vreugde van die huttefees, in Neh. 8.

 

“Volgelinge van Jesus” brei uit na Afrika

Van ons Nuwe Testament redaksie

ASDOD. – Die omstrede nuwe Joodse godsdienstige splintergroep, wat hulleself “Volgelinge van Jesus” en ook “Mense van die Weg” noem, is vinnig besig om wêreldwyd pos te vat.

In die nuutste ontwikkeling het ’n hoë amptenaar aan die hof van die koningin van Etiopië hom by die nuwe godsdiens aangesluit. Volgens een van die diakens van die sekte, Filippus, het die Etiopiër ná ’n gesprek wat hy met hom gehad het, gevra om by die nuwe sekte aan te sluit. “Ek het hom daar en dan gedoop, wat ons manier is om nuwe lidmate by ons gemeente in te lyf. Ek wens u kon sy vreugde saam met my beleef,” het Filippus gesê.

Dié ontwikkeling is slegte nuus vir die Joodse Raad, wat sedert die ontstaan van die sekte enkele maande gelede alles in die stryd werp om die uitbreiding van die sekte hok te slaan. Dit lyk nou of “Operasie Skoonmaak”, wat die Joodse Raad geloods het om die sekte met wortel en tak uit te roei, ’n klaaglike mislukking is.

 

VIR JOU BOEKRAK

Juweel van ’n brief verskyn uit die pen van sendelingpredikant

Boekeredakteur

“Die brief aan die Filippense” deur die apostel Paulus. (Op perkament, 4 hoofstukke. Prys onbekend.)

Jy kan, selfs in haglike omstandighede, borrel van blydskap! Dit is die blywende indruk as jy hierdie kosbare boekie, wat in briefvorm geskryf is, neersit. Nadat jy hom van voor tot agter gelees het. Want as jy eers begin lees, gryp die skrywer se entoesiasme jou vas, en hou jy aan tot die boekie deur is.

Die skrywer skryf vanuit die tronk aan sy geliefde gemeente in Filippi (wat hy sy “blydskap” en sy “kroon” noem) en gee hulle raad oor Christen-wees, kerk-wees en mens-wees. En tussen die raad deur vertel hy van homself, en bid hy vir die gemeente.

Die brief is natuurlik in die eerste plek bedoel vir die gemeente in Filippi. Enige leser sal egter baat vind by hierdie stukkie vreugde. Bybelkoerant beveel dit sonder enige voorbehoud aan.

 


Blydskap

Hulle vertel van die koster wat ’n besoekende predikant op die stasie moes gaan haal, maar nie geweet hoe het die man lyk nie. Nadat hy die mense op die perron deurgekyk het, stap hy na ’n man wat sekerlik die dominee moet wees. “U is seker die predikant wat vanaand hier preek,” wou hy weet. “Nee,” antwoord die man. “Ek is nie die predikant nie. Ek lyk maar net so, want ek het ’n bloeiende maagseer.”

Dít is, helaas, die beeld wat baie mense van ’n toegewyde gelowige het: ernstig en selfs stroef. Beslis nie vrolik en uitgelate nie; dit is ligsinnigm dink hulle.

Nie so nie, sê die Bybel. ’n Gelowige verstaan die kuns om bly te wees. Hoe nader jy aan God lewe, hoe meer kan jy juig oor die lewe en die God wat die lewe gee. Daarom verbied Nehemia die volk om te huil, want om die Wet te hoor, is fees! Daarom borrel Paulus van vreugde, selfs in die tronk. En sit die Etiopiër sy reis met blydskap voort, want hy het Jesus ontmoet.

“Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees,” sê Ps. 118:24.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.