JERUSALEM. – In ’n plegtige seremonie het die Judeërs gister opnuut trou beloof aan die Here hulle God.
Dié onderneming plaas die kroon op ’n maand van godsdienstige feesviering en toewyding. Dit het begin op die eerste van die maand met ’n halfdag lange voorlesing van die Wet. Daarna is die huttefees, wat ’n volle week geduur het, gevier. Dié fees, wat op tradisionele wyse gevier is met egte blaarhutte, net soos die wet voorskryf, het drie dae gelede tot ’n end gekom. Gister se byeenkoms was andermaal ’n hoogtepunt toe die Judeërs van vroeg die oggend tot 12-uur die middag byeengekom het om hulle voor God te verootmoedig, hulle sonde te bely en te vas.
’n Uitvloeisel van die byeenkoms was ’n skriftelike onderneming, geteken deur die goewerneur, gemeenskapsleiers, Leviete en priesters, waarin hulle ’n dure eed afgelê het om te leef volgens die wet van God wat deur Moses, die dienaar van God, aan hulle gegee is. Hulle het verder onderneem om gehoorsaam te wees aan al die gebooie van die Here, en aan sy bepalings en voorskrifte. Ook al die ander Judeërs wat teenwoordig was, het die eed afgelê.
In ’n onderhoud laat gisteraand het goewerneur Nehemia aan Bybelkoerant gesê hy is baie dankbaar oor dié ontwikkeling. “Ons volk het die afgelope dekades baie swaar gekry omdat ons van die Here afvallig geword het. Ek glo dat ons met hierdie onderneming weer die eerste treë gegee het op die terugpad agter God aan.”
ISRAELIETE SLUIT VERBOND MET HULLE GOD
SINAIBERG. – Die jong woestynvolk Israel het gister hier met talle offers ’n verbond met die Here hulle God gesluit.
Na die verbondsluiting het die leiers van die volk ook in teenwoordigheid van die Here ’n verbondsmaaltyd gehou.
Kragtens die verbond sal die Here hulle versorg en lei. Hy het egter ook talle wette en bepalinge vir hulle gegee om na te kom.
Die leier van die Israeliete, Moses seun van Amram, het vanoggend saam met sy assistent, Josua seun van Nun, Sinaiberg uitgeklim om verdere instruksies van die Here te ontvang.
Dis nie bekend hoe lank hy weg sal wees nie.
- Lees hiervan in Eks. 24.
Reënboog sê daar sal nie weer ’n sondvloed wees nie
ARARAT. – Die hoof van die enigste gesin wat die sondvloed oorleef het, Noag seun van Lameg, het gesê daar sal nooit weer in die geskiedenis van die mensdom ’n vloed van só ’n katastrofale omvang voorkom nie.
Noag het dié versekering gegee by ’n spesiale geleentheid toe die agt oorlewendes hulle eerste maand op droë grond na ’n jaar in die ark gevier het. Hy het gesê God het aan hom verskyn en dié belofte aan hom gemaak. “God het selfs ’n teken gegee om ons voortdurend aan sy onderneming teenoor ons te herinner: die reënboog.”
Dié belofte is ’n welkome gerusstelling vir die gesin, wat nog effe verdwaas voorkom na hulle nagmerrie-ondervinding.
- Lees hiervan in Gen. 9:1-19.
Die Skrifgeleerde
– die skool met ’n verskil
Wil jy graag meer weet van die Wet van God?
Skryf dan vandag nog in by ons unieke skool!
Ons beskik oor bekwame en toegewyde priesters wat die klasse aanbied.
Pos u inskrywings aan:
Die Registrateur, Die Skrifgeleerde,
Posbus 72, Jerusalem.
Op vaste grond
Die plegtige ooreenkoms wat Nehemia en sy mense met God aangegaan het, is natuurlik niks nuuts nie. Lánk voor hulle trou gesweer het aan die Here, het Hy dit al gedoen.
Want só belangrik is dit vir God dat ons in ’n verhouding met Hom sal lewe, dat Hy dit nie op losse voet laat nie. Daarom dat Hy met die Israeliete by Sinaiberg ’n plegtige verbond (verdrag) sluit waarin sy verhouding met hulle, en hulle verhouding met Hom, noukeurig gereël word.
Ook met Noag sluit Hy ’n verbond, waarmee Hy belowe om nooit weer die ganse wêreld onder die vloedgolwe te laat verdwyn nie. En Hy gee aan hom ’n teken om hom voortdurend daaraan te herinner: die reënboog.
Aan ons het Hy ook tekens gegee waarmee Hy sy liefde en trou waarborg: die doop en die nagmaal, wat vertel van die grootste teken van almal: die Kruis op Golgota. Want Hy wil hê ons moet nooit daaraan twyfel nie dat Hy dit ernstig met ons bedoel.
Wat ’n heerlike geborgenheid!