Eet die Woord

Ek was bevoorreg dat my pa die bevestigingsrede kon lewer by my ordening. Sy teks was Esegiël 3:1: “Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.” Dié beeld kom ook elders in die Bybel voor, in Open 10:9-10, maar daar word die beeld uitgebrei: “Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword.”

Een van die groot vreugdes en voorregte van predikant-wees was nog altyd dat ek die Bybel as handboek kan hê en dit kan bestudeer. Van die mooiste oomblikke in my lewe is die ervaring dat God deur sy Woord met my persoonlik praat. Maar dis nie altyd ’n vreugde nie. Die Woord is dikwels moeilik om te verteer, omdat die boodskap jou teen die bors stuit, of, soos God vir Esegiël gesê het (Eseg 3:7): “Maar die mense […] sal nie na jou wil luister nie …”

Ek ervaar dié waarheid hier aan die einde van my bediening toenemend. Die Woord bring spanning in my binneste. Sooibrand, soos die engel vir Johannes gewaarsku het.

 

Hervorming

Die afgelope Sondag het ons die Hervorming herdenk, en ’n sleutelfiguur in die Hervorming is natuurlik Martin Luther. Die groot ommeswaai in sy geloofsverstaan is baie sterk beïnvloed deur Paulus se Brief aan die Romeine, onder andere 1:17: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is om dat hy glo, sal lewe.’”

Ek het in die gees van die Hervorming weer Romeine 1 gelees. Rom 1:18 e.v. is natuurlik een van die sg. bewysplase dat ’n gay lewenswyse veroordeel moet word. Dié gedeelte word telkens aangehaal as die gay kwessie ter sprake kom (vers 27): “Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.”

 

Nie net oor gays nie

Duideliker kan dit tog nie gesê word nie. Maar wat my opgeval het toe ek die hoofstuk lees, is die ánder goed wat daar staan, wat ewe skerp veroordeel word: verdraaide opvattings, gemeenheid, jaloesie, twis, kwaadwilligheid, skinder, kwaadpraat, hooghartig, aanmatigend, verwaand, liefdeloos, hardvogtig (verse 28-31). Hoekom word dié sake nie ook in die anti-gay debat genoem nie? Want dié gesindhede is beslis teenwoordig wanneer daar oor die gay kwessie gepraat word.

Ek beleef die debat oor die gay kwessie beslis as venynig en veroordelend. Jy word veroordeel, wát jou standpunt ook al is. Daar is geen middelgrond nie. Jy stem met my saam, óf jy is verkeerd en word in die ander kamp geplaas. Dit ’n vreugdelose en hooplose debat, want die volle Woord in al sy nuanses is nie deel van die gesprek nie.

Ek dink dit het tyd geword dat ons almal weer ’n slag, soos Esegiël en Johannes, die Woord verslind. Dit is soet in jou mond, maar as dit nét soet is, sien jy dalk net wat jy wil sien, en nie wat God vir ons leer nie. As jou Bybellees nie jou verstaan van dinge uitdaag nie, as dit jou nie ook soms ongemaklik maak oor jou eie voorveronderstellings nie, as dit jou nie soms, of dikwels, sooibrand gee nie, is daar iewers fout.

image_pdfimage_print

Views: 27

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.