Van ons Ou Testament redaksie

Hoewel niemand seker onmisbaar is nie, het die vertrek van goewerneur Nehemia na ’n ampstermyn van twaalf jaar ’n baie groot leemte in Judea gelaat. Sedert hy teruggekeer het na Susan om sy taak as skinker van koning Artasasta te hervat, het dinge drasties in Jerusalem verander, en sou ’n mens met reg van ’n geestelike verval in die Dawidstad kon praat.

Dis nie moeilik om voorbeelde van hierdie verval op te noem nie. Die ooglopendste verval is sigbaar by die tempel. Die Leviete het feitlik almal padgegee en gaan boer. Nadere ondersoek het aan die lig gebring dat hulle maande laas hulle aandeel aan onderhoud ontvang het.

Elke tyd het sy eie bepaalde soort leierskap nodig. Die huidige omstandighede vereis ’n ferm hand, maar tog ook een wat die lojaliteit van die bevolking geniet. Só ’n man is Nehemia, sê die skrifgeleerde-priester Esra.

Die feit dat ’n heiden, Tobija die Ammoniet, toegelaat word om die tempel te ontheilig deur in die voorraadkamer van die tempel te woon, toon hoe ernstig die geestelike leiers van koers af is. Tobija is immers daarvoor bekend dat hy die saak van die Judeërs nie goedgesind is nie, en ’n mens kan maar net wonder wat van die tempelvoorrade word terwyl hy daar woon.

’n Ander voorbeeld van die geestelike en morele verval is die blatante wyse waarop die sabbat ontheilig word. Daar word op die sabbat geboer en gepars en handel gedryf net soos op enige ander dag. Verder is ondertrouery met heidennasies aan die orde van die dag. Selfs hoëpriester Eljasib se eie seun is met ’n heidenvrou getroud!

’n Mens kan skaars glo dat hierdie selfde mense enkele jare gelede ’n plegtige ooreenkoms met die Here aangegaan het om vir Hom alleen te lewe en sy gebooie te onderhou.

Dit het dringend tyd geword dat Nehemia weer sy pos as goewerneur van Judea terugneem. Ons het sy ferm hand nou meer as ooit nodig.

  • Lees van hierdie geestelike verval, en Nehemia se ferm optrede om dit reg te stel, in Neh. 13.

 

Koningin Vasti weier koning se versoek; word afgesit

SUSAN. – Die week lange spogonthaal wat koning Ahasveros vandeesweek hier in sy paleistuin vir al die hoë amptenare van sy ryk gegee het, is gister op die laaste dag van die fees lelik ontsier deurdat koningin Vasti geweier het om voor die koning en sy gaste te verskyn.

Koning Ahasveros was volgens ooggetuies woedend, en het die koningin se weiering as ’n persoonlike vernedering beleef. In konsultasie met sy kabinet het hy daar en dan opdrag gegee dat sy as koningin afgesit word.

Volgens ’n mediavrystelling wat die koning se perssekretaris gisteraand uitgereik het, beskou die koning haar optrede in ’n baie ernstige lig, aangesien haar voorbeeld van ongehoorsaamheid en opstandigheid ander vrouens kan aanspoor om ook so ononderdanig teenoor hulle mans op te tree.

Intussen het kampvegters vir vroueregte hier in die stad hulle ontsteltenis oor die onsmaaklike voorval uitgespreek. In ’n verklaring het hulle hulle volle steun aan koningin Vasti toegesê. Die verklaring lui dat dit ongehoord is dat van ’n vrou verwag kan word om soos ’n skoudier voor ’n klomp besope mans te paradeer. Selfs nie die koning behoort só ’n eis te kan stel nie. “Dié optrede tas die menswaardigheid van die vrou aan,” sê die verklaring.

 

SEKTE GROEI BESTENDIG

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die nuwe godsdienstige groep, die “Volgelinge van Jesus,” se ledetal is besig om geleidelik uit te brei, ondanks die streng vereistes wat die bestuur aan sy lede stel. Onlangs is ’n egpaar selfs dood omdat hulle vir die bestuur gelieg het. Blykbaar is die premie op ’n hoë morele lewenspeil juis ’n trekpleister.

 


Staan vas!

’n Mens verwonder jou vir die moed wat Vasti aan die dag gelê het toe sy die koning en al sy drinkebroers getrotseer het, en vir die onverskrokkenheid waarmee Nehemia sake hanteer het.

Iets hiervan is in ons dag weer nodig. Want die omstandighede wat Neh. 13 beskryf, klink helaas alte bekend. Die ontheiliging van die dag van die Here; die ligtelike manier waarop party predikante die amp van leraar verruil vir ’n sekulêre (beter betaalde) betrekking; die tragedie dat geloof dikwels nie meer die deurslag gee wanneer ’n huweliksmaat gesoek word nie – is dit dan ’n wonder dat die kerk weinig te sê het vir ’n moderne samelewing?

Die mense sal eers dán weer die kerk hoog ag (soos in Hand. 5:13), as ons ’n premie plaas op ’n lewe wat aan God toegewy is.

Dit het tyd geword dat ons opstaan en “Nee!” sê.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.