Sy verhaal

Hy kom moeisaam regop en vee met die rugkant van sy hand die sweet en stof uit sy oë. Dis verstikkend bedompig. ’n Parskuip is nie ’n goeie plek om koring uit te slaan nie. Verduiwelse Midianiete. Dis nou al die sewende jaar dat hulle roofbendes die land kom stroop. As die Here hulle net wil help! Hoe gloeiend kon sy oupa tog vertel van die ongelooflike dade van God daar in Egipte, en ook later toe hulle vaders in hierdie land ingekom het!

Hy glimlag wrang, en sug dan diep. Al die plae in Egipte, die verlossing by die Rietsee, die mure van Jerigo wat omgeval het … As daar net nou weer manne soos Moses en Josua onder hulle was, manne van durf en daad, wat die Midianiete op hulle plek kon sit! Dan sou hy nie soos ’n skelm in sy eie parskuip moes wegkruip om ’n bietjie koring uit te slaan nie.

Toe hy opkyk, staan daar ’n man voor hom. “Die Here is by jou, dapper man!”

Hy hoor die man se woorde, en kyk dan half verleë om om te sien of die man nie met ’n dapper ou agter hom praat nie. Want hý is tog nie dapper nie. Dan skuld hy sy kop en sê bitter, voordat hy homself kan keer: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons?” Hy skud sy kop treurig, en vervolg dan: “Nee, Meneer, die Here het ons in die steek gelaat.”


Pas jy dalk in dié storie?

Nogal ’n interessante kêrel, dié Gideon. Sy pa was ’n gesiene inwoner van Ofra. Miskien dié dat Gideon so ’n groot mond gehad het. Hy was nou nie juis ’n man wat skaam was om sy sê te sê nie. Selfs die vreemdeling wat daar in die parskuip na hom toe kom, word nie sy vlymskerp sarkasme gespaar nie. En later, toe dit wil voorkom of die vreemdeling van die Here af kom, sit dit hom nog steeds nie af nie (vers 17).

Tog interessant dat dié voor-op-die-wa mannetjie in ’n parskuip wegkruip om sy koring uit te slaan. Dalk was sy groot mond en oënskynlike bravade teenoor die vreemdeling net ’n front waarmee hy sy eie bangheid weggesteek het. Dalk het hy gedink hy sal ander mense op ’n afstand kan hou met sy oordrewe selfvertroue, sodat hulle nie sal agterkom dat hy ook maar net ’n bang, onseker mens is nie.

 

Hoe nou gemaak?

Laat ek eerlik wees: ék sou nie juis vir Gideon ’n kans gegee het nie. Ons het op skool spottenderwys iemand soos Gideon beskryf as “meer bek as binnegoed”. Dis nie die soort man wat jy nader roep as jy die verlossing van die volk in die oog het nie.

En tog is dit presies wat God gedoen het! Miskien het God Gideon gekies juis omdat niemand iets van hom verwag het nie, om daarmee ondubbelsinnig te laat blyk dat die oorwinning ’n Godsgawe is, nie ’n menseprestasie nie. Maar ek dink nie dis die hele storie nie. God kies vir Gideon omdat Hy in sy jeugdige astrantheid en bravade kwaliteite gesien het wat Hy kon gebruik. In God se hande word Gideon se astrantheid ’n wonderlike bate, want net ’n voor-op-die-wa kêrel soos hy sal die “vermetelheid” hê om met driehonderd man ’n magtige leër aan te durf.

Natuurlik was Gideon nie dadelik gereed vir sy taak nie. Voor hy die Midianiete kon aandurf, moes hy in God se skool eers leer om Hom te vertrou, moes hy ontdek dat die stories wat hy by sy oupa en oupagrootjie gehoor het oor die God van hulle voorvaders, inderdaad nie stories is nie, maar die wonderlike werklikheid.

Aan die begin was hy bitter bang en doen hy sy ding in die nag (vers 27). Maar iewers langs die pad word dié jong grootbek ’n held.

Miskien moet ek en jy nie so maklik ander mense afskryf nie. En miskien moet ons maar weer in die spieël kyk, verby die bekende gesig en die onseker oë. Want as God met jou besig raak, kan daar ongelooflike dinge gebeur. In Psalm 147:10,11 staan daar immers:

Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.

image_pdfimage_print

Views: 131

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.