Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Volk het gesterf. Die magtige ystervuis van Nebukadnesar het die volk Juda verpletter, koning Sedekia gevang, en sy seuns gedood. Talle van die adel van Juda is ook doodgemaak.
Die hoofstad Jerusalem, wat reeds agtien maande lank beleër word, wag nou in spanning vir die onvermydelike uiteinde van dié nagmerrie. Wanneer Nebukadnesar uit Ribla hier aankom, sal die plundering van die stad in alle erns begin.
Politieke kenners voorspel dat Nebukadnesar nie net die stad sal platvee en verbrand nie, maar ook die room van die land se inwoners in ballingskap sal wegvoer. Net die eenvoudiges en die sukkelaars kan nou redelik gerus slaap met die wete dat hy hulle waarskynlik met rus sal laat, omdat hulle nie ’n bedreiging vir sy gesag in Palestina inhou nie. Vermoedelik sal hy ’n regent aanstel om in koning Sedekia se plek die land te regeer.
Die lot van die twee-en-dertigjarige koning Sedekia is onseker. Berigte lui dat hy in die nag uit die stad probeer vlug het, maar op die Jerigovlakte gevang is en na Nebukadnesar in Ribla gebring is om verhoor te word. Nadat hy moes toekyk hoe sy eie seuns geslag is, is sy oë uitgesteek, en is hy in bronskettings geboei en na Babel geneem. Na verwagting sal hy daar tereggestel word.
Intussen is die situasie in die stad haglik. Kos is totaal onverkrygbaar, aangesien Nebukadnesar se magte nou al vir die tweede agtereenvolgende seisoen die lande se oeste gevat het. Ten spyte van koning Sedekia se gevangeneming word die stad steeds beleër.
Godsdiensleiers hier in die stad is steeds hoopvol dat Jahwe sal ingryp om Nebukadnesar te stuit. Die profeet Jeremia het egter gewaarsku dat dit ’n ydele hoop is. “Ek het in die Naam van die Here by koning Sedekia gepleit dat hy hom moet oorgee aan Nebukadnesar. God sou hom én die stad dan gespaar het. Hy wou egter nie op God vertrou nie en het hardkoppig gebly. Nou is daar geen uitkomkans meer nie. Die oordeel van die Here het ons ingehaal,” het Jeremia gesê.
- Lees hierdie hartverskeurende verhaal in 2 Kon. 25. Kyk gerus ook na Jer. 38:14–39:18.
VERLOWINGS
BEN JAKOB – BAT ELI
Hiermee maak Josef, oudste seun van Jakob ben Mattan van Betlehem, en Maria, jongste dogter van Eli ben Mattat van Nasaret, hul verlowing aan familie en vriende bekend.
- Lees hiervan in Matt. 1:18-25.
Die sekerheid wat ons nodig het
Die val van Jerusalem en die vernietiging van die staat Juda is ’n verontrustende vingerwysing vir hulle wat ewe gemaklik God se sorg vir hulleself en ons land opeis, asof dit sou beteken dat alles in ons land en persoonlike lewe goed moet gaan. “God sal nooit toelaat dat …” is ’n uitdrukking wat dikwels in dié verband gebruik word, ook nou tydens die pandemie.
Alles het inderdaad nié goed gegaan in Jerusalem nie, al was daar mense wat gesê het God sal nie toelaat dat die stad in die hande van heidene val nie. En laat ons nie ons troos daarin soek dat hulle dit verdien het om onder te gaan nie. Opregte mense soos Jeremia is net soos die goddeloses deur die val van Jerusalem getref. En tog laat God dit toe. Trouens, Hy het dit self so beskik!
Miskien moet ons raaksien dat daar méér op die spel was as net die persoonlike geluk van God se kinders. Juda was immers veronderstel om die draer van die goeie nuus te wees dat God hierdie wêreld lief het en nooit sal prysgee nie. En in hierdie roeping het hulle jammerlik gefaal. Juda het sy bestaansreg as volk verloor omdat hulle opgehou het om Godsvolk te wees, opgehou het om die lig vir die wêreld te wees, begin het om eie ideale en eie gode voor God te stel.
Nie dat God daarmee die wêreld prysgee nie. Die ondergang van Juda was immers ’n suiweringsproses, sodat die geloof brandend kon bly, en daar ’n takkie uit die stomp van Isai kon uitspruit om die wêreld te red: Jesus Christus (Jes. 11:1).
As ons verstaan dat God hierdie wêreld nooit sal prysgee nie, dat sy wil uiteindelik sál seëvier, dat die duiwel nie die wêreld uit sy hand kan ruk nie, dan het ons al die sekerheid wat nodig is om met geloofsvertroue elke dag te leef. Dis nie ’n waarborg dat alles met my persoonlik goed sal gaan nie. Maar dis ’n waarborg dat God my ook nie uit sy hand sal laat glip nie, selfs in benoudheid (Ps. 23:4).