Kom ek toets ’n bietjie jou geheue: wat is die naam van die eerste losser, die man wat op die ou end toe nié die stuk grond van Naomi gekoop het nie? Die man wat gesê het hy sien nie kans nie; wat sy skoen uitgetrek het en in Boas se hand gestop het met die woorde: “Jy kan dit maar koop.” Wat was sy naam?
Terloops, ek is darem baie bly ons sluit nie meer ’n transaksie deur ’n skoen uit te trek en vir die ander een te gee nie! Ek onthou ek het iewers gelees van ’n man wat beboet is omdat hy sy skoene in die biblioteek uitgetrek het …
Maar om terug te kom na my vraag: Wat was daardie eerste losser se naam? Toemaar, jy het nie so sleg onthou soos jy dalk dink nie. Die verteller van die Rut-verhaal noem nie sy naam vir ons nie. Waarom sou hy dit nie doen nie? Sou dit wees dat hyself nie geweet het wat die man se naam is nie? Nee, dit kan tog nie wees nie. Hy is daarvoor té goed ingelig. Hy weet wie al die ander karakters in die verhaal was: Naomi en haar man Elimelek, hulle seuns Kiljon en Maglon, en haar skoondogters Orpa en Rut; die boer Boas en die seuntjie Obed wat later gebore is. Almal word by die naam genoem, hoewel Elimelek, Kiljon, Maglon en Orpa glad nie eintlik in die verhaal optree nie.
As ’n mens jou nou indink in die situasie destyds, kan jy verstaan dat hy almal op die naam geken het. Dit was maar ’n klein gemeenskap op die dorp Betlehem; nog meer so as Petrusburg. Julle sal dit baie goed verstaan. Almal ken mos almal. Almal weet min of meer alles van mekaar, van hulle vreugdes en teleurstellings, hulle prestasies en hulle skandes. In die verhaal van Rut is dit ook so. Daar was nie geheime vir mekaar nie. As Boas byvoorbeeld by sy lande aankom en ’n vreemde vrou daar sien, vra hy sy voorman wie sy is, en toe dié vir hom sê dis Rut, weet Boas presies wie sy is. Hy sê vir haar: “Ek weet van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het …” (2:11)
Jy sien, die feit dat die verteller nie vir ons sê wat die eerste losser se naam is nie, is nie omdat hy nie geweet het wat sy naam was nie. Hy het baie goed geweet, want hy het die man uit sy kop geken. Waarskynlik was die man nog ’n familielid van hom. Maar hy noem nie sy naam nie, want hy voel dis nie die moeite werd dat ons sy naam weet nie. Die man is dit nie werd dat ons hom sal onthou nie, want hy is nie soos Rut en Boas nie. Hy sien nie kans om sy verantwoordelikheid teenoor sy medemens – in dié geval twee arm weduwees – na te kom nie. Hy wil nie die tweede myl saamloop, om nou maar die woorde van die Here Jesus te gebruik nie. En op ’n ander plek (Mat 5:20) sê die Here: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Want dít is een van die dinge wat die verteller van die verhaal Rut ons wil laat verstaan: dat ’n mens nie met die minimum tevrede moet wees nie. Ek het ’n klasmaat op skool gehad wat oor hierdie einste punt baie met my baklei het. Sy was sommer ontevrede met my as ek teleurgesteld is in ’n toetspunt of ’n eksamenpunt, hoewel ek goed geslaag het. Sy het gesê sy dra ’n nommer ses skoen en daarom koop sy nie ’n nommer agt nie. Net so, het sy geredeneer, moet ’n mens nie 80% wil hê as 60% goed genoeg is nie.
Die verteller van die boek Rut sou glad nie met my klasmaat saamgestem het nie. Vir hom was 60% nie goed genoeg nie; hy was met niks minder as 100% tevrede nie. Daarom is hy teleurgesteld in die eerste losser, wat nie kans gesien het om sy plig teenoor Rut en Naomi na te kom nie. Dis nie dat hy buite sy reg opgetree het nie. Hy kón maar teruggestaan het en sy lossersreg aan vir volgende losser oorgedra het, soos hy gedoen het, maar só hoort dit nie by ’n gelowige nie. ’n Gelowige kyk nie met hoe min hy verby kan kom nie. Hy vra nie: wanneer het ek genoeg gedoen nie. Hy gee sy alles.
In Luk 9:62 sê die Here ook: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” ’n Halfhartige gelowige is vir God nie goed genoeg nie, want Hý is nie halfhartig nie. Hy gee sy alles. Jesus het ons liefgehad tot die dood toe, sodat Hy ons God se kinders kon maak. Daarom kan ons vanoggend die nagmaal vier.
Jesus het iets daarvan geïllustreer by die ete waar Hy die nagmaal ingestel het. Julle onthou mos dat Hy ’n waskom gevat het en almal se voete gewas het; iets waarvoor die dissipels nie kans gesien het nie. Dit was nie Jesus se werk nie, en tog doen Hy dit. En dan sê Hy: “Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” Nie 60% nie. 100%. Dís Jesus. En dis hoe ek en jy moet wees as sy volgelinge. Ons mag nie met middelmatigheid tevrede wees nie, want ons Here is nie ’n middelmatige Here nie.
Om terug te keer na ons verhaal: die verteller van hierdie verhaal wil ons laat verstaan dat net ons alles goed genoeg is. Eers dán is jy werd om onthou te word; eers dán verdien jou naam om genoem te word. Daarom is die seënbede wat die vrouens oor Naomi se kleinkind uitspreek (4:14) baie veelseggend as hulle sê: “Mag die losser se naam bekend wees in Israel …”
Miskien moet ons maar almal vanoggend oor hierdie saak voor die Here stil word: Is jy een van dié wie se naam onthou sal word? Is jy ’n Boas-gelowige?
Amen.