Van ons Ou Testament redaksie

HOREB. – ’n Reisiger wat hier oornag het, het gister vertel van die nagmerrie-ondervinding wat hulle op pad hierheen beleef het.

Moses seun van Amram is met sy vrou, Sippora, en sy kinders op pad van Midian na Egipte. Enkele dae gelede, terwyl hulle langs die pad oornag het, het die God van sy vaders hom aangeval. Hy sou hom inderdaad doodgemaak het as sy vrou nie kopgehou het nie. Sy het ’n klipmes gevat en daar in die middel van die nag haar seun, Gersom, besny en die bloed aan haar man se voete gesmeer.

Toe het God Moses met rus gelaat.

Op ’n vraag waarom sy haar seun besny het, het Sippora geantwoord: “My kind is nog nooit besny nie, ondanks die uitdruklike bevel van God. Toe God my man aanval, het ek dadelik besef dit moet die rede wees.”

 

Esra stuur al die vreemde vrouens weg

JERUSALEM. – Die priester Esra het gister in ’n proklamasie “Operasie Regruk” aangekondig waarvolgens al die vreemde vrouens en hulle kinders gedeporteer moet word.

Dit het naamlik aan die lig gekom dat daar grootskaalse ondertrouery tussen die Jode en heidense vrouens plaasgevind het. Selfs die priesters en Leviete het hulle hieraan skuldig gemaak. Toe Esra hiervan verneem, het hy sy klere geskeur, sy baard uitgetrek en verslae gaan sit, omdat hy gevrees het dat dit die einde van die Godsvolk kan beteken.

Die proklamasie lui dat elke Jood wat met ’n vreemde vrou getroud is, hom by die regters van die stad waar hy woon, moet aanmeld, sodat die regters sy huwelik op ’n ordelike wyse kan ontbind.

 

EK HET DIE VERLOSSER GESIEN, SÊ GRYSAARD

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Daar was ’n klein opskudding by die tempel toe ’n ou man, Simeon, ’n babaseuntjie uit die arms van sy moeder geneem het en God geprys het “omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke”.

Die seuntjie van wie hierdie wonderlike dinge gesê is, is Jesus, eersteling van Josef seun van Jakob en sy vrou, Maria. Hulle het tempel toe gekom om hulle seuntjie as eersteling aan God te wy, en vir die voorgeskrewe reinigingsoffer vir sy moeder.

Terwyl Simeon nog gepraat het, het die profetes Anna dogter van Fanuel nader gekom en God gedank en oor die seuntjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

Een van die priesters wat daar diens gedoen het, Sagaria, het aan ons gesê dat dit duidelik is dat God op ’n besondere manier besig is om die verlossing waarop hulle almal al so lank hoop, gestalte te laat kry. “Wat ’n voorreg om in hierdie tye te lewe,” het hy met trane in sy oë gesê.

 


God se aanspraak op jou lewe

Die berig oor Moses se nagtelike ervaring besorg talle probleme vir Skrifverklaarders. Oor een saak is die meeste dit egter eens: Moses, as uitverkore werktuig van God, kan eers met sy opdrag begin as hyself bereid is om sy hele lewe in gehoorsaamheid aan God te wy. Hierdie gehoorsaamheid het die besnydenis van sy seun ingesluit. Die besnydenis was immers die teken van hulle besondere verbondenheid aan God.

’n Mens kan God nie halfhartig dien nie. Hy vra immers ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand (Matt. 22:37). Daarom is Esra so ontsteld as hy hoor van die ondertrouery met die heidene – nie omdat die vrouens nie Jode was nie, maar omdat hulle heidense gode gedien het en die gevaar dat hulle die volk tot afgodsdiens sal verlei, ver van denkbeeldig was. Omdat God dit geweet het, het Hy ’n wet gemaak dat daar nie ondertrou mag word met heidene nie. Esra besef dat dit hier om baie meer gaan as maar net die verbreking van ’n wet van God. Dit gaan letterlik hier om die behoud van die geloofslewe van die volk Israel.

Ook vir Jesus het die voorskrifte volgens die wet van Moses gegeld. Hy het immers volledig mens geword. Daarom was Hy en sy ouers gehoorsaam aan die eise van God se Woord. Daarom laat hulle Hom besny en bring hulle die voorgeskrewe offers.

Dit gebeur ongelukkig vandag te maklik dat mense die eise van God se Woord afmaak as van minder belang. ’n Mens wat verstaan dat die eise van God nie daar is om ons pret te bederf nie, maar om ons te help om te bly glo, sal nie vasgeknel voel deur die wet van God nie, maar ontdek dat God daardeur vir ons ’n ruimte afbaken waarbinne ons veilig en geborge onsself kan uitleef as sy kinders. G’n wonder nie dat Dawid in Ps. 119:97 uitroep: “Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by.”

Verbly jou tog vandag in God se aanspraak op jou lewe!

image_pdfimage_print

Views: 8

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.